Friday, 10 July 2009

Taxitaakspan vlek sindikaat oop

’n Noordwes-taxitaakspan het korruksie blootgelê wat onder andere die vervaardiging van vervalste lisensies behels, het die LUR vir openbare veiligheid, Howard Yawa, Vrydag gesê.

"Die operasie het ’n sindikaat oopgevlek wat verantwoordelik is vir die vervaardiging van onwettige bestuurslisensies, huweliksertifikate, geboortesertifikate, motorregistrasiesertifikate en enige ander amptelike dokument waarvoor ’n mens moet betaal,” het hy tydens sy begrotingstoespraak in Mmabatho gesê.

Twaalf verdagtes is gearresteer vir die besit van masjiene wat vir die vervalsing van dokumente gebruik kan word.

5 Roadlink-slagoffers geïdentifiseer

Vyf van die sewe slagoffers wat in Dinsdag se Roadlink-busongeluk by Beaufort-Wes dood is, is geïdentifiseer, het die Wes-Kaapse polisie Vrydag gesê.

Drie van hulle was van Zimbabe, een van die Kongo en een van Lesotho. Van die liggame is reeds na hul tuisdorpe gestuur om begrawe te word. Twee ander slagoffers is nog nie geïdentifiseer nie. Vyftig mense is in die ongeluk beseer.

Die bus het buite beheer geraak op die N1 onderweg van Johannesburg na Kaapstad. Die busbestuurder en sy medebestuurder is nie beseer nie.

Reeksverkragter kry lewenslank x 5

Die reeksverkragter Tsediso Letsoenya is Vrydag vyf keer lewenslank en met ’n bykomende 243 jaar tronkstraf gevonnis op aanklagte van verkragting, poging tot verkragting, onsedelike aanranding en roof met verswarende omstandighede.

Die 38-jarige bevare seeman het in die Kaapse Hooggeregshof voor regter Abe Motala en twee assessore verskyn.

Letsoenya sal eers na 25 jaar vir parool in aanmerking kom. Hy het twee jaar lank ’n skrikbewind op die Kaapse Vlakte en saans by swak verligte stasies gevoer.

Eerste varkgriepgeval in N-Kaap

Die eerste geval van varkgriep in die Noord-Kaap is Vrydag aangemeld, het die provinsiale departement van gesondheid gesê.

Volgens woordvoerder Andrid Scholtz is ’n 20-jarige vrou Sondag met die H1N1-griepvirus gediagnoseer. Sy is onmidellik tuis onder kwarantyn geplaas.

Hy sê die pasiënt was steeds by die huis en haar toestand was “bevredigend”. Sy het die virus aangesteek by iemand wat in Johannesburg met varkgriep gediagnoseer is. Almal met wie sy in kontak was, word gemonitor.

Daar is nou 48 varkgriepgevalle in Suid-Afrika.

Supermark verkoop hospitaalkos

’n Sakevrou van Mamelodi is gearresteer nadat hospitaalkos ter waarde van R50 000 in haar supermark gekry is.

Die voedselvervaardiger Mealtime in Enkangala het ’n saak van bedrog geopen toe hulle onraad begin vermoed het. Mealtime verkoop die kos net aan staatshospitale, -tronke en -voedingskemas.

Daar word beweer dat die vrou deel is van ’n sindikaat wat voedselvervaardigers onder valse voorwendsels besteel.

Bewerings oor Zuma-woordvoerder

Daar is bewerings dat die nuwe hoof van kommunikasie in die Presidensie, Vusi Mona, betrokke was in ‘n omkoopskema, is Vrydag berig.

Dit het te make met ‘n 2003 tender van R32m wat deur die Mpumalangase regering toegestaan is aan ‘n maatskappy wat na bewering behoort aan Mona se besigheidsvennoot.

Provinsiale beamptes wat met die saak verbind word, staan tans tereg op aanklagte van omkopery in Nelspruit.

Haai 'nes 'n Rottweiler'

Die Kapenaar, Paul Buckley, 37, het die haai gehoor voor dit hom aangeval het.

”Dit was soos ‘n 500-pond Rottweiler in ‘n slegte bui.”

Die branderplankryer is in die see by Stilbaai aangeval deur die haai wat sy been gebyt het voordat hy hom weer laat gaan het. Buckley het strand toe geswem vanwaar hy hospitaal toe geneem is en sy been toegewerk is.

Ma vir moord gearresteer

‘n Johannesburgse ma word verdink daarvan dat sy haar seun vermoor het.

Die 18-jarige vrou is gearresteer vir die dood van haar nege-maande-oue babaseuntjie in Thembisa.

Die baba is na bewering verwurg.

Winkelsentrumdak stort ineen

Die dak van Durban se Newlands winkelsentrum het Donderdagmiddag ineengestort.

Elf mense is ernstig beseer en drie ander het ligte beserings opgedoen.

Paramedici het nog tot laat Donderdagaand deur die ongelukstoneel na beseerdes gesoek. Die gebou is onveilig verklaar.

Irma Labuschagne sterf

Die bekende kriminoloog, Irma Labuschagne, is Donderdag aan kanker oorlede.

Sy het gesterf in ‘n hospitaal in Pretoria op die ouderdom van 70. Sy was nog veronderstel om te getuig in die saak van die Skierlik-aanvaller, Morné Harmse, maar kon weens ‘n gebreekte been nie hof toe gaan nie.

Labuschagne, een van die land se mees bekende forensiese kriminoloë, het getuig in sake soos die Najwa Petersen en Mark Scott-Crossley verhore. Sy het die land se eerste verkragtingskrisis-sentrum gestig en was jare lank direkteur van die Pretoria Rape Crisis Centre.

Drama by Brits myn

Honderde mynwerkers hou steeds sewe opsigters as gyselaar ondergronds by ‘n platinum- en chroommyn naby Brits.

Polisiewoordvoerder Lesego Metsi het gesê daar is aanvanklik gedink dat vier mense gevange gehou word, maar dat hulle later gehoor het dat daar agt mense was. Een het reggekry om te ontsnap.

Die polisie onderhandel met die sowat 400 mynwerkers wat dreig om ondergronds te bly met hul gyselaars totdat aan hul eise voldoen word.

Thursday, 09 July 2009

N2-oortreders vasgevat

Kaapstad se Verkeerspolisie het Woensdagoggend 142 motoriste wat onwettig in die bus- en taxi bane op die N2 gery het, beboet.

Die oortreders is in die Raapenberg Pad-area vasgevat.

Boetes is ook uitgereik aan 40 ongelisensieërde bestuurders, 33 ongelisensieërde voertuie en 13 taxi bestuurders wat oorvol voertuie bestuur het.

Niehaus vra 'n tweede kans

Die voormalige ANC woordvoerder, Carl Niehaus, het Donderdag gesmeek vir ‘n tweede kans, en wil graag sy foute van die verlede in ere herstel.

Dit was die eerste keer wat Niehaus in die openbaar gepraat het sedert hy in Februarie as woordvoerder bedank het. Volgens hom het hy intussen tyd gehad om na te dink oor sy foute, en is hy tans in rehabilitasie.

“Wanneer ek om vergiffenis vra, probeer ek nie verantwoordelikheid ontduik nie. Ek wil egter nie bekend staan as die persoon wat die verkeerde besluite geneem het nie, maar eerder as die persoon wat die regte besluit gemaak het, deur op die ouderdom van 19 by die ANC aan te sluit,” het Niehaus gesê.

NUM: Staking is nie teen regering gemik

Die Nasionale Unie van Mynwerkers (NUM) het Donderdag gesê die konstruksiestaking is nie daarop gemik om die regering se sokker Wêreldbekerprojekte te ondermyn nie.

“Ons baklei nie teen die regering nie. Ons baklei teen die konstruksiemaatskappye wat tonne geld van die regering ontvang, maar ons nie goed betaal nie. Ons wil na ons gesinne omsien, en daar is genoeg geld om ons goed te betaal,” het NUM se woordvoerder, Mzoxolo Phoswa, gesê.

Volgens Phoswa hoop die unies wat by die staking betrokke is, dat die wêreldbeker ‘n sukses sal wees.

Winne se "beste vriendin" oorlede

Xoliswa Falati, Winnie Madikizela Mandela se eertydse beste vriendin wat later haar geswore vyand geword het, het gesterf.

Falati is in die Charlotte Maxeke Akademiese Hospitaal oorlede, nadat sy vir longontsteking opgeneem is.

Falati was vir meer as ‘n jaar siek gewees, en het ten tyde van haar dood in ‘n versorgingseenheid gewoon.

Malema laat vaar beswaar

Julius Malema se regsverteenwoordiger het die beswaar wat aangebring is teen die “haatspraak” klag teen hom, laat vaar.

Prokereur Tumi Mokwena het die beswaar dat die Sonke Geslagsgelykheids NRO se klag teen hom “vaag en ‘n verleentheid” is, teruggetrek, nadat dit aan die lig gekom het dat Malema nagelaat het om die volledige dokumentasie van Sonke te lees.

Sonke het Malema na die Gelykheidshof geneem nadat hy gesê het die vrou wat President Jacob Zuma van verkragting aangekla het, moes haarself eerder geniet het.

Rower in supermark toegesluit

‘n Rower is Donderdag in ‘n Tembisa supermark toegesluit nadat die winkeleienaar se broer vinnig gedink het nadat hy “iets ongewoon” gesien het, het die Oos-Randse polisie gesê.

Polisiewoordvoerder kaptein Manyadza Ralidzhizha het gesê twee mans het hulself as klante voorgedoen. Die broer het gesien een van die mans het ‘n geweer en het vinnig die winkel gesluit en die polisie gaan roep.

Toe hulle op die toneel kom, het hulle ‘n 35-jarige man binne aangetref met ‘n ongelisensieerde vuurwapen. Hy is gearresteer.

R6m vir kontrak van R500m

‘n Oos-Londense boumaatskappy het gesê hy is gevra vir R6 miljoen omkoopgeld om ‘n kontrak te bekom om ‘n 2010 Wêreldbeker-stadion te bou in Mthatha, het ‘n berig Donderdag gesê.

Twee mense het glo Rumdel Construction genader en aangebied om ‘n R500m kontrak vir die maatskappy te verkry.

‘n Ondersoek na die bewerings het glo gelei tot ‘n senior munisipale beampte wat op spesiale verlof geplaas is.

Kapenaar oorleef vliegongeluk

‘n Kaapse besigheidsman het ‘n vliegtuigongeluk oorleef wat sy vliegtuig heeltemal vernietig het.

Ross Leighton van Constantia het Donderdag nog herstel van ‘n operasie op sy hand, knieë en neus.

Vriende het gesê dat hy oorleef het was ‘n “wonderwerk”. Sy klein vliegtuigie se een vlerk het glo vasgehaak aan Eskom kragdrade en grond toe getuimel naby Victoria Wes.

13-jarige in bordeel gevind

Die KwaZulu-Natalse polisie het ‘n 13-jarige meisie in ‘n bordeel aangetref en vermoed dat sy van die Oos-Kaap gesmokkel is na die bordeel en kroeg in Chatsworth, Durban.

Die tiener was glo die “meisie” van ‘n man in sy dertigs wat haar na bewering seksueel misbruik het.

Die geval het die polisie se aandag gevestig op SA kinders van plattelandse dorpe wat stede toe gebring word waar hul misbruik word.

Maatskappy 'steel' R58m

Die Gautengse provinsiale regering het nog steeds nie opgetree teen ‘n boumaatskappy wat R58m ontvang het om huise te bou nie maar nie ‘n enkele huis gebou het nie.

Die voormalige Gautengse premier, Mbhazima Shilowa, het twee jaar gelede gesê hy gaan die geld probeer terugkry van Bahlodi Construction Consortium en het gekeer dat verdere werk aan hulle toegestaan word.

‘n Regeringswoordvoerder het gesê regstappe sal teen die maatskappy geneem word.

Wednesday, 08 July 2009

‘Wapenskandaalaktivis het nie saak’

President Jacob Zuma sê teen-korrupsievegter Terry Crawford-Browne “kon nie ’n saak maak” teen die regering in sy hofstryd oor die omstrede multimiljard-rand wapentransaksie nie en gesê sy aantygings is “vaag en ’n verleentheid”.

C-Browne het die president beskuldig daarvan dat hy sy land gefaal het toe hy nie ’n onafhanklike kommissie van ondersoek na die korrupsieaantygings aangestel het nie.

Hofstukke het getoon dat emiritus-aartsbiskop Desmond Tutu en voormalige president FW de Klerk in ’n ope brief die destydse president Kgalema Motlanthe gevra het om ’n kommissie van ondersoek te aan te stel, maar dat dit afgekeur is.

Odendaal wil in politiek bly

Voormalige Cope-adjunk, Lynda Odendaal, wat pas uit die party bedank het, sê sy gaan nie uit die politiek beweeg nie. Sy het geweier om redes vir haar vertrek te gee en gesê sy beplan ’n perskonferensie later vandeesweek.

Sy het ook nie die moontlikheid uitgesluit dat sy by ’n ander politieke party sal aansluit nie. “Ek sal nie noodwendig by ’n ander party aansluit nie, daar is baie opsies.”

‘Rapporteer onwetlike werkgewers’

Minister van Arbeid Membathisi Mdadlana het werkers aangemoedig om klagtes oor enige onwetlike optrede deur werkgewers by hul naaste arbeidskantoor te lê, ná berigte dat huiswerkers by Parlementswonings in Acacia Park Village, Goodwood, Kaapstad, minder as die minimumloon betaal word en dat hulle nie by die Werkloosheidsversekeringsfonds geregistreer is nie.

Een vrou het beweer sy moes haar werkgewer op haar afnaweek ’n massering gee sonder ekstra betaling. Mdladlana het onderneem om ondersoeke in die buurt te onderneem om beskuldigings te verifieër.

ANC onder skoot oor SABC-raad

ANC-hoofsweep Mathole Motshekga het erken die proses om ’n tussentydse SABC-raad aan te wys, was foutief en dat hulle onderneem om dit reg te stel.

Motshekga sê hulle was onder druk om te verseker dat hulle opgeleide persone vir die tussentydse raad verkies en sê die ANC het nie sy alliansievennote se voorstellings opsetlik geïgnoreer nie.

Daar word bespiegel dat Cosatu arbeidstransportleier Randall Howard op die raad wou hê en dat hulle ongelukkig is oor die voorsitterskap van sakevrou Irene Charnley en haar adjunk, Dr Phil Atimkulu van Unisa.

Ons was nie verkeerd - Lekota

Cope se president, Terror Lekota, hou vol sy party het nog ’n belangrike rol te speel, aldus ’n radioberig.

“Dit was nie verkeerd om Cope te stig op die tydstip toe ons dit gedoen het nie.”

Dit volg ná die party se tweede adjunk-president, Lynda Odendaal, uit die party en die Parlement bedank het en komiteelid Simon Grindrod as partyhoof van verkiesings bedank het. Grindrod het die party ’n “groot bedrogspul” genoem.

Bomplanter gaan tronk toe

‘n Man is 74 jaar lank tronktoe gestuur vir die opblaas van OTM-masjiene, het die polisie Woensdag gesê.

Musa Nene is skuldig bevind op drie klagtes van poging tot moord, drie klagtes van kwaadwillige beskadiging aan eiendom, asook op ‘n klagte van diefstal en poging tot diefstal.

Hy vlug al twee jaar vir die polisie en is gearresteer in Julie 2008.

Baba in die kop geskiet

Rowers het ‘n baba van 16 maande oud in die kop geskiet gedurende ‘n rooftog in Eersterus, Pretoria, het die polisie laat blyk.

Kaptein Johannes Maheshu het gesê die twee rowers het ingebreek by ‘n familiehuis, die man vasgebind en sy dogters en vrou aangehou terwyl hulle die huis geplunder het.

Tydens die rooftog is die baba doodgeskiet.

Polisie soek steeds vermiste man

Die polisie en reddingswerkers sit Woensdag die soektog voort na ‘n man wat na bewering sy motor by ‘n krans afgery het tot in die see tussen Gordonsbaai en Rooi Els.

Die voorval het glo Saterdagaand plaasgevind.

Teen Woensdagoggend kon die polisie nog nie bevestig of die bestuurder van die motor Henk Fronneman, 36, van Somerset-Wes was nie. Hy is Saterdagaand as vermis aangegee.

Cope 'het groot probleme'

Simon Grindrod, ‘n prominente figuur in die Cope politieke party, het Dinsdag bedank uit sy posisie by die party.

Hy het ‘n aanval geloods teen die partyleierskap en het gesê, “Suid-Afrikaanse kiesers is bedrieg en ek wil nie langer deel daarvan wees nie.”

Hy het gesê die party het groot probleme, van leierskapspanning tot ‘n mors van geld en geen regte poging om ‘n verskil te maak nie.

Pta polisie dronkgeslaan

Die Pretoriase polisie het nog geen idee omtrent die identiteit van die vrou wie se bolyf gevind is in ‘n brandende tas in Sunnyside nie.

Woordvoerder Aveline Hardaker het gesê ‘n lykskouing is Dinsdag gehou maar kon nie die uitslag bekend maak nie. Die vrou se kop is ook nog nie gevind nie.

‘n Voetganger het die brandende tas gevind op ‘n rivieroewer in Sunnyside. ‘n Dag later, is die arms en bene van die vrou gevind, toegedraai in plastiek in ‘n asblik.

Tuesday, 07 July 2009

Scopa halt verhoor

Die Parlement se Staande Komitee op Openbare Rekeninge (Scopa) het ’n verhoor oor ’n verdoemende verslag oor ’n Kaapstadse behuisingskema uitgestel na ’n “onsamehangende” respons van die amptenare verantwoordelik vir dié projek.

Die N2 Gateway-behuisingsprojek sou behuising verskaf langs die N2, tussen Bhunga-laan naby Langa en Boys Town in Kruispad. ’n Verslag wat verlede jaar uitgereik is, het egter ’n aantal onreëlmatighede uitgewys, soos dat die sakeplan vir die projek nie goedgekeur is voor konstruksie begin het nie. Geotegniese opnames oor grondprobleme is ook nie afgehandel nie.

Besnydenis eis lewe

Nog ’n seun is dood ná ’n besnydenis in die Oos-Kaap skeefgeloop het, wat die dodetal op 27 te staan bring, aldus die polisie.

Superintendent Mzukisi Fatyela sê die 17-jarige seun is by ’n inisiasieskool buite Mtatha dood. Talle bewusmakingsveldtogte oor die gevare van onwettige inisiasies is geloods, maar volgens Fatyela hou sommige ouers steeds aan om hul kinders na dié skole te stuur.

Hy sê drie mense is reeds dié winter in hegtenis geneem.

Skietwet bekyk

As die polisie die reg sou kry om te dood te skiet, sou talle onskuldige mense sterf, meen die KwaZulu-Natalse geweldsmoniteerder Mary de Haas.

“Polisie word opgelei om te skiet om te ontwapen, nie om dood te maak nie.”

De Haas het reageer op berigte dat die Polisieminister Nathi Mthethwa gesê het hy wil die apartheid-styl Afdeling 49 van die Kriminele Prosedure-wet herinstel, wat die polisie meer mag sal gee om voortvlugtende verdagtes dood te skiet en dat dit die “sterfte van polisielede sal verminder”.

Sterk weer hinder polisie

Polisie het weens die sterk wind en ruwwe see hul pogings om ’n motor uit die Steenbrasriviermond te verwyder, gestaak.

Daar word vermoed die bestuurder het die pad byster geraak en in die see naby Gordonsbaai beland. Daar was geen aanduidings of daar mense in die motor was nie. Polisieduikers sal terugkeer wanneer die weer opgeklaar het.

Brits-boer kom voor

Cosatu-hoof Zwelinzima Vavi het saam met 200 Cosatu-lede na die Madibeng-landdroshof in Brits opgeruk en geëis dat die hof die R7 000 borgtog wat aan ’n boer van Brits, Dawie Swart, 55, toegestaan is, teruggetrek word.

Swart het na bewering op die 26-jarige Nchocho Ntoagae en drie tieners geskiet ná hy die vier glo beskuldig het daarvan dat hulle lemoene op sy plaas gesteel het. Een tiener het ernstige oogskade opgedoen en die res is vir ligte beserings behandel.

Drie sterf in busongeluk op N1

Ten minste twee mans en een kind is dood in ‘n busongeluk wat Dinsdagoggend op die N1 buite Beaufort-Wes plaasgevind het.

‘n Road Link bus was betrokke in die ongeluk, wat 7h00 plaasgevind het.

Die bus was onderweg van Johannesburg na Kaapstad. Daar was ongeveer 40 passasiers op die bus.

Paartjie in hegtenis na ontvoering

‘n Paartjie van Florida, aan die Johannesburgse Wesrand, is Maandag in hegtenis geneem op aanklagte van ontvoering, mensehandel en afpersing nadat ‘n Zimbabwiese vrou na bewering ontvoer is.

Die 38-jarige man en 32-jarige vrou het die 19-jarige ontvoerde vrou ‘n week gelede vanaf Zimbabwe gebring, onder die voorwendsel dat sy hier gaan werk.

Die paartjie het toe egter R1 800 afpersgeld van haar broer geëis. Hulle is by die afgespreekte ontmoetingspunt in hegtenis geneem.

Hulle sal Woensdag in die Roodepoort Streekshof verskyn.

Canal Walk weer geteiken

Vyf mans, gewapen met slegs ‘n koevoet, het Maandagaand ‘n juwelierswinkel in Canal Walk beroof.

Dit is nie bekend hoeveel juweliersware gesteel is nie.

Dit is die derde inbraak-insident binne een maand wat by die sentrum plaasvind.

Niemand is in die voorval beseer nie.

Onwettige taxi's kry nog 'n kans

Onwettige taxibestuurders in die Kaapstad omgewing wat sonder permitte werk, sal binnekort die geleentheid kry om ook in die stad se multimiljoen rand sisteem (IRT) geïntegreer te word.

Sodra die nuwe sisteem in werking tree, sal die huidige taxi permitte verval, wat alle taxibestuurders die geleentheid sal gee om deel te wees van die IRT.

Die bestuurders sal by die stad geregisteer wees, en sal spesiale IRT-opleiding ontvang.

MTN-kompetisie gestaak

‘n Kontroversiële SMS-kompetisie wat deur die selfoonmaatskappy MTN aangebied is, is Sondag gestop, meer as ‘n maand voor die beplande sluitingsdatum op 9 Augustus.

Die MTN15-kompetisie is aangebied ter viering van die selfoondiensverskaffer se 15de verjaarsdag. Dit het verlede maand aan die lig gekom dat die wenners van ‘n Toyota Fortuner presies geweet het hoeveel SMS’e hulle moet instuur ten einde te wen.

Een wenner het gesê hy het toegang tot inligting gehad wat aangetoon het hoeveel punte hy het. Hy het R50 000 bestee ten einde die Fortuner ter waarde van R375 700 te wen.

Monday, 06 July 2009

Eskom-wag in Polokwane doodgeskiet

’n 26-jarige Eskom-sekuriteitswag is by Eskom se aanleg in Polokwane doodgeskiet, het die Limpopo-polisie Maandag gesê.

Kaptein Mohlaka Mashiane sê die slagoffer en nog ’n sekuriteitswag was Sondag aan diens by die Polokwane Matlalapad Kragstasie toe hulle deur twee gewapende mans aangehou is.

"Die verdagtes het die wagte beveel om hulle wapens te oorhandig en die een wag begin deursoek. Die ander wag het probeer wegkom en is in die rug geskiet. Hy is op die toneel dood."

Die mans het gevlug sonder om enigiets te steel.

36 reeds dood weens besnydenis

Nog vyf seuns is die afgelope naweek in die Oos-Kaap dood. Dit bring die dodedal weens besnydenis tydens dié winter se inisiasieskole op 36 te staan, het die provinsiale departement van gesondheid Maandag gesê.

Een seun is Saterdag dood by ’n onwettig inisiasieskool in die Lusikisiki-gebied, en nog een Sondag by ’n skool in die Libode-gebied.

Twee is dood nadat hulle in die Nelson Mandela Akademiese Hospitaal in Mthatha opgeneem is, en die vyfde seun is Sondagaand in die St Barnabas Hospitaal in Libode oorlede.

Lyk in tas se kop nog soek

Die vermiste kop van ’n vrou wie se bolyf in ’n brandende tas in Sunnyside gekry is, is nog nie opgespoor nie, het die Pretoriase polisie Maandag gesê.

Die polisie het ook nog niemand in verband met die voorval gearresteer nie.

Die brandende tas met die bolyf in is Saterdagmiddag langs ’n stroom in Sunnyside ontdek. Dit was in ’n wit-en-oranje T-hemp geklee. Die slagoffer se afgekapte arms en bene is later in ’n asblik gevind. Dit was in plastiek toegedraai.

SABC-werkers begin protesaksie

Bykans die helfte van die SABC se werknemers beplan om Maandag met protesaksie vir hoër salarisse begin.

Die vakbonde het hulle tot die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (CCMA) gewend nadat die SAUK 'n 12,2% verhoging afwaarts hersien het na 8,5%. Dié verhoging sou in April in werking getree het.

Die SABC het net meer as 3 000 werknemers. Die vakbond Mwasa sê hulle verwag al 600 hulle lede sal deelneem aan die aksie, terwyl die Kommuniskasiewerkersunie ook aangedui het dat 1 000 van hulle lede gaan deelneem.

Geweld in Diepsloot, 8 vas

Die polisie het Maandag agt mense in hegtenis geneem nadat geweld in Diepsloot, Johannesburg, uitgebreek het.

Honderde inwoners het betoog oor die toewysing van behuising en die beplande verskuiwing van krotbewoners na ’n plakkerskamp naby Brits. Die ontevredenes eis ook elektrisiteit.

Paaie is afgesper met brandende bande, strate is met groot klippe besaai en motoriste is onder klippe gesteek. Winkels in die gebied is ook geplunder.

Die Valke neem oor

Die Skerpioene het plekgemaak vir die nuwe misdaadbekampingseenheid genaamd, “die Valke”.

Die amptelike geleentheid het plaasgevind op Gallagher Estate in Midrand Maandagoggend en is bygewoon deur die minister van polisie, Nathi Mthethwa.

Die Skerpioene het hier op plegtige wyse 288 nuwe sake oorhandig aan die nuwe eenheid se leier, Anwa Dramat.

SA studente kry varkgriep

Daar is elf nuwe gevalle van varkgriep in Suid-Afrika, het die departement van gesondheid gesê.

Dit bring die totaal van gevalle in die land tot op 29.

Die 11 nuwe gevalle is van universiteitsstudente wat met griepsimptome by verskeie mediese sentrums aangemeld het. Hulle is muurbalspelers wat die naweek in dieselfde akkommodasie tuisgegaan het tydens ‘n sportgeleentheid in Gauteng.

Man ry in begrafnisgangers vas

‘n Mpumalanga man is gearresteer nadat hy vasgery het in ‘n groep begrafnisgangers en een vrou doodgery het.

Die ongeluk het by ‘n stadion in Thandukukhanya plaasgevind waar ‘n begrafnis gehou is toe die man, wat besig was om resies te jaag by die stadion, beheer oor sy motor verloor het en in die mense vasgery het.

Woedende lede van die gemeenskap het die man aangerand en sy motor aan die brand gesteek maar hom toe aan die polisie oorhandig.

Pa gearresteer vir verkragting

‘n Muizenberg man is vrygelaat op borg van R1 000 nadat hy gearresteer is vir beweerde verkragting van sy 18-jarige dogter.

Die tiener, wat van Duitsland af gereis het om haar biologiese pa vir die eerste keer te ontmoet, is glo onderwerp aan gruwelike dade kort nadat sy in Kaapstad aangekom het.

Die man is aangkla van klagtes wat met bloedskande verband hou, en sluit verkragting in. Hy het nog nie gepleit nie en kan nog nie geïdentifiseer word nie.

Vakansieganger doodgeskiet

‘n Vakansieganger, 45, is doodgeskiet deur drie gewapende mans by ‘n Hartbeespoort-vakansieoord in Brits Sondagoggend.

Die man het glo ‘n geluid buite sy karavaan gehoor en gaan ondersoek instel rondom 02:30 in die oggend. Hy het drie mans aangetref en is doodgeskiet.

Nadat hulle die man doodgeskiet het, het die gewapende rowers na die volgende karavaan beweeg en die mense daar beroof van selfone en handsakke.

Die polisie het die publiek gewaarsku om nie die mans te konfronteer nie.

Saturday, 04 July 2009

Paartjie mors polisie se tyd

‘n Vrou van Pretoria se verneukery het op die lappe gekom, nadat die polisie met groot moeite haar in haar “skelmpie” se woonstel gekry het.

Bykans die hele personeel van die Villiera polisiestasie is ontplooi om na die vrou te soek, nadat haar man Donderdagaand bekommerd geraak het omdat sy nog nie tuis was nie.

Sy en haar minnaar is in die Oos-rand in sy woonstel gevind, en in hegtenis geneem weens dwarsboming van die gereg.

Riool in Vaalrivier gestort

Riool en die bloed van diere word na bewering in die Vaalrivier gestort.

Dit het aan die lig gekom dat ‘n slaghuis in Frankfort diere-oorblyfsels en bloed in ‘n dam gepomp het, want lei na die Vaalrivier.

‘n Rooi kleur is in die water opgemerk, waarna ondersoek ingestel is.

‘n Lid van die Blou Skerpioene, Nigel Adams, het bevestig dat diere-oorblyfsels wel in die rivier gevind is.

Oos-Kaap: Tien mense dood in ongeluk

Tien mense is Saterdag dood en agt ernstig beseer in ‘n minibus taxi ongeluk in die Oos-Kaap.

Die minibus het van die pad gegaan en by ‘n krans afgeval by die Tutor Ndamase-pas tussen Libode en Port St Johns.

Volgens ‘n ooggetuie het die minibus ‘n ander voertuig van agter gestamp, en daarna die pad byster geraak.

DA ernstig oor Cwele-kwessie

Die Demokratiese Alliansie is nie bereid om die Sheryl Cwele-kwessie met rus te laat alvorens 'n deeglike ondersoek nie voltooi is nie. Cwele is vrygestel van klagtes wat verband hou met die misbruik van munisipale hulpbronne nadat sy met Tessa Beetge kommunikeer het.

Beetge is die vrou van Margate wat in Brasilië met kokaiene ter waarde van R3 miljoen gevang is. Die DA se Doug Rawlins het egter gewaarsku dat ‘n ondersoek na haar verbintenis met dwelmverwante bedrywighede steeds sal plaasvind.

Cwele en Beetge was in epos-kontak kort voor Beerge se inhegtenisneming in Sao Paulo.

"Kruiedokters" besteel pasiënte

Etlike mense in Rustenburg was die slagoffers van sogenaamde “kruiedokters”. Die polisie het Vrydag aangekondig dat soveel as 20 sake aangemeld is. Konstabel Dipuo Modiko het gesê die publiek word aanbeveel om nie hierdie dokters te besoek nie.

Die sogenaamde dokters het aan mense gesê hul geld kan verdubbel word indien hulle (die dokters) daarvoor bid. Die dokters sou dan egter met die geld vlug. Die skurke is na bewering nie geregisteer by die Suid-Afrikaanse Tradisionele Dokters nie.

SAUK reg vir staking

Die SAUK sê hulle het planne in plek sou lede van die SA media werkers vereniging (Mwasa) Maandag begin staak. Die sekretaris-generaal van Mwasa, Ernest Dlamini, sê hulle verwag dat 600 lede gaan staak.

Die sekretaris-generaal van die kommunikasie werkers unie (CWU), Gallant Roberts, sê hulle is onseker hoeveel van hul 949 lede gaan staak. Daar werk na raming 3 000 mense by die SAUK.

Mans wou munisipaliteit bedrieg

Vier mans gaan Woensdag weer in die Mthatha landdroshof verskyn op aanklagte dat hulle bedrog gepleeg het. Hule het na bewering meer as R360 000 van die King Sabata Dalindvebo munisipaliteit in private bankrekenings gedeponeer.

Die vier, wat in aanhouding bly nadat hulle in die hof verskyn het, het glo bedrog gepleeg in die toekenning van tenders. Die geld waarmee bedrog gepleeg is was opsy gesit om die elektriese infrastruktuur op te knap.

Nuwe wetgewing kry wind van voor

Die nuwe wetgewing wat vereis dat mense wat ‘n nuwe SIM kaart vir ‘n selfoon koop al hul persoonlike inligting aan die verkoper moet verskaf, kry al klaar die wind van voor. Handelaars op straat en party kleinhandelaars verkoop nog steeds die sogenaamde starter packs vir so min as 99c sonder om enige inligting soos ‘n huisadres of ID dokument te vra.

Die woordvoerder van die justisie departement, Tlali Tlali, waarsku egter dat die “lang arm van die gereg” dié handelaars sal opskroef as hulle gevang word.

Staking van nooddienste verby

‘n Staking deur Johannesburg se noodwerkers is verby, het ‘n woordvoerder van die noodbestuursdienste, Percy Morokane gesê.

Morokane het gesê alle dienste, wat brand, nood- en mediese gevalle insluit, sal van Saterdag weer terug na normaal wees. Die staking het ‘n maand terug begin toe lede van die SA munisipale werkers-unie (Samwu) oor verskeie aangeleenthede, waaronder lone, besluit het om te staak.

Yslike heroïenvonds op lughawe

Heroïen met ‘n straatwaarde van R12m is op ‘n passasiersvlug van Iran op die O R Tambo lughawe opgespoor, het die polisie bekend gemaak.

‘n Polisiewoordvoerder sê die dwelms was in ‘n swaar metaalkas wat gemaak is om te lyk soos ‘n onderdeel vir ‘n motor of ‘n masjien. Die heroïen was binne-in die kas versteek en is deur ‘n elektroniese skandeerder opgespoor.

Friday, 03 July 2009

Akademici steun stakende dokters

Akademici stem saam met stakende dokters oor die haglike toestande in staatshospitale.

Woensdag het dokters en aptekers in die provinsie die staat se finale salarisaanbod van die hand gewys en gesê die staking gaan voort. Hospitale wat geraak word is Groote Schuur, Tygerberg, Somerset en GF Jooste.

Stellenbosch Universiteit en die Universiteit van Kaapstad (UK) sê die huidige toestande in die hospitale maak dit uiters moeilik vir gesondheidswerkers om ’n professionele diens te lewer.

“As die krisis sou toeneem, sal dit bykans onmoontlik wees om mediese studente en spesialiste op te lei en kliniese dienste aan pasiënte te lewer,” het die komitee vir mediese dekane by UK gesê.

Alliansievennote ‘dikteer nié vir Zuma’

Die African National Congress bly die sentrum van mag, ten spyte van onlangse bewerings dat sy alliansievennote, Cosatu en die SAKP, te veel mag het en dus aan president Jacob Zuma voorskryf.

Hierdie stelling is Donderdag deur die ANC se waarnemende provinsiale sekretaris in KwaZulu-Natal, Sihle Zikalala, gemaak tydens ’n debat oor die brandpunt van mag na die 2009 algemene verkiesings.

Zikalala was een van drie paneellede wat aan die debat deelgeneem het. Volgens hom bly Zuma aanspreeklik teenoor die ANC.

Honderde dakloos ná Alex-brand

Ongeveer 100 informele huise is deur ’n brand in Alexandra, noord van Johannesburg, in puin gelê.

Honderde inwoners is dakloos gelaat en het nou geen toegang tot basiese geriewe nie. Dis nie duidelik wat die brand veroorsaak het nie, maar van die inwoners sê hulle het iets hoor ontplof.

Dit het byna ’n uur geneem voor die Sandtonse brandweer opgedaag het, omdat brandweerpersoneel by die Alexandra-brandweerstasie op ’n staking was.

Die inwoners se frustrasie met die plaaslike regering was duidelik te bespeur. “Waar is hulle nou?” het een vrou gevra. “Maar laat dit net verkiesingstyd wees, dan is hulle baie gou op die toneel.”

Taxibase gewaarsku oor snelbusdiens

Die owerhede sal wetteloosheid van taxi-operateurs nie duld as dit kom by die geïntegreerde snelbusdiens wat oor minder as twee maande ingestel word nie.

Woordvoerder vir Gauteng Gemeenskapsveiligheid, Thaphelo Moiloa, het taxi-operateurs Donderdag gewaarsku om nie die langverwagte snelbusdiens te probeer ontwrig nie.

Die taxibedryf het toenemend sy ontevredenheid met dié beoogde diens te kenne gegee, omdat dit glo tot werksverlies sal lei.

Die regering het Fifa belowe dat die snelbusdiens gereed sal wees vir die 2010 Wêreldbeker.

Akademikus met graaf aangerand

Die bekende Suid-Afrikaanse kriminoloog, prof. Anna van der Hoven, 64, is herhaaldelik met ’n graaf oor die kop geslaan toe ’n tuinier haar by haar huis in Lyttelton aangeval het.

Die man was besig om ’n fonteintjie in Van der Hoven se tuin te bou. Hy het haar gewurg, haar probeer versmoor en haar bebloede gesig herhaaldelik met die vuis geslaan het. Toe sy haar bewussyn verloor, het hy haar skootrekenaar, handsak en kontant gesteel en weggehardloop.

Danksy haar bure se huishulp se vinnige optrede het die polisie hom egter gou daarna vasgetrek.

'Jy sou die doodstraf gekry het'

‘n Man wat ‘n dogtertjie twee dae na haar vierde verjaarsdag verkrag het, is tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

Die Pretoriase magistraat, Ben van Schalkwyk, het vir Mpihelele Flamiso Nkosi, 28, gesê hy sou in die verlede die doodstraf gekry het vir sy misdaad.

Hy het die dogtertjie laas jaar in sy houthuis verkrag en toe aan die slaap geraak op sy bed. Die kind se tannie, wat haar kom soek het en toe hoor huil het in die huisie, het haar deur die venster help ontsnap. Die ontstoke gemeenskap wou Nkosi aanrand en die polisie moes hom red.

VK gevaarliker as SA

Daar is meer geweldsmisdade in Brittanje as in enige ander land in die Europese Unie.

‘n Nuwe verslag wys dat daar selfs meer geweldsmisdaad in die VK voorkom as in Suid-Afrika.

Sedert die huidige regering in Brittanje aan bewind gekom het in 1997, het gewelddadige aanvalle met 77% toegeneem.

Daar is in die VK 2034 misdade per 100 000 mense, waar daar in SA 1 609 is.

Gesteelde kar binne 15min gekry

‘n Verkoopsbeampte by ‘n Boksburg Audi-handelaar het Woensdag onder ‘n motorkaper deurgeloop nadat hy ‘n nuwe motor vir ‘n kliënt by ‘n garage gaan volmaak het, en toe deur ‘n gewapende man oorval is.

Chris Joubert het aan sy babadogtertjie gedink en gevrees dat hy haar nie weer sou sien nie en gemaak soos die man sê.

Die rower het in die motor gespring en weggejaag met die splinternuwe Audi Q5 2.0T. Die motor se opsporingsmeganisme is geaktiveer en die motor is slegs 15 minute later gevind op die N3. Die man wat gearresteer is, is tans uit op borgtog vir ‘n ander motordiefstal saak.

Naas se kind soek geld

Die legendariese Springbok-speler, Naas Botha, het Donderdag in die hof sy seun ontmoet nadat die jong man aansoek gedoen het vir onderhoud.

Francois Jooste, 21, is Botha se kind uit ‘n vorige verhouding. Botha is nooit met Jooste se ma getroud nie maar het onderhoud betaal totdat sy seun 18 geword het.

Nou studeer Jooste by Tukkies en wil hê sy pa moet daarvoor betaal.

SA se gevaarlike myne

Ongeveer 277 mynwerkers is in Suid-Afrika dood oor die afgelope jaar, met meeer as die helfte van hulle wat betrokke was in onwettige mynaktiwiteite, het die minister van mynwese, Susan Shabangu, gesê.

Suid-Afrika het die wêreld se diepste myne en een van die hoogste sterftesyfers van mynwerkers in ontwikkelde lande.

Die SA regering probeer tans om myne tydelik toe te maak om veiligheidsmaatreëls toe te pas en sterftes te verminder. Maar onwettige mynaktiwiteite gaan steeds voort.

Thursday, 02 July 2009

Verbroude besnyding eis nog ’n lewe

’n Tienderjarige is in die Nelson Mandela akademiese hospitaal in Mthatha dood ná ’n verbroude besnyding.

Hospitaalpersoneel sê die seun, 17, is dood aan blootstelling weens die koue in die omgewing, wat vererger is deur die verbroude besnyding.

Tot dusver hierdie winter is 24 tienderjariges van verbroude besnydings dood.

Cosatu vra dokters om weer te werk

Cosatu president Sdumo Dlamini het dokters in KwaZulu-Natal wat staak gevra om Vrydag terug te keer werk toe.

Hy het stakende dokters by die Nelson Mandela Skool van Medisyne toegespreek en gesê SA kan nie nog ’n dag sonder dokters by die werk klaarkom nie. As hulle terugkeer, sal Cosatu en die Mediese Vereniging (Sama), probeer om afgedankte dokters weer aangestel te kry. Die KZN gesondheidsdepartement het Maandag bykans 300 stakende dokters in die pad gesteek.

Vorster uit op borg

Die Sandton inwoner wat na bewering sy huiswerker se kleinseun doodgeskiet het, Warren Vorster, 36, is op borgtog van R5 000 vrygelaat. Die saak is tot 30 Julie vir verdere ondersoek uitgestel.

Vorster is Dinsdag in hegtenis geneem en van moord aangekla nadat hy glo Kgopotso Ramolese, 12, doodgeskiet het. Kgopotso het by sy ouma gekuier toe die voorval plaasgevind het.

Polisie betrap stropers heterdaad

Die polisie in Kaapstad sê nege vermeende perlemoen stropers is in hegetenis geneem ná ‘n wilde bootjaagtog naby Robbeneiland.

‘n Polisiewoordvoerder, Frederick van Wyk, sê die polisie het ‘n skiboot dopgehou wat verdag gelyk het. Toe hulle die polisie gewaar, het hulle weggejaag, maar twee polisievaartuie het daarin geslaag om hul boot af te sny. Die polisie het beslag gelê op duiktoerusting en ook toerusting om perlemoen te oes.

Dokters versoek om te werk

Die regering het weer ‘n beroep op dokters gedoen om hul staking te beëindig en onmiddellik terug te keer werk toe omdat hul dispuut “ongelooflike skade” berokken.

Regeringwoordvoerder Themba Maseko sê die staking ontneem gewone Suid-Afrikaners van gesondheidsorg. Hy sê die regering het na al die besware geluister en dit sal mettertyd aangespreek en verbeter word.

Kriminoloog tuis aangeval

Die vrou wat deur haar tuinier in Pretoria aangeval is, is ‘n gerespekteerde kriminoloog wat nou in ‘n ernstige toestand in die hospitaal is na die gewelddadige aanval.

Die Unisa-akademikus, Anna van der Hoven, 64, het vir haar tuinier tee gebring toe hy haar aangeval het. Hy het haar geslaan totdat sy haar bewussyn verloor het en haar toe probeer verwurg.

Van der Hoven, wat alleen bly by haar sekuriteitskompleks, is deur haar bure as baie goedhartig en saggeaard beskryf en hulle is almal geskok deur die voorval.

J Arthur Brown in die sop

Die vermeende Fidentia-bedrieër, J Arthur Brown en sy vriendin, Annelize van den Bergh, het die afgelope ses maande ‘n weelderig lewe gelewe – maar dit kan binnekort op ‘n einde wees.

‘n Motorfinansieringsmaatskappy wil nou sy swierige Mercedes Benz terugeis omdat hy nie sy maandelikse paaiemente betaal het nie.

Brown is tans werkloos.

Einde van Jackie Selebi

Die minister van polisie, Nathi Mthethwa, het belowe dat ‘n nuwe nasionale polisiekommissaris aangestel gaan word teen die einde van die maand.

Hiermee het hy bevestig dat die huidige kommissaris, die omstrede Jackie Selebi, nie meer in die pos sal aanbly nie. Daar is nie duidelikheid oor of sy kontrak aan die begin of einde van die maand verstryk nie.

Mthethwa het gewaarsku dat onbekwaamheid in die polisie nie meer geduld sal word nie en dat daar hoër verwagtinge van bestuurslede in die polisie gaan wees.

Bafana-speler 'was ontsteld'

Die Bafana Bafana-speler, Bryce Moon, het gehuil en geskree toe hy gehoor het dat die vrou wat hy getref het met sy motor, dood is.

Sy pa, Patrick, het Woensdag laat blyk hoe Moon, “Jammer Pappie, jammer, jammer” geskree het toe hy hoor dat Mavis Ncube dood is.

‘n Mediastorm het losgebars toe dit blyk dat twee hospitale vir Ncube weggewys het vir mediese behandeling. Moon het gesê hy was nie dronk ten tye van die voorval nie en dat Ncube en ‘n ander vrou in die pad geloop het en dat hy probeer wegswenk het toe hy een van hulle getref het.

Tuinier val werkgewer aan

Die polisie in Pretoria het ‘n tuinier gearresteer nadat hy sy werkgewer aangeval het in Lyttleton.

Hy het die bejaarde vrou glo vroeg oggend geroep en toe met ‘n tuinvurk aangerand.

Hy het haar handsak, selfoon en kontant gesteel. Sy het om hulp geroep en die polisie het die man aangekeer kort na die voorval.

Wednesday, 01 July 2009

SAUK raad gaan ontbind word

Die Parlement het Woensdag ‘n voorstel aanvaar om die SAUK raad te ontbind en die ouditeur-generaal te vra om finansiële wanbestuur te ondersoek.

Die ANC-LP, Ismail Vadi, wat die voorsitter is van die Parlement se portefeulje komitee oor kommunikasie, het gese: ”Ons is oortuig daarvan dat die raad nie behoorlik funksioneer nie. Selfs lede van die raad dink nie hulle het die wil of deursettingsvermoë om met hul taak voort te gaan nie”.

Radebe verduidelik nuwe wet

Die Minister van Justisie, Jeff Radebe, sê die nuwe wetgewing om alle selfone te registreer sal nie gebruik word om op landsburgers te spioeneer nie.

Die wetgewing het Woensdag in werking getree. Radebe sê landsburgers word deur die Grondwet beskerm en oproepe sal nie onwettig onderskep word nie.

Sexwale waarsku oproermakers

Die Minister van Huisvesting, Tokyo Sexwale, het gewaarsku dat die regering streng stappe gaan neem teen enigiemand wat enige deel van die land onregeerbaar wil maak.

Hy sê : ”Daar is perke van maatskaplike en politieke aktivisme”. Hy het gereageer op die gewelddadige protesaksie oor behuising en munisipale dienste en ook op huiseienaars in dorpe wat hul munisipale belastinggeld weerhou.

“Ons verstaan dat mense hul werk weens die resessie verloor, maar as daar anargie is moet die regering dit stopsit”, het die minister gesê.

Dokters kry gewysigde aanbod

Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging gaan van later Woensdag terug rapporteer aan al sy lede nadat die regering ‘n gewysigde loonaanbod gemaak het, wat ook dokters wat onwettig die afgelope paar weke gestaak het, insluit.

‘n Woordvoerder, Norman Mabasa, sê die dokters sal van Woensdag tot Vrydag ingelig word en hopelik sal alles teen volgende week opgelos wees.

Baba terug by ouers ná drama

‘n Baie verligte Durbanse egpaar het hul vyf-maande-oue baba teruggekry wat glo deur ‘n ontevrede werknemer gesteel en vir ‘n R300 000 losprys gevra het.

Die baba is na bewering uit sy ouers se selfoonwinkel in Pinestraat geneem nadat die werknemer in die pad gesteek is. Die ouers en die polisie het die hele gebied gefynkam en ná 24 uur is die seuntjie in ‘n crèche in Rossburgh opgespoor.

Onsekerheid oor Selebi

Daar is blykbaar onsekerheid oor wanneer die nasionale polisiekommissaris, Jackie Selebi, se kontrak verstryk.

Volgens die departement van veiligheid en sekuriteit, is dit om middernag Dinsdag, maar volgens presidensiële woordvoerders, is dit die einde van die maand.

Die DA het gevra dat duidelikheid oor die saak gekry word aangesien ‘n ekstra R100 000 van belastingbetalers gemors sal word op ‘n ekstra maand se salaris vir Selebi. Hy is tans steeds op spesiale verlof terwyl hy wag op sy verhoor vir korrupsie en dwarsboming van die gereg.

Huiseienaar skiet kind

‘n Man wat ‘n 11-jarige seun doodgeskiet het met ‘n jaggeweer is Dinsdag in Sandton gearresteer.

Die seun, wat oorspronklik van Limpopo is, het vir sy ouma gekuier waar sy gewerk het as ‘n skoonmaker by ‘n huis in Parkmore.

Die huiseienaar het ‘n geluid gehoor en die seun geskiet omdat hy gedink het daar is ‘n inbreker in die huis.

Groot deurbraak vir polisie

Die polisie se kommersiële misdaadseenheid het hul grootste deurbraak nog gemaak toe hulle ‘n kredietkaart-bedrogsindikaat oopgevlek het en sy vermeende leier gearresteer het.

Laas Woensdag het die polisie ‘n pakhuis deursoek in Milnerton en op vier bosseleermasjiene afgekom.

Die masjiene word gebruik om kredietkaarte te maak.

Chaos dreig by Baragwanath

Dokters by die Chris Hani-Baragwanath hospitaal het gedreig om die land se grootste hospitaal heeltemal te sluit tensy hul eise vir ‘n verhoging van 50% nie toegestaan word nie.

Hoewel senior dokters nie die staking deur junior dokters bywoon nie, ondersteun hulle grotendeels die staking.

Die staking in Gauteng het Dinsdag begin en in KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en Wes-Kaap duur stakings al twee weke.

Shaik-parool nie heroorweeg

Die nuwe minister van korrektiewe dienste, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, het gesê sy sal nie die mediese parool van Schabir Shaik ondersoek tensy sy oortuigende bewyse het dat dit nodig is nie.

Sy het die Parlement toegespreek nadat sy oorgeneem het by haar voorganger, Ngconde Balfour en het gesê sy het al heelwat navrae gekry oor die saak.

Sy het laat blyk dat sy nie Balfour se besluit in heroorweging gaan neem nie tensy daar nuwe bewyse was dat dit nodig was – en sy sê daar is nie sulke bewyse nie.

Tuesday, 30 June 2009

Niemand aangekla ná vrou sterf

Niemand is van moord aangekla ná ’n ongeluk in Sandown waar Mavis Ncube, 25, dood is na sy by staatshospitale weggewys is nie, aldus die polisie.

Superintendent Eugene Opperman sê ’n dossier is geopen en hulle ondersoek steeds die ongeluk. Sommige koerante het berig dat ’n nasionale sokkerspeler verantwoordelik was vir die vrou se dood, toe hy na bewering van ’n partytjie teruggekeer het.die polisie o

Paramedici sê talle staatshospitale het haar weggewys en dat sy later in die Morningside Medi-Clinic oorlede is.

Kaartdief se kooptog eindig

’n 48-Jarige man wat op ’n inkopietog van luukse goedere gegaan het met ’n gesteelde kredietkaart, is in ’n inkopiesentrum in Soweto aangekeer.

Die man het volgens inspekteur Kay Makhubele homself bederf met twee leerbaadjies, ’n duur hemp en bottels ontwerpersreukwater.

Een van die winkelassistente in die Jabulani Mall het egter onreëlmatighede met die kaart opgemerk, maar die man het reeds die winkel verlaat. ’n Sekuriteitswag het hom agtervolg en hy is aan die polisie oorhandig.

Swanger vrou ontduik verkragting

’n Vrou van Soweto het ’n verkragter oorreed om haar alleen te laat omdat sy swanger was, aldus die Jabulani-polisie.

Die vrou was tuis met ’n vriendin toe 'n man omstreeks middernag die deur oopgeforseer en geld en selfone geëis het, waarna die vroue R100 oorhandig het. Hy het een van hulle op die bed neergegooi en sy broek begin uittrek terwyl hy haar met ’n mes gedreig het.

Toe sy egter volhou sy is swanger, het hy weggehardloop. Polisie het hom in ’n woning daarnaby gevind en in hegtenis geneem.

Selebi-kontrak verstryk

President Jacob Zuma en minister van veiligheid en sekuriteit Nathi Mthethwa ontmoet eersdaags om die aanstelling van ’n nasionale polisiekommissaris te bespreek, aangesien Jackie Selebi se kontrak verstryk.

Kommissaris Tim Williams het in Selebi se plek waargeneem, na dié spesiale verlof toegestaan is hangende sy hofsaak oor bewerings van korrupsie.

Oud-president Thabo Mbeki het verlede jaar Selebi se kontrak hernu. Woordvoerder Hangwani Mulaudzi sê ’n aanstelling sal binne die volgende vier weke gemaak word.

Gevaarlike suur by lughawe gesteel

Meer as 80 liter salpetersuur is uit die vrag-afdeling van die PE lughawe gesteel, aldus die Polisie.

Volgens kaptein Andre Beetge het twee gewapende mans sekuriteitswagte om 19:10 aangehou en nege houers gekonsentreerde suur, elk met sowat 10 liter vloeistof, gesteel. Die suur word gebruik in die vervaardiging van kunsmis, plofstowwe en vuurpyl-brandstof en Beetge waarsku dis baie gevaarlik.

Enigeen met inligting kan CrimeStop bel by 08600-10111.

Kragonderbrekings pla Jhb

Verskeie woonbuurte in die noorde van Johannesburg is sonder elektrisiteit sedert Maandagmiddag.

‘n Tegniese fout by ‘n substasie het glo die kragonderbrekings veroorsaak.

Omtrent 50% van huise het weer elektrisiteit gehad teen Maandagaand en Louis Pieterse het gesê die laaste kragonderbrekings sou teen Dinsdagmiddag verby wees.

Die woonbuurte wat geraak is, is Atholl, Houghton, Illovo, Melrose, Bramley en Killarney.

Nog varkgriep in SA

Die nasionale gesondheidsdepartement het Dinsdag gesê dat nog drie mense met varkgriep oor die naweek gediagnoseer is.

Daar is nou al sewe gevalle aangemeld in Suid-Afrika.

Die drie mense het ‘n geskiedenis van onlangse internasionale reise maar dit is nog nie bekend waarvandaan hulle teruggekom het nie. Twee gevalle wat Vrydag gerapporteer is, is van mense wat vanaf Londen en die VSA gereis het.

Sokkerster in die hof

Die voormalige sokkerster, Doctor Khumalo, het Maandag verskyn in die hof op ‘n klag van dronkbestuur.

‘n Getuie, William Sanyane, het vertel dat die oudspeler na alkohol geruik het, onvas op sy voete was en later geweier het om ‘n asemtoets te doen nadat hy sy BMW in ‘n ander voertuig vasgery het. Hy het glo gesukkel om duidelik te praat en sy oë was bloedbelope.

Die staatsaanklaer het gesê Khumalo se bloedalkoholvlak was 0.17mg/l.

Joost sterk goed aan

Die voormalige Springbok-kaptein, Joost van der Westhuizen, is in ‘n stabiele toestand in die hospitaal en sterk goed aan. Hy sal na bewering binnekort ontslaan word.

Sy woordvoerder, Bridget van Oerle, het Maandag gesê dokters hou hom dop en dat sy toestand nie met hart- of breintoestande verband hou nie.

Sy het gesê Van der Westhuizen en sy vrou, Amor Vittone, wou mense bedank vir die ongelooflike ondersteuning wat hulle ontvang het sedert Van der Westhuizen Saterdagnag ineengestort het by sy huis in Dainfern.

200 dokters afgedank

Meer as 200 dokters is afgedank in KwaZulu-Natal nadat hulle nie opgedaag het vir werk by verskillende hospitale in die provinsie nie.

Die provinsiale departement van gesondheid het gesê meer as 226 afdankingsbriewe is uitgereik.

Dit kom nadat die dokters ‘n hofbevel verontagsaam het wat hulle beveel het om die onwettige staking te laat vaar en terug te keer werk toe.

Monday, 29 June 2009

Nog 3 met varkgriep in SA

Die afgelope naweek is nog drie mense in Suid-Afrika met varkgriep gediagnoseer. Daar is nou altesaam sewe gevalle, het die departement van gesondheid gesê.

Al drie van hulle was onlangs oorsee. Die vyfde en sesde pasiënte het effense simptome en die departement samel nog inligting in oor die sewende pasiënt.

Die derde en vierde pasiënte het van Londen en die VSA af gereis.

Volgens Beeld is die rugbyspeler Brian Liebenberg een van die gevalle. Hy het siek geword op reis na Argentinië.

Dogtertjie, 3, vermoor vir R500

Donderdag het ’n man vir Elizabeth Mnembe haar driejarige dogtertjie, Viwe, se skooltas gebring. Op ’n stukkie papier was ’n losprysnota waarin die ontvoerder R500 geëis het om die kind veilig terug te bring.

Mnembe het dadelik die saak by die polisie aangegee.

Die volgende dag is Viwe se skoolklere na Mnembe se familie gestuur.

Saterdag is haar liggaampie in die bosse by Khayelitsha gekry.

’n 24-jarige man, wat aan Mnembe en haar dogtertjie bekend was, is gearresteer en verskyn Maandagoggend in die Khayelitsha-landdroskantoor.

Ma sê verkragte kind ‘praat nonsens’

’n Vrou van 37 jaar en twee mans, onderskeidelik 46 en 59, wat na bewering sedert Desember 2008 haar 10-jarige dogtertjie verkrag het, is in Pretoria gearresteer.

Die vrou is Sondag in Silverton gearresteer omdat sy nie teen die twee mans opgetree het nie. Elke keer as haar dogtertjie by haar gekla het, het die ma vir haar gesê sy praat nonsens.

Die mans is die kind se stiefpa en ’n buurman. Laasgenoemde het die kind glo verkrag as die ma haar gestuur het om geld by hom te leen. Die ma het die dogtertjie en haar boetie ook gereeld by die man se huis laat oorslaap.

Polisiepaar van agter geskiet

Twee Kaapstadse polisiebeamptes, wat in ’n romatiese verhouding betrokke was, is dood aangetref in hulle huis in Kraaifontein. Hulle seuntjie is ses maande oud.

Vogens die polisie is Wilma Fienies, 31, in die rug geskiet. Sy was ’n klerk by die Bishop Lavis-polisiestasie.

Haar lewensmaat, ’n 32-jarige speurderkonstabel, was in Harare in Khayelitsha gestasioneer. Hy is in die kop geskiet. Sy polisiepistool is langs sy liggaam gekry. Die voorval het Saterdagaand plaasgevind.

Die seuntjie, Mathew Marcus, word deur sy tante versorg.

Groote Schuur kom reg sonder stakers

Kaapstad se Groote Schuur-hospitaal kom die mas op ten spyte van die feit dat ongeveer 200 dokters en apters staak, het die hoof operasionele beampte, dr. Saadiq Kariem, Maandag gesê.

Tans is net sowat ’n vyfde van die hospitaal se personeel in hierdie twee professionele kategorieë by die werk.

Die stakers het Maandagoggend in Hoofweg voor die hospitaal betoog voordat hulle vir ’n vergadering verdaag het.

Tot dusver was dit nog nie vir die hospitaal nodig om enige operasies uit te stel nie en “kritieke areas” soos noodgevalle funksioneer ook normaal.

Ondersoek ná dokterstaking

Die gesondheids professionele raad van Suid-Afrika gaan Maandag met ‘n ondersoek begin nadat 16 KwaZulu/Natal dokters blykbaar geweier het om siek kinders te behandel omdat hulle staak.

Die raad gaan probeer vasstel wat regtig by die paediatriese afdeling van die Addington Hospitaal gebeur het. Die ouderdomme van die kinders en presies wat tydens die staking gebeur het, is nie bekend nie.

Piet Retief inwoners ontstoke

Inwoners van Ethandakukhanya in Piet Retief het buitebande gebrand en begin protesteer oor gerugte van munisipale finansiële wanbestuurspraktyke.

Hulle het ook gedreig om die dorp in Mpumalanga onregeerbaar te maak. Hulle het op hierdie stap besluit ná hoëvlak samesprekings en sê nou dat hulle slegs met die provinsiese premier, David Mabuza, sal praat.

Shaik hou partytjie in restaurant

‘n Durban berig lui dat Schabir Shaik blykbaar ‘n wonderbaarlike herstelproses agter die rug het, want hy is glo in ‘n deftige Franse restaurant in Umhlanga gesien. Die geleentheid was ‘n spog middagete ter ere van sy vrou Zuleikhase verjaarsdag.

Shaik het ‘n paar maande mediese parool gekry omdat hy glo op die randjie van die dood was.

Man vermoor glo minnaarse kind

‘n Khayelitsha man, 23, is deur Kaapstadse polisie in hegtenis geneem nadat hy glo die driejarige dogtertjie van sy voormalige minnaar ontvoer en vermoor het.

Die polisie sê die man het die kind by ‘n crèche gaan haal nadat die ma vroeër die dag besluit het om hul verhouding te beëindig. Dieselfde dag nog het die ma die polisie in kennis gestel dat haar kind vermis word.

Joost stort inmekaar

Die voormalige Bokkaptein en Wêreldbekerster Joost van der Westhuizen is in ‘n Johannesburgse hospitaal vir waarneming nadat hy Saterdagaand by sy huis ineengestort het.

‘n Woordvoerder, Bridget van Oerle, het bevestig dat Van der Westhuizen in die hospitaal is, maar het gesê hy het beslis nie ‘n hartaanval of beroerte gehad soos vroeëre gerugte gelui het nie.

Saturday, 27 June 2009

“Leeus-ondersteuners” toe SA’ners

Twee mans, wat verlede Saterdag ‘n oordosis kokaiene geneem het en in die hospitaal beland het, was toe al die tyd Suid-Afrikaners, en nie Britse Leeus-ondersteuners nie.

Die twee mans was aangetrek soos Britse ondersteuners, maar hulle is waarskynlik Johannesburg-inwoners.

Die ondersoek is in ‘n sensitiewe stadium, en die polisie kon geen verdere inligting verskaf nie.

Vriende geskok oor kantoor-moord

‘n Man wat ‘n haaiaanval oorleef het, Achmat Hassiem, het gesê hy is uiters geskok oor die moord op sy vriendin, Bianca McGowen, verlede week in Muizenberg.

Die 29-jarige McGowen is dood in haar St James kantoor gevind met haar hande agter haar rug vasgebind.

Volgens haar vriende was sy ‘n vriendelike mens wat voluit geleef het.

‘n Moordondersoek is geloods, maar niemand is nog gearresteer nie.

Opposisie vra vir onafhanklike beskermer

Die Parlement het die proses om ‘n nuwe publieke beskermer aan te stel, begin, en opposisiepartye het President Jacob Zuma gevra om ‘n “ware onafhanklike” publieke beskermer aan te stel.

Die huidige beskermer, Lawrence Mushwana, se termyn verstryk in Oktober. Die DA se parlementêre leier, Athol Trollip, het gesê die kantoor van die publieke beskermer is een van die belangrikste instellings in die land, en dus is dit belangrik dat dit vry is van enige party invloede.

Nog twee varkgriep-gevalle aangemeld

Die Departement van Gesondheid het Saterdag aangekondig dat ‘n derde en vierde geval van Varkgriep in Suid-Afrika bevestig is.

Die een pasiënt het op 24 Junie vanaf Londen gekom, en het griepsimptome gehad.

Die ander voorval is ‘n vrou wat op 20 Junie vanaf Amerika na Suid-Afrika gevlieg het.

Die departement het die publiek gemaan om nie paniekbevange te raak nie, en gesê die nuwe gevalle word nie verbind met die vorige gevalle nie.

"Polisie was bang vir swak publisiteit"

Volgens ‘n ondersteuner van die Britse Leeus, wat 50 meter van sy gastehuis in Bloemfontein bewusteloos gevind is, was die polisie bekommerd oor die swak publisiteit wat sy saak sal kry.

Midge Ferguson van Engeland is op 6 Junie in die oggendure gevind.

Hy het meer as ‘n liter bloed verloor. Sy selfoon was gesteel, maar sy beursie was nog by hom.

Ferguson het saam met ander ondersteuners gekuier na die wedstryd tussen die Leeus en die Cheetahs, en is oppad na sy gastehuis oorval.

Polisie waarsku motoriste oor N3

Die polisie het motoriste in KwaZulu-Natal gemaan om nie op die N3 tussen die Rockdalebrug en Pavilion afritte naby Westville te stop nie weens baie voertuig-kapings en rooftogte. Hulle noem glo nou dié stuk pad die ‘Bermuda Driehoek’.

‘n Woordvoerder sê hulle kry elke maand minstens ses verslae van rooftogte of poging tot kaping op dié stuk pad. Die polisie vind dit vreemd hoeveel motoriste skielik nie meer brandstof het nie, of hulle voertuie raak onklaar of hulle kry ‘n pap wiel of hulle stop om selfone te beantwoord.

Mans met polisie uniforms in hegtenis

Die polisie in Oos-Kaapland sê twee mans is in Port Elizabeth in hegtenis geneem nadat hulle in besit betrap is van ‘n masjiengeweer en polisie uniforms. Die polisie het op ‘n wenk reageer en ‘n huis in Mkewanastraat in KwaZakhele vroeg Saterdagoggend deursoek.

‘n Woordvoerder sê beslag is gelê op blou ligte, radios, 30 selfone en kontantsakke van Fidelity Guards. Hulle gaan Maandag in die hof verskyn op aanklagte van gesteelde eiendom, die onwettige besit van polisie uniforms en onwettige besit van ‘n vuurwapen.

Dlamini-Zuma klap die sweep

Die Binnelandse Sake Minister, Nkosazana Dlamini-Zuma het onderneem om
“sommer baie” amptenare in haar departement die trekpas te gee as hulle nie hul werk na behore doen nie. Sy het in die Parlement maatreëls aangekondig om sekuriteit op te skerp en die uitreiking van dokumente te bespoedig.

“Hoewel daar duisende hardwerkende, eerlike staatsamptenare is, is daar ook korrupte amptenare wat met sindikate, korrupte burgerlikes en ander saamwerk. Ons gaan hulle uitroei”.

Vuurwapeneienaars slaak sug van verligting

Die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging het ‘n interdik van die hooggeregshof verwelkom wat sal verhoed dat vuurwapeneienarrs wat nie hul lisensies hernu het nie, van middernag op 30 Junie vervolg kon word.

Regter Bill Prinsloo het bevind dat die vereniging ’n saak het. Hulle betwis die grondwetlikheid van sekere bepalings van die nuwe Wet op Vuurwapenbeheer.

‘n Polisiewoordvoerder, Phuti Setati, sê die polisie aanvaar Prinsloo se uitspraak.

Bankrowers lank tronk toe

Agt van die nege mans wat daarvan skuldig bevind is dat hulle ‘n ENB depot in Selby van R46 miljoen beroof het, is tot 20 jaars tronkstraf elk gevonnis. Die negende bendelid sal 22 jaar in die tronk sit omdat hy op die polisie gevuur het. Die rooftog het in Februarie 2006 plaasgevind toe die mans die depot met semi-automatiese gewere binnegestorm het.

Regter Zukiswa Tshiqi het in sy uitspraak gesê dit was duidelik dat die rooftog haarfyn beplan is met die hulp van die bankse senior veiligheidswagte.

Friday, 26 June 2009

Plan vir Zim-permitte binnekort gereed

Planne sal binnekort aan die kabinet voorgelê word oor die implementering van die besluit om gratis 90-dae permitte aan Zimbabwiërs uit te reik as hulle tydelik in Suid-Afrika wil werk, sê die minister van binnelandse sake, Nkosazana Dlamini Zuma.

Dié maatreël is in Mei deur haar voorganger aangekondig, maar toe was daar nie 'n plan vir die implemtering daarvan nie.

Dlamini Zuma hoop die spesiale besoekerspermitte sal help om die stortvloed asielaansoeke van Zimbamwiërs te stuit.

Taung-kind ‘veilig’

Die Taung-kind, een van Suid-Afrika se beroemdste fossiele, het Donderdag ’n nuwe tuiste gekry. Hy (of sy) sal voortaan in ’n spesiale kissie uitgestal word wat deur lede van die Museum vir Natuurstudie in Toulouse, Frankryk gebou is.

Dié kissie is uitgevoer met spons wat weggesny is sodat die skedel perfek daarin pas, en met deursigtige plastiek bedek. Voorheen is die skedel in ’n eenvoudige houtkissie gehou wat al eenkeer in ’n Londense taxi agtergebly het.

Die Taung-kind het 2 miljoen jaar terug gelewe.

Waarskuwing oor toksiese houers

’n Navigasiewaarskuwing is aan alle vaartuie langs die Suid-Afrikaanse kus uitgestuur nadat ’n vragskip 21 houers naby Kaapstad verloor het.

Drie van die houers bevat die toksiese middel kresielsuur. Twee van hulle het reeds uitgespoel – een by Kampsbaai en die ander by Seepunt.

Die Safmarine Meru het die houers Dinsdag onderweg van Port Elizabeth na Kaapstad in stormweer verloor. Die suur bedreig nie die seelewe nie, maar is gevaarlik vir mense.

Vrou skenk geboorte in polisiestasie

Khonzephi Ngcobo, 22, of Umlazi, se babaseuntjie is Woensdag in 'n Durbanse polisiestasie gebore.

Toe sy die pyn in haar maag voel, het Ngcobo nie geweet wat aangaan nie, want dit was haar eerste baba. Sy was in elk geval net sewe maande swanger en het die pyn geïgnoreer totdat dit ondraaglik geword het.

’n Vriendelike motoris het haar opgelaai en by die Sydenham Polisiestasie afgelaai. Daar het die vroulike polisiebeamptes haar met die geboorte gehelp.

SAUK-raad ‘moet ontbind word’

Die parlement se portefeuljekomitee vir kommunikasie het Vrydag aanbeveel dat die SAUK-raad ontbind moet word.

In ’n verslag wat by die parlement ingedien is, sê die komitee die SAUK kan nie langer sy statutêre pligte nakom nie.

Die komitee het ook bevind dat die huidige raad nie bevoeg genoegof in staat is om hierdie pligte na te kom nie. Die komitee se eenparige aanbeveling is dus dat die raad ontbind moet word.

7 sterf in busongeluk

Sewe mense is dood toe ‘n bus omgeval het buite Graaff-Reinet in die Oos-Kaap Donderdagaand.

Die dubbelverdiepingbus was onderweg vanaf die Transkei na Kaapstad.

Ses volwassenes en ‘n kind is dood en 17 mense is ernstig beseer, het woordvoerder Sizwe Kupelo gesê.

Koue fronte tref Gauteng

Baie koue winterweer word dwarsoor die land verwag oor die volgende paar dae. Johannesburg verwag nog ‘n koue front en temperature sal Saterdagoggend val tot -2’C.

Hoewel daar geen reën voorspel word nie, gaan die sonskyn maar yl wees en dit sal nie warmer as 15’C raak nie. Die weerkantoor het gesê verskeie koue fronte beweeg tans oor Gauteng.

Kapenaars kan nog reën verwag, hoewel daar geen storms sal wees soos vroeër in die week nie.

Agliotti vir R29m gedagvaar

Die beskuldigde in die Brett Kebble-moordsaak, Glenn Agliotti, word nou gedagvaar vir R29m deur die mynmagnaat se eksmaatskappye.

Maar Agliotti, wat die hoofgetuie is in die saak teen die nasionale polisiekommissaris, Jackie Selebi, sê die mynmaatskappye het vir hom die geld gegee om verskeie onwettige aktiwiteite te bedryf.

Hy beweer JCI Limited and Consolidated Mining Management Services Limited, het die geld via Clint Nassif (‘n voormalige dwelmhandelaar en Kebble se sekuriteitshoof) beskikbaar gestel aan Agliotti. Nassif staaf van Agliotti se bewerings.

12-jarige sterf by hospitaal

‘n Jong meisie in Gauteng is in die Edenvale hospitaal opgeneem vir mangelontsteking. Binne ‘n paar uur is sy dood en hospitaalbeamptes sê die 12-jarige Samukelisiswe Sikhundla het by die venster uitgespring.

Maar haar familie sê sy was te swak om te loop en vrees dat iets met haar gebeur het.

Verskeie ondersoeke word gedoen om te bepaal wat gebeur het. Drie verpleegsters is voorlopig geskors.

Storms spoel 21 skeepshouers weg

Die publiek is gewaarsku om weg te bly van hoogs gevaarlike chemiese middels wat uitspoel op Kaapse strande.

Kontak met die chemikalieë kan ernstige beserings en self dood veroorsaak.

Daar is chemikalieë in twee van die 21 skeepshouers wat Donderdag ter see verlore geraak het toe stormsterkwinde en branders van 12m hoog skepe geteister het tydens winterstorms.

Reddingswerkers spook tans om die strande op te ruim terwyl bote gewaarsku is om uit te kyk vir die houers aangesien ‘n botsing ‘n katastrofe sou kon veroorsaak.

Thursday, 25 June 2009

Dokters daag nie op nie

‘n Woordvoerder van Mpumalangase gesondheids departement het ‘n beroep op inwoners gedoen om eerder na klinieke te gaan omdat 81 dokters wat by die Themba hospitaal in KaBokweni werk, Donderdag nie vir werk opgedaag het nie.

Hy sê voorkeur word gegee aan noodgevalle en pasiënte in die hospitaal.

Motata weer in hof

Een van die dronkbestuurklagtes teen regter Nkola Motata is Donderdag teruggetrek, maar hy gaan steeds op ‘n soortgelyke klag, asook dwarsboming van die gereg, verhoor word.

Motata, 62, het glo in Januarie 2007 met sy Jaguar in die muur van Richard Bairdse eiendom in Hurlingham, ‘n noordelike Johannesburgse voorstad vasgejaag. Die saak word op 16 Julie hervat.

Man loop deur en deur ......

‘n Inwoner van Glenwood, Durban, Chad Delport, 36, kan nie glo wat met hom aan die gang is nie – hy is die afgelope ses maande al nege keer besteel.

Delport sê hy kan nie glo dat niemand nog in hegtenis geneem is nie. Hy het elke keer die diefstal aangemeld, maar voorvalle kom maar net gereeld voor.

Kortjese vriend skuldig

Die voormalige kêrel van ‘n vorige Idolsreeks, Karin Kortje, is skuldig bevind aan die moord op ‘n Durbanvillese gastehuiseienaar in 2006.Cheslin Williams is skuldig bevind aan moord, poging tot verkragting en diefstal.

Williams en Kortje het vir ‘n paar dae in Renate Kellermanse Le Petit Chateau gastehuis in 2006 gebly toe die voorval gebeur het. Kellerman is verskeie kere in die nek en bors gesteek.

Nog koue oppad

Gautengers wat dink dit is nóu koud, kan hulself maar staal vir nog meer koue.

Die Suid-Afrikaanse weerburo het Donderdag gesê ‘n koue front nader Gauteng vanaf die suide, en sal die provinsie teen Donderdagaand bereik.

Vrydag sal ook kouer as Donderdag wees, sê die buro.

Dit wil voorkom asof die ergste koue aan’t opklaar is vir Wes-Kapenaars. Die weer klaar op vanuit die suid-weste, en die ysige winde en reën sal Donderdagoggend opklaar.

Paaie gesluit vir Konfed-wedstryd

Die Metropolisie in Johannesburg het aangekondig dat die paaie rondom Ellispark Stadion vanaf Donderdag 13h00 gesluit sal wees weens die Konfederasiebeker wedstryd wat plaasvind.

Die volgende paaie sal vir verkeer gesluit wees: Beit, Miller en Upper Railway.

Motoriste word aangeraai om die M1- en M2-hoofweë te gebruik.

Die Joe Slovo-glybaan op die M2 sal ook gesluit wees. Joe Slovo-weg sal by Abelstraat en Saratogaweg gesluit wees.

Ministers moet verslag lewer aan Zuma

Die minister in die presidensie, Collins Chabane, het Woensdag aangekondig dat alle ministers voortaan vorderringskontrakte en –verslae sal onderteken.

Dit impliseer dat hulle elke kwartaal verslag sal lewer aan President Jacob Zuma omtrent hul departement se doen ten late.

Hulle bedrywighede en vordering sal dan aan die publiek bekend gemaak word.

Nog 2 bedank uit SABC-raad

Drama het Woensdag hoogty gevier by die SABC-verhoor in die Parlement toe raadslede Khanyi Mkonza en Gloria Serobe aangekondig het dat hulle gaan bedank.

‘n Derde van die raad het ook gevra dat die raad ontbind moet word.

Die enigste oorblywende nie-uitvoerende lid, Alison Gillwald, het gesê sy sal nie bedank nie, aangesien sy steeds haar fidusiêre verpligtinge wil nakom.

Minister van Kommunikasie, Siphiwe Nyanda, het die ontbinding van die raad verwelkom, en gesê hy hoop die uitsaaier kan nou ‘n nuwe, vars era betree.

Beweerde bedrog by MTN-Kompetisie

Deelnemers aan 'n MTN-kompetisie is woedend nadat dit aan die lig gekom het dat die wenners van ‘n MTN-kompetisie inligting gehad het omtrent hul posisie in die kompetisie.

Verskeie klagtes is Woensdag ontvang van lesers van die Onafhanklike Koerant-webtuiste IOL, wat daarop aandring dat hul hul geld wil terug hê.

FNB het ook aangekondig dat die bank onttrek het as borg vir die MTN 15 kompetisie, nadat ongeruimdhede aan die lig gekom het.

Wednesday, 24 June 2009

Lekota reageer op klagtes

Cope-president Mosiuoa Lekota het erken dat die afwesigheid van ’n demokrasies verkose partyleierskap die rede kan wees agter die rebelse standpunte van sommige partylede. “Dis omdat Cope spontaan ontstaan het.”

Hy het gereageer op ’n mediavraag oor ’n groep ontevrede Cope-lede wat formele klagtes by die KwaZulu-Natal provinsiale leierskap gelê het.

Lekota het egter geweier om kommentaar te lewer oor die beweerde spanning binne die party se nasionale leierskap en gesê hulle fokus om partystrukture te bou voor die 2011 plaaslike verkiesings.

Een SABC-raadslid oor

Nóg twee SABC-raadslede het bedank, wat een laaste lid, Alison Gillwald, oorlaat.

Gloria Serobe en Khanyisiwe Mkonza het bedank. Daar word van raadslede verwag om ’n drie maande kennistydperk ná hul bedankings te werk.

Intussen is ’n parlementêre ondersoek na die SABC voltrek. Een van die raad se voormalige lede, Andile Mbeki, het die portoliokomitee vir kommunikasie gevra om die raad met onmiddellike effek te ontbind. Voormalige presidensiële woordvoerder, Bheki Khumalo, wat ook as raadslid bedank het, sê daar was “oorspandering van R80 miljoen in buro’s alleen”.

Vrou in werkplek vermoor

Polisie ondersoek ’n moordsaak ná ’n 28-jarige vrou met ’n meswond aan haar nek by haar werkplek, ’n werwingsagentskap in Muizenberg, Kaapstad, gevind is.

Volgens die polisie is Bianca MacGoun deur haar werkgewer op ’n stoel gevind met haar hande agter haar rug vasgebind.

Daar word beweer dat die verdagtes die kantoor deur die voordeur betree het. Niks is gesteel nie.

Shiceka is “koordirigent”

Samewerkende Regeringsminister Sicelo Shiceka het in sy begrotingstoespraak gesê hy’s die “koordirigent” vir al die provinsies, insluitend die Wes-Kaap, op Helen Zille se uitspraak dat sy pogings om in haar provinsie in te meng, sal teëstaan.

“Ons soek ’n enkele venster vir koördinering en dit sal gebeur op provinsiale vlak by die LUR en op nasionale vlak by die koordirigent,” sê Shiceka. Zille sê sy het ’n dringende vergadering met president Zuma gevra om haar griewe hieroor te lug.

Hofsaak oor riool-lekkasies

’n Sakevrou, Carin Visser, wat in hegtenis geneem is toe sy en ander inwoners die rioolaanleg in Sannieshof probeer regmaak het, het haar munisipaliteit hof toe geneem vir swak dienslewering. Die aansoek by die Mafikeng Hoërhof het onder meer gesê hul water is ondrinkbaar weens riool-lekkasies.

Visser en ander versuim sedert November verlede jaar om gelde aan die munisipaliteit te betaal en eerder die geld in ’n privaatrekening inbetaal om te gebruik vir herstelwerk.

Uitspraak word Vrydag verwag.

Storms veroorsaak kragonderbrekings

Dele van Kaapstad sukkel met kragonderbrekings Woensdag weens die stormagtige weer, het die stadsowerhede gesê.

Munisipale woordvoerder, Charles Cooper, het gesê stormsterkte wind het die elektrisiteitsnetwerke aangetas.

Gebiede soos Pinelands, Rondebosch, Plumstead, Observatory, Constantia, Tamboerskloof, Maitland, Paardeneiland en Parowvallei is sonder krag.

Hy het gesê tegnici werk aan die probleem en elektrisiteit sou so gou moontlik weer herstel word.

Ammunisie in huis gevind

Die Johannesburgse polisie het afgekom op ‘n groot hoeveelheid ammunisie versteek onder ‘n houtvloer van ‘n Westdene huis.

Die ammunisie bestaan onder andere uit 1 800 masjiengeweer koeëls, 100 R5-magasyne en ‘n paar handgranate.

Polisiewoordvoerder superintendent Noxolo Kweza het gesê niemand is by die huis gearresteer nie maar dat die vyf mense wat maar sowat ‘n maand lank in die huis gewoon het, gesê het dat hulle niks van die ammunisie weet nie.

Die eienaar van die huis woon iewers buite Gauteng.

Lotto-wenner in die hof

Die voormalige Lotto-wenner, Jason “Pang” Canterbury, het in ‘n Wes-Kaapse hof ontken dat hy betrokke was by die moord van ‘n man wat voorheen vir hom dwelms verkoop het, maar het erken dat hy gehelp het om van die liggaam ontslae te raak.

Canterbury se advokaat, Pete Mihalik, het gesê Henry “No Rules” Stevens is doodgeskiet by Canterbury se huis in Kuilsrivier. Sy liggaam is nooit gevind nie.

Mihalik het gesê die Staat se getuies is onbetroubaar en weerspreek hulself. Hy het gesê een van die getuies het 89 leuens vertel terwyl hy ook toegegee het dat hy betrokke was by die beplanning van die moord.

Nog slegte weer op pad

Drie skepe het amper gestrand te midde van hoë deinings en sterk winde in slegte weer by Kommetjie en Milnerton in die Wes-Kaap Dinsdagmiddag.

Die skeepsvragvervoerskip, Doce River, het ‘n paar honderd meter van Sunset Beach verbygevaar en ‘n ander skip, Viking Eagle, wat gelukkig leeg was, kon omdraai nadat dit oppad was strand toe.

Reddingswerkers het in Houtbaai gesoek na ‘n man wat deur twee vrouens gesien lê is in die water. Sy bootjie is later gevind maar die man is steeds vermis.

Koue weer word vir die hele land voorspel, en besonder nat en ongure weer word vir die Wes-Kaap voorspel.

Winkeleienaar doodgeskiet

‘n Vanderbijlpark winkeleienaar is Dinsdag doodgeskiet deur vier gewapende mans terwyl sy vrou toegekyk het, het Gauteng polisie gesê.

Die 58-jarige man was besig om sy winkel toe te maak 18:00 toe die mans hom beveel het om dit oop te sluit. Hy het geweier en hulle het hom in die bors geskiet.

Die mans het sy vuurwapen afgeneem en op die vlug geslaan.

Tuesday, 23 June 2009

SABC kaarte teen bors

SABC-raadslede het geweier om vrae oor die uitsaaier te beantwoord in ’n Parlementêre ondersoek. Die voormalige adjunk-voorsitter Christine Qunta het ’n verklaring voorgelees namens ten minste sewe raadslede en gesê hulle meen “die manier hoe hierdie ‘ondersoek’ onderneem voldoen nie aan die beginsels van administratiewe regverdigheid nie”.

Nege lede van die SABC se raad van 12 het bedank te midde van ’n fiansiële krisis.

ANC LP Johnny de Lange sê Qunta se verklaring het hom “asemloos” gelaat.

ANC bevestig massa-skorsing

Die ANC het bevestig dat 55 van sy raadslede in die Oos-Kaap geskors is. Die party se provinsiale sekretaris, Pemmy Majodina, sê hulle was onder 87 raadlede wat in Mei uitgeskop is omdat hulle by Cope aangesluit het.

Die skorsing kom ná ’n nasionale dissiplineringskomitee, onder leiding van Cyril Ramaphosa, se appèlproses. Daar is bevind dat die raadslede vir sewe jaar – tot 2016 – nie weer by die party mag aansluit nie.

“Ons maak huis skoon ons sal die ander binne ’n paar dae skors,” sê Majodina.

Dokters dreig met chaos

As die regering nie ’n “geloofwaardige” salarisaanbod aan gesondheidswerkers gee nie, sal Suid-Afrika ’n “revolusie beleef wat nog nooit in sy geskiedenis gesien is nie”, aldus die SA Mediese Assosiasie (Sama).

Sama het ook gereageer op die dreigement van ’n dissiplinêre verhoor deur die HPCSA en gesê dokters probeer al twee jaar onsuksesvol met die regering praat.

Intussen is gesondheidsdienste in Durban, Pietermaritzburg en die Oos-Kaap lamgelê deur die dokters se staking. Die HPCSA sê hy sal nie enige pasiëntverwaarlosing duld nie en dat stakende dokters effektief die wet oortree.

Naakte liggame gevind

Twee naakte liggame met veelvuldige steekwonde is in Durban gevind. Polisiekaptein Khephu Ndlovu sê die liggame is in ’n supermarktrollie gevind in Escourtstraat buite die Durban-stasie.

“Dis ’n vrou in haar laat-20s en ’n mand in sy vroeg-30s. Volgens gemeenskapslede was die man ’n motorwag in die omgewing.”

In ’n onverwante voorval het die polisie die liggaam van ’n vrou in haar vroeg-50s, wat by die Blue Lagoon strand in Durban verdrink het, gevind.

DA-lid ondersoek

Die Wes-Kaapse Provinsiale Parlement ondersoek tans of een van sy nuwe lede, die DA se Jennifer Hartnick, sy gedragskode gebreek het voor sy as lid ingesweer is, toe sy ’n Eden Distriksmunisipaliteitsvergadering as raadslid bygewoon het, twee dae ná sy as LPP in die staatskoerant aangeteken is.

ANC-woordvoerder vir plaaslike regering Pierre Uys sê Hartnick het 13 afdelings van die gedragskode verbreek. Sy het erken dat sy ’n klagte van die ANC ontvang het. As sy skuldig bevind sou word, staar sy ’n boete, skorsing of weglating uit die Provinsiale Parlement in die gesig.

BMX-kampioen in ongeluk

Suid-Afrika se BMX-kampioen is in die hospitaal nadat hy beseer is tydens ‘n ongeluk gedurende ‘n oefensessie.

Sifiso Nhlapo, wat laas jaar die land by die Olimpiese Spele in Beijing verteenwoordig het, het ‘n noodoperasie ondergaan vir werwelbreuke.

Sy bestuurder, Mark Squire, het gesê dit gaan beter met hom en dat hy heelwat pyn ervaar.

Weerwaarskuwing vir Wes-Kaap

Reddingsdienste het gewaarsku dat Wes-Kaapse inwoners moet regmaak vir baie slegte weer oor die volgende paar dae.

Lae temperature, onstuimige see, stormsterkwinde en swaar reën word voorspel.

Owerhede in Kaaptad het mense gewaarsku om weg te bly van die Seepunt promenade, die kus by Valsbaai, die Strand en Gordonsbaai. Diegene met huise na aan die see is gewaarsku om vir stormskade voorsiening te maak.

Dokters betoog in Durban

Meer as 100 dokters in die openbare sektor het Dinsdag buite die Nelson R Mandela Mediese Skool in Durban betoog vir ‘n tweede dag.

Die dokters vra beter salarisse en dreig dat hul protesaksie sal voortduur indien daar nie gehoor gegee word aan hul eise nie.

Die polisie monitor die situasie.

Familie oorleef nagmerrie

‘n Familie van Pietermaritzburg kan hul sterre dank dat hulle lewe en ongedeerd is nadat ‘n naweekbesoek in ‘n nagmerrie ontaard het waarin hulle gekaap en ontvoer is.

Een van die motorkapers het die motor in ‘n sloot gery en die familie is nie beseer nie. Die kapers het na die ongeluk weggehardloop.

Die Naidu familie is gekaap nes hulle in hul Hyundai Tucson wou klim in die oprit van familielede se huis in Northdale. ‘n Jaagtog met polisie het ontstaan toe die kapers deur ‘n padblokkade gejaag het en het uiteindelik in die ongeluk geëindig.

Britte in hospitaal opgeneem

Twee Britse mans is in ‘n kritieke toestand in die hospitaal nadat hulle ‘n oordosis kokaïen in hul Durbanse hotelkamer geneem het.

‘n Dwelmhandelaar het glo R3 000 se kokaïen afgelewer by hul hotelkamer. Hulle is glo ondersteuners van die Britse en Ierse rugbytoer.

‘n Vriend het op hulle afgekom en die hotel en paramedici laat kom.

Monday, 22 June 2009

Brasiliane ook in hotel besteel

Brasilië is die tweede span wat aan die Konfederasiebekertoernooi deelneem wat sê hulle is in hul hotel besteel.

Spanwoordvoerder Rodrigo Paiva sê "’n baadjie en geld" het uit twee van die hotelkamers by die Centurion Lake hotel buite Pretoria verdwyn. Paiva sê hulle vermoed die diewe het toegeslaan terwyl die span Vrydag ’n safaripark besoek het.

Die saak is by die polisie aangegee en die span gaan ook met Fifa daaroor praat.

Kollega het vermoorde arts gewaarsku

Twee weke voordat dr. Michael Sprenger, 55, grusaam in sy praktyk in Rosettenville in die suide van Johannesburg vermoor is, het ’n kollega hom gemaan om veiligheidsmaatreëls te verskerp en nie saans so laat te werk nie.

Sprenger is Donderdagaand herhaaldelik met ’n mes gesteek en keelaf gesny. Daarna is die vertrek aan die brand gesteek. Verskeie rekenaars en skootrekenaars word vermis.

Die polisie ondersoek ’n saak van moord met verswarende omstandighede. Niemand is tot dusver in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Operasie Nomakanjani gaan voort

Die Johannesburgse Metropolisie se Operasie Nomakanjani was Maandagoggend steeds in volle swang – ’n dag nadat die departement gesê het dit is reeds gestaak.

Teen 10:00 was 39 motoriste, insluitende taxibestuurders, reeds gearresteer. Metropolisiehoof David Tembe het gesê die operasie gaan.

Intussen het taxibestuurders onder leiding van die United Taxi Association Forum by die Mary Fitzgerald Plein byeengekom. Hulle eis dat die operasie gestaak word omdat dit glo net taxibestuurders teiken.

Gratis hulp om Lotto-geld te kry

Liefdadigheidsorganisasies wat wag vir die nasionale lotery (Lotto) om geldelike toekennings te verwerk of uit te betaal, kan gratis regshulp kry, het die Demokratiese Alliansie (DA) Maandag gesê.

Volgens partywoordvoerder Patricia Kopane het ’n prokureursfirma hulle dienste gratis aangebied vir liefdadigheids-, kunste- of sportorganisasies wat die Lotto hof toe wil vat.

Verskeie organisasies het by die DA gekla dat Lotto-personeel dokumente “verloor” en sê dat die regte inligting nie ingedien is nie, al het hulle die regte dokumentasie ontvang.

SA-leierskap in Afrika belangrik

Amerika se adjunkminister van buitelandse sake vir Afrika, Johnnie Carson, het gesê die VSA beskou Suid-Afrika se leierskap in Afrika as van kritieke belang vir die suksesvolle ontwikkeling van die vasteland.

Suid-Afrika moet ook nie wegskram van sy verantwoordelikheid as leier nie, maar moet die uitdaging aanvaar. Carson het Donderdag gesê dit sal stabiliteit en langtermyn-groei op die vasteland verseker.

Carson het ook die VSA se steun vir die bewind van president Zuma benadruk.

Geen nuwe H1N1 gevalle

‘n Woordvoerder van die gesondheidsdepartement in Pretoria sê geen nuwe gevalle van die H1N1 virus is aangemeld nie sedert die aankondiging dat ‘n 12-jarige seun in Suid-Afrika vir die virus behandel word.

Die kind het van Meksiko via San Francisco na Johannesburg gevlieg en is ná behandeling ontslaan.

Geen dokterskrisis in KZN - LUR

Die KwaZulu-Natalse LUR vir gesondheid, Dr Sibongiseni Dhlomo, hou vol dat sy departement nie ‘n gesondheidskrisis in die gesig staar nie, hoewel dokters bekend gemaak het dat hulle Maandag gaan staak.

Dokters by staatshospitale, onder andere die King Edward V111, Addington en Mahatma Gandhi, gaan almal glo staak omdat brandpunte nie opgelos word nie. Dhlomo sê hy gaan geen planne wat gemaak word sou daar ‘n staking wees bekend maak nie, want die KZN publiek “hoef nie daarvan te weet nie, omdat daar nie ‘n krisis is nie”.

‘Inisiasieskole lei tot MIV’

Verdraaide onderrig by sekere inisiasieskole lei tot ‘n verhoging in verkragting en die verspreiding van MIV/Vigs, sê aktiviste. Mbulelo Dyasi van Masimanyane, ‘n vroue ondersteuningsgroep in Oos-Londen sê egter: “Dis nie deel van ons tradisie nie, maar misdaad!”

Daar is ‘n mite dat wanneer jong mans terugkeer van inisiasieskole, moet hulle eers seks hê met ‘n vrou wat nie gewoonlik deel is van hul liefdeslewe nie – dis om te sien of alles werk. Dyasi sê dié mite kom veral voor in die Oos- en Wes-Kaap en Mpumalanga.

Optog teen kindergeweld

Francina Jantjies, die ma van ‘n kind wat onlangs vermoor is, was een van duisende mense wat Sondag saam met gesinslede en die Mfuleni gemeenskap ‘n optog teen kindergeweld gehou het. Jantjies het probeer om ‘n houtkruis ter nagedagtenis van Nadine op te kap, maar haar emosies het haar oorweldig.

Sowat 1 000 gemeenskapsleiers en honderde kinders het deelgeneem aan die optog naby die veld waar die sewejarige Nadine onlangs dood gevind is.

Nzimande, Cronin moet bedank - lid

‘n Senior lid van die SA Kommuniste Party, Vishwas Satgar, het die party se sekretaris-generaal Blade Nzimande en sy adjunk, Jeremy Cronin, gevra om te bedank omdat hulle hul loopbane en koste van die organisasie verbeter.

Satgar sê in ‘n nuwe boek dat as die twee nie wil bedank nie, behoort die party formeel te skeur sodat ‘n nuwe linkse beweging of party tot stand kan kom. Hy beweer Nzimande en Cronin wil almal uitwerk wat nie met President Jacob Zuma oor aangeleenthede saamstem nie.

Saturday, 20 June 2009

Leeus-ondersteuners beroof

Vier Britse rugbyondersteuners is Donderdag deur rowers oorval en beroof kort nadat hulle in Suid-Afrika aangekom het.

Hulle is in SA om die Britse en Ierse Leeus te ondersteun.

Volgens die besoekers het ’n groep mans hulle in ’n motor agtervolg toe hulle oppad was na Sandton om by ’n gastehuis in te boek.

Kulula laat honderde gestrand

Honderde Kulula-kliënte is verlede week deur hierdie lugredery in die steek gelaat nadat weerstoestande vlugte belemmer het.

Volgens passasiers het die lugredery hulle nie in kennis gestel of op hoogte gehou van die vertragings nie.

Sommige se vlugte is met soveel as 24 uur vertraag.

Konfederasie-vervoerdiens nie na wense

Die vervoerdienste vir die Konfederasiebeker het hierdie week onder kritiek deurgeloop nadat ondersteuners nie opgelaai is nie, en ander laat was vir wedstryde.

Sommige toeskouers het selfs die eerste helfte van hul wedstryde misgeloop.

Ondersteuners wat die wedstryd Donderdag by Ellispark bygewoon het, het meer as ’n uur in die koue gewag vir taxi’s om hulle te neem na hul voertuie.

Miljoene SA'ners onder sensus-radar

Ongeveer ses miljoen Suid-Afrikaners sal moontlik nie met die volgende sensus getel word nie.

Redes wat hiervoor aangevoer word is dat sommige landsburgers verkies om nie hul fisiese adresse te gee nie, en ander het nie ’n formele blyplek nie.

Mense op die platteland gebruik byvoorbeeld eerde bankens in die omgewing om rigting aan te dui, eerder as hul fisiese adresse.

Munisipaliteite sal binne die volgende 18 maande hierdie probleem moet aanspreek.

Jeugagentskap eis R5 miljoen van Parlement

Die nuwe Nasionale Jeugonwikkelingsagentskap wil ten minste R5 miljoen van Parlement ontvang ten einde hul mandaat om jeugontwikkeling te doen, te vervul.

Die agentskap se voorsitter, Andile Lungisa het Vrydag die aankondiging gemaak.

Lungisa is Julius Malema se adjunk in die ANC Jeugliga.

Zille krap kop oor kinders

Wes-Kaapse premier Premier Helen Zille is in die proses om ‘n kommissaris gemoeid met kindersake in haar kantoor aan te stel om iets oor die veiligheid en beskerming van kinders te doen. Dit volg na die verkragting en moord op nog ‘n kind, dié van Nadine Jantjies. Sy is een van sowat 100 kinders wat elke jaar in Wes-Kaapland vermoor word.

Zille sê die gebruik van dwelmmiddels sal eers onder beheer gebring moet word. Sy sê veral tik verander mense in psigopate.

E-pos dalk Hewana se ondergang

‘n E-pos wat voor die hof gelê is in die saak van die Goodwoodse stasiekommissaris, Siphiwo Hewana, wat onskuldig gepleit het op klagtes van regsverydeling, kan moontlik sy ondergang beteken.

Hewana het glo twee polisiemans gevra om die tyd wat die voormalige ANC hoofsweep Tony Yengeni gearresteer is vir dronkbestuur te wysig. Hewana het glo dié stap geneem om die beeld van die stasie en die provinsiale kantoor te beskerm.

Gesondheidsorg onder die loep

Die DA het die regering daarvan beskuldig dat daar ingemeng word met private gesondheidsorg, terwyl die ANC vir onmiddellike ingryping gevra het omdat private gesondheidsorg nog moeiliker bekostigbaar is.

Die voorsitter van die ANCse subkomitee oor opvoeding en gesondheid en ‘n lid van die nasionale gesondheidsversekeringsplan, Zweli Mkhize, sê die party sal alle belanghebbendes die kans gee om insette te lewer.

IFP kap Mkhize

Die IFP, die amptelike opposisie in KwaZulu-Natal, sê die eerste toespraak van premier Zweli Mkhize het niks nuut om die lyf gehad nie. Mkhize het die provinsie se doelwitte uitgestippel en onder andere aangedui dat hy beoog om die ekonomie in KZN te laat groei, ten spyte van die resessie.

Die IFP sê hulle wil graag weet wat Mkhize daarmee bedoel het. Hulle vra ook meer inligting oor hoe hy beoog om die R3bn oortrokke rekening aan te spreek.

Amptenare moniteer passasiers

Die lughawe owerheid Acsa sê gesondheidsamptenare is by alle internasionale lughawens in Suid-Afrika ontplooi om die voorkoms van oordraagbare siektes te monitor. Acsa sê dié maatreël word deur die wet verplig en amptenare sal die H1N1 of varkgriep virus monitor.

Die Departement van Gesondheid het Donderdag bekend gemaak dat die eerste bevestigde geval van varkgriep in Suid-Afrika voorgekom het.

Friday, 19 June 2009

Omgewing ly weens oorlaaide regstelsel

In haar parlementêre begrotingsrede het die minister van water en omgewingsake, Buyelwa Sonjica, Donderdag gesê die nuwe Groen en Blou Skerpioene gaan geen genade betoon teen omgewingsoortreders nie.

Dit sluit in munisipaliteite wat rou rioolafvoer in waterbronne stort, die Chinese perlemoenmafia, en ander oortreders wat die land se omgewing en waterbronne besoedel.

Sonjica het ook gesê die land se “oorlaaide” regstelsel is die rede vir die gebrek aan resultate wat vervolgings betref. Volgens haar sal omgewingshowe ’n groot verskil maak.

Beampte omgery, taxibestuurders gearresteer

Vyf taxibestuurders van Mfuleni is gearresteer tydens ’n roetine padblokkade nadat ’n verkeersbeampte op die toneel omgery en lig beseer is.

Die mans sal teregstaan op aanklagte van “poging tot moord en die inmenging met polisiewerksaamhede”.

Die polisie en verkeersbeamptes het die padwaardigheid van voertuie en taxipermitte nagegaan, en na onwettige wapens gesoek. In reaksie het die taxibestuurders die beamptes uit die pad gestamp en klippe na verbygaande trokke en busse gegooi.

Sokkersterre in hotel besteel

Die Egiptiese spelers het Donderdag na hul 1-0 sege oor Italië in die Konfederasiebekerwedstryd in Johannesburg ontdek dat geld uit hul hotelkamers gesteel is.

Mohamed Zidan sê verskeie spelers was die slagoffer van die dief of diewe. Etlike duisende VSA dollar is gesteel.

Die spanbestuur het die diefstal by die polisie aangemeld.

Die vuvuzela-dilemma

Die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Oudiologie, Carina Wolmarans, sê die vuvuzela kan ’n mens se gehoor onherstelbaar beskadig.

Verskeie internasionale uitsaaijoernaliste, waaronder Duitsers, kla dat die aanhoudende geraas van die instrument by die Konfederasiebeker-toernooi dit onmoontlik maak vir luisteraars en kykers om hulle te hoor.

Rich Mkhondo, die plaaslike reëlingskomitee se kommunikasiehoof, het Donderdag gesê hy hoop die vuvuzela bly. “Dis ’n tradisionele, feestelike instrument. Ons respekteer dit. Daar is mense wat nie daarvan hou nie, maar ons het nog altyd gesê die wedstryde gaan lawaaierig wees.’’

Dwelmverspreiders raak slinkser

Dwelmverspreiders in Mitchell’s Plein probeer die polisie uitoorlê en versteek nie meer dwelms in huise nie. Hulle raak nou slinkser en gebruik ongewone plekke soos bome, se die LUR vir gemeenskapsveiligheid, Lennit Max.

Die polisie teiken nou spesifiek die verspreiders, mense wat dwelms versteek en aflewer.

Max sê die polisie het al dwelms gekry wat in bome en krake in mure versteek was, of in die grond begrawe was.

Polisie maak misdaadsdeurbraak

Die polisie het twee mans gearresteer wat van meer as 80 motorkapings, huisrooftogte en grypdief-voorvalle verdink word in die Sandton-omgewing.

Ure na die deurbraak in die saak, het polisie nog misdade gevind om te verbind aan die twee mans, wat 31 en 32 jaar oud is.

Een van die verdagtes was uit op borgtog vir ‘n saak waarvoor hy nie weer verskyn het nie. Die mans word by die Bramley polisieselle gehou en sal in die Wynberg magistraatshof verskyn.

Betogers versper pad

Verkeer in Port Elizabeth is Vrydagoggend ontwrig toe betogers die pad tussen die stad en Uitenhage versper het.

Rommel is aan die brand gesteek maar dit was nie duidelik waaroor die betoging was nie.

Hoewel die betogers teen vroegoggend die toneel verlaat het, is twee lane gesluit vir verkeer terwyl die polisie die toneel opgeruim het.

Polisiemans erken Yengeni-leuens

Vier polisiemans het in ‘n Kaapstadse hof getuig dat hulle aangesê is om ‘n dossier oor Tony Yengeni te verander om hom te beskerm en dat die opdrag direk gekom het van die polisiekommissaris, Mzwandile Petros, aangesien Yengeni “’n voormalige ANC-kader” was.

Hulle opdrag het gekom van die Goodwoodse stasiekommissaris, Siphiwo Hewana, wat onskuldig gepleit het op klagtes van regsverydeling.

Yengeni was gearresteer vir dronkbestuur terwyl hy uit was op parool, waarvan een van die voorvereistes was dat hy nie alkohol mag drink nie.

Kommer oor SA varkgriep

Gesondheidsowerhede probeer passasiers in die hande kry wat Johannesburg toe gevlieg het met ‘n 12-jarige seuntjie wat met varkgriep gediagnoseer is.

Die seun wat familie in Suid-Afrika besoek, het vyf dae in afsondering deurgebring nadat hy met die H1N1 siekte gediagnoseer is - die eerste bevestigde geval in SA.

Die seun het oor Meksiko gevlieg nadat hy vanaf San Francisco vetrek het. Hy is Maandagaand in Pretoria in die hospitaal opgeneem en is vrygelaat nadat sy toestand verbeter het maar word steeds in afsondering gehou.

Kwart van SA mans verkrag

Meer as ‘n kwart van Suid-Afrikaanse mans het erken dat hulle al ‘n vrou of ‘n meisie verkrag het, blyk uit ‘n skokkende studie wat deur die Gesondheidsnavorsingsraad bekend gemaak is.

Amper 10% het erken dat hulle ‘n slagoffer gedwing het om omgang te hê voor hulle 10 jaar oud was.

Amper 30% het erken dat hulle al iemand verkrag het. Een in vyf van die erkende verkragters het HIV. Suid-Afrika het van die hoogste verkagtingssyfers ter wêreld asook die grootste hoeveelheid HIV-besmetting.

Thursday, 18 June 2009

H1N1 in SA

Suid-Afrika het sy eerste geval van die H1N1 griepvirus aangemeld, aldus die Departement van Gesondheid. Die twaalfjarige pasiënt, wat van die VSA ingevlieg het, is in die hospitaal opgeneem en in isolasie gehou.

Hy is ontslaan en sterk by die huis in isolasie aan.

Treine beveilig

’n Radikale nuwe veiligheidsplan vir treine en stasies word binnekort geïmplementeer.

Dit volg ná die stigter van die Spoorpendelaars-aksiegroep (RCAG), Leslie van Minnen, ’n 8 jaar lange stryd gevoer het om treine te beveilig ná sy 19-jarige seun Juan in 2001 op ’n trein doodgesteek is.

Die plan sluit in sekuriteitskameras op treine en by stasies, meer treine, meer spoorwegpolisie en beter treinvensters en –deure. Daar sal ook ’n R25 miljoen skikking uitbetaal word aan 51 klaers, almal slagoffers van treingeweld of pendel-ongelukke.

Bestuurder vasgevang na ongeluk

Brandbestryders het onverpoos gewerk om ’n man te bevry wat in sy motor vasgevang was ná ’n ongeluk op die N14 Krugersdorp snelweg.

Woordvoerder vir die Johannesburgse nooddienste, Percy Morokane, sê die ongeluk het op die kruising met Beyers Naude rylaan plaasgevind en drie motors was betrokke. Een bestuurders is kritiek beseer, maar ’n vrou het skynbaar ongedeerd weggestap.

Album verskyn weer in Barbie-saak

Die geheime album met sowat 300 eksplisiet seksuele foto’s van voormalige advokaat Cezanne Visser en ander naakte vroue wat aan Dirk Prinsloo verbind word, is deur ’n maatskaplike werker ondersoek.

Hendrien Nortje van Weskoppies Hospitaal het ’n verslag oor Visser se ongelukkige kinderjare en die invloed daarvan op haar gedrag aan die hof oorhandig en onder meer gesê Visser se oë in die foto’s het “dood en leeg” gelyk. Daar is ook beweer Visser is deur Prinsloo “gestraf” as sy “stout” was en dat sy klere gedra het om die merke weg te steek.

Die staat beweer sowat 40% van die vroue in die foto’s is minderjarig.

Pasiënt wag op operasie

’n Motorfietsryer met ’n gebreekte sleutelbeen wag sedert Maandag om chirurgie te ondergaan weens ’n gebrek aan hulpbronne by die Steve Biko Akademiese Hospitaal.

Gerrie Stassen het op sy oprit in Danville gegly en geval. Ná X-strale moes hy hoor hy het ’n operasie nodig, maar hy wag steeds. Hy moes die hele dag in die ongevalle-eenheid deurbring aangesien daar nie beddens was nie en boonop het die hospitaal sy X-strale verloor.

Die hospitaal wou nie reageer op navrae van Pretoria News nie.

Oudpolisieman in huis oorval

‘n Voormalige polisiekaptein is sewe keer gesteek deur gewapende rowers wat hom en sy ouers in hul huis in Durban oorval het.

Die 45-jarige man is egter dood toe hy in die hart gesteek is. Die man se pa is in die nek gesteek en herstel tans in die hospitaal.

Die rowers het ‘n selfoon en ‘n versameling silwer munte gesteel.

Onderwyser vas vir verkragting

‘n KwaZulu-Natalse onderwyser is borgtog toegestaan nadat hy aangekla is van verkragting deur ‘n leerling van Makhumbuza Hoërskool.

Die leerling beweer dat die onderwyser haar gevolg het in ‘n kantoor in en haar verkrag het. Die 45-jarige onderwyser staar 17 klagtes van seksuele misstappe in die gesig.

Polisiemotor bots met 5 ander

Die polisie ondersoek ‘n saak van roekelose en nalatige bestuur teen een van hul kollegas nadat ‘n polisieman met vyf motors gebots het in Greyville, Durban, Woensdag.

Die polisieman het gesê hy het reageer op ‘n rooftog ten tye van die voorval.

‘n Ooggetuie het gesien dat die polisievoertuig, wat in die verkeerde laan was, probeer het om ‘n motor verby te steek toe ‘n ander motor voor hulle ingedraai het en die motors gebots het en toe begin tol het. Niemand is ernstig beseer nie.

Liefdesdriehoek eindig tragies

‘n KwaZulu-Natalse vrou, wat in ‘n liefdesdriehoek was, is vermoedelik deur haar vriend se ander meisie vermoor.

Die liggaam van Banothile Dlamini is gevind deur polisieduikers in Henley dam. Dit blyk dat sy verdrink is.

Die polisie het gesê hulle het inligting wat daarop dui dat die ander vriendin en haar ma die mans gehuur het om Dlamini dood te maak. Hulle is reeds gearresteer.

Vermiste meisie is verwurg

‘n Nadoodse ondersoek het laat blyk dat Nadine Jantjies, 7, van Wesbank naby Blue Downs dood is weens verwurging, het die Kaapse polisie Woensdag gesê.

‘n Man, 33, vermoedelik die kind se oom, is Woensdag gearresteer vir haar verkragting en moord.

Sy het Maandag weggeraak en haar liggaam is laat Dinsdag gevind.

Wednesday, 17 June 2009

Brand in inkopiesentrum

Brandbestryders het gespook om ’n brand by ’n Durbanse inkopiesentrum te blus.

Volgens ER24 se Derrick Banks is niemand beseer in dié brand, wat by die Workshop Mall se Oriental Restaurant uitgebreek het, nie. Die oorsaak is nie bekend nie.

“Daar was rook in die gebou. Al die mense is ontruim en die vuur is onder beheer gebring.”

Ma wil hospitaal aanvat ná seun sterf

Die ma van ’n 16-jarige tiener wat aan meningitis gesterf het, wil nou regshulp inwin teen die Chris Hani-Baragwanath hospitaal in Soweto.

Judy Alberts sê haar seun Neo is vier keer verkeerd gediagnoseer, drie dae in die hospitaal gelos sonder medikasie en is in sy sterwensuur ’n bed in die intensiewe eenheid geweier.

Volgens ’n verslag van die hospitaal is toetse egter by Neo se aankoms gedoen om meningitis uit te skakel, waarna hy toe op “binneaarse antibiotika vir meningitis” geplaas is. Die verslag sê die seun het negatief getoets vir meningokokkale meningitis, maar dat hy later ’n CT-breinskandering gekry het.

Moordklag teen metro-polisieman

’n Johannesburgse metro-polisieman sal in die Protea landdroshof verskyn op aanklag van ’n moord wat glo plaasgevind het toe vier mans ’n argument oor sy suster gehad het.

Een van die mans is na bewering doodgeskiet toe die polisieman,23, hom konfronteer toe hy hoor hulle stry oor wie haar huis toe sal vergesel.

Twee ander mense is ook in hegtenis geneem in verband met dié voorval.

Soweto-leerders terug in klaskamer

Soweto-leerders is terug in die klaskamer met Gauteng LUR vir Onderwys Barbara Creecy en LUR vir Veiligheid en Sekuriteit Khabisi Mosunkutu wat die township besoek het ná ’n onwettige Sadtu-staking oor ongelukkigheid oor die aanstelling van skoolhoofde in sekere skole.

Onderwysers in en om Soweto se gesluite skole het na bewering ’n skoolhoof geslaan en kinders uit die skool gejaag. Daar is ook berig dat sommige kinders se eksamenskrifte deur stakende onderwysers opgeskeur is.

Creecy sê ’n span sal aangestel word om die voorval te ondersoek.