Monday, 15 June 2009

Manyathi tot Vrydag gegee

Die Wes-Kaapse hoof van openbare werke en vervoer is tot Vrydag gegee om te motiveer waarom hy nie geskors moet word hangende ’n ondersoek na tenderonreëlmatighede in sy departement nie.

Premier Helen Zille het nie details verskaf oor die beskuldigings wat na Thami Manyathi geslinger is nie, maar gesê daar is prima facie bewyse van “growwe wanoptrede”.

Manyathi se departement word onder meer ondersoek vir die toekenning van ’n R91 miljoen vervoerkontrak wat na die Amerikaans-besitte Games Transportation Systems Services gegaan het. Daar is na bewering weinig poging aangewend om te bevestig dat geen plaaslike maatskappye die werk kon doen nie.