Tuesday, 30 June 2009

Niemand aangekla ná vrou sterf

Niemand is van moord aangekla ná ’n ongeluk in Sandown waar Mavis Ncube, 25, dood is na sy by staatshospitale weggewys is nie, aldus die polisie.

Superintendent Eugene Opperman sê ’n dossier is geopen en hulle ondersoek steeds die ongeluk. Sommige koerante het berig dat ’n nasionale sokkerspeler verantwoordelik was vir die vrou se dood, toe hy na bewering van ’n partytjie teruggekeer het.die polisie o

Paramedici sê talle staatshospitale het haar weggewys en dat sy later in die Morningside Medi-Clinic oorlede is.

Kaartdief se kooptog eindig

’n 48-Jarige man wat op ’n inkopietog van luukse goedere gegaan het met ’n gesteelde kredietkaart, is in ’n inkopiesentrum in Soweto aangekeer.

Die man het volgens inspekteur Kay Makhubele homself bederf met twee leerbaadjies, ’n duur hemp en bottels ontwerpersreukwater.

Een van die winkelassistente in die Jabulani Mall het egter onreëlmatighede met die kaart opgemerk, maar die man het reeds die winkel verlaat. ’n Sekuriteitswag het hom agtervolg en hy is aan die polisie oorhandig.

Swanger vrou ontduik verkragting

’n Vrou van Soweto het ’n verkragter oorreed om haar alleen te laat omdat sy swanger was, aldus die Jabulani-polisie.

Die vrou was tuis met ’n vriendin toe 'n man omstreeks middernag die deur oopgeforseer en geld en selfone geëis het, waarna die vroue R100 oorhandig het. Hy het een van hulle op die bed neergegooi en sy broek begin uittrek terwyl hy haar met ’n mes gedreig het.

Toe sy egter volhou sy is swanger, het hy weggehardloop. Polisie het hom in ’n woning daarnaby gevind en in hegtenis geneem.

Selebi-kontrak verstryk

President Jacob Zuma en minister van veiligheid en sekuriteit Nathi Mthethwa ontmoet eersdaags om die aanstelling van ’n nasionale polisiekommissaris te bespreek, aangesien Jackie Selebi se kontrak verstryk.

Kommissaris Tim Williams het in Selebi se plek waargeneem, na dié spesiale verlof toegestaan is hangende sy hofsaak oor bewerings van korrupsie.

Oud-president Thabo Mbeki het verlede jaar Selebi se kontrak hernu. Woordvoerder Hangwani Mulaudzi sê ’n aanstelling sal binne die volgende vier weke gemaak word.

Gevaarlike suur by lughawe gesteel

Meer as 80 liter salpetersuur is uit die vrag-afdeling van die PE lughawe gesteel, aldus die Polisie.

Volgens kaptein Andre Beetge het twee gewapende mans sekuriteitswagte om 19:10 aangehou en nege houers gekonsentreerde suur, elk met sowat 10 liter vloeistof, gesteel. Die suur word gebruik in die vervaardiging van kunsmis, plofstowwe en vuurpyl-brandstof en Beetge waarsku dis baie gevaarlik.

Enigeen met inligting kan CrimeStop bel by 08600-10111.

Kragonderbrekings pla Jhb

Verskeie woonbuurte in die noorde van Johannesburg is sonder elektrisiteit sedert Maandagmiddag.

‘n Tegniese fout by ‘n substasie het glo die kragonderbrekings veroorsaak.

Omtrent 50% van huise het weer elektrisiteit gehad teen Maandagaand en Louis Pieterse het gesê die laaste kragonderbrekings sou teen Dinsdagmiddag verby wees.

Die woonbuurte wat geraak is, is Atholl, Houghton, Illovo, Melrose, Bramley en Killarney.

Nog varkgriep in SA

Die nasionale gesondheidsdepartement het Dinsdag gesê dat nog drie mense met varkgriep oor die naweek gediagnoseer is.

Daar is nou al sewe gevalle aangemeld in Suid-Afrika.

Die drie mense het ‘n geskiedenis van onlangse internasionale reise maar dit is nog nie bekend waarvandaan hulle teruggekom het nie. Twee gevalle wat Vrydag gerapporteer is, is van mense wat vanaf Londen en die VSA gereis het.

Sokkerster in die hof

Die voormalige sokkerster, Doctor Khumalo, het Maandag verskyn in die hof op ‘n klag van dronkbestuur.

‘n Getuie, William Sanyane, het vertel dat die oudspeler na alkohol geruik het, onvas op sy voete was en later geweier het om ‘n asemtoets te doen nadat hy sy BMW in ‘n ander voertuig vasgery het. Hy het glo gesukkel om duidelik te praat en sy oë was bloedbelope.

Die staatsaanklaer het gesê Khumalo se bloedalkoholvlak was 0.17mg/l.

Joost sterk goed aan

Die voormalige Springbok-kaptein, Joost van der Westhuizen, is in ‘n stabiele toestand in die hospitaal en sterk goed aan. Hy sal na bewering binnekort ontslaan word.

Sy woordvoerder, Bridget van Oerle, het Maandag gesê dokters hou hom dop en dat sy toestand nie met hart- of breintoestande verband hou nie.

Sy het gesê Van der Westhuizen en sy vrou, Amor Vittone, wou mense bedank vir die ongelooflike ondersteuning wat hulle ontvang het sedert Van der Westhuizen Saterdagnag ineengestort het by sy huis in Dainfern.

200 dokters afgedank

Meer as 200 dokters is afgedank in KwaZulu-Natal nadat hulle nie opgedaag het vir werk by verskillende hospitale in die provinsie nie.

Die provinsiale departement van gesondheid het gesê meer as 226 afdankingsbriewe is uitgereik.

Dit kom nadat die dokters ‘n hofbevel verontagsaam het wat hulle beveel het om die onwettige staking te laat vaar en terug te keer werk toe.

Monday, 29 June 2009

Nog 3 met varkgriep in SA

Die afgelope naweek is nog drie mense in Suid-Afrika met varkgriep gediagnoseer. Daar is nou altesaam sewe gevalle, het die departement van gesondheid gesê.

Al drie van hulle was onlangs oorsee. Die vyfde en sesde pasiënte het effense simptome en die departement samel nog inligting in oor die sewende pasiënt.

Die derde en vierde pasiënte het van Londen en die VSA af gereis.

Volgens Beeld is die rugbyspeler Brian Liebenberg een van die gevalle. Hy het siek geword op reis na Argentinië.

Dogtertjie, 3, vermoor vir R500

Donderdag het ’n man vir Elizabeth Mnembe haar driejarige dogtertjie, Viwe, se skooltas gebring. Op ’n stukkie papier was ’n losprysnota waarin die ontvoerder R500 geëis het om die kind veilig terug te bring.

Mnembe het dadelik die saak by die polisie aangegee.

Die volgende dag is Viwe se skoolklere na Mnembe se familie gestuur.

Saterdag is haar liggaampie in die bosse by Khayelitsha gekry.

’n 24-jarige man, wat aan Mnembe en haar dogtertjie bekend was, is gearresteer en verskyn Maandagoggend in die Khayelitsha-landdroskantoor.

Ma sê verkragte kind ‘praat nonsens’

’n Vrou van 37 jaar en twee mans, onderskeidelik 46 en 59, wat na bewering sedert Desember 2008 haar 10-jarige dogtertjie verkrag het, is in Pretoria gearresteer.

Die vrou is Sondag in Silverton gearresteer omdat sy nie teen die twee mans opgetree het nie. Elke keer as haar dogtertjie by haar gekla het, het die ma vir haar gesê sy praat nonsens.

Die mans is die kind se stiefpa en ’n buurman. Laasgenoemde het die kind glo verkrag as die ma haar gestuur het om geld by hom te leen. Die ma het die dogtertjie en haar boetie ook gereeld by die man se huis laat oorslaap.

Polisiepaar van agter geskiet

Twee Kaapstadse polisiebeamptes, wat in ’n romatiese verhouding betrokke was, is dood aangetref in hulle huis in Kraaifontein. Hulle seuntjie is ses maande oud.

Vogens die polisie is Wilma Fienies, 31, in die rug geskiet. Sy was ’n klerk by die Bishop Lavis-polisiestasie.

Haar lewensmaat, ’n 32-jarige speurderkonstabel, was in Harare in Khayelitsha gestasioneer. Hy is in die kop geskiet. Sy polisiepistool is langs sy liggaam gekry. Die voorval het Saterdagaand plaasgevind.

Die seuntjie, Mathew Marcus, word deur sy tante versorg.

Groote Schuur kom reg sonder stakers

Kaapstad se Groote Schuur-hospitaal kom die mas op ten spyte van die feit dat ongeveer 200 dokters en apters staak, het die hoof operasionele beampte, dr. Saadiq Kariem, Maandag gesê.

Tans is net sowat ’n vyfde van die hospitaal se personeel in hierdie twee professionele kategorieë by die werk.

Die stakers het Maandagoggend in Hoofweg voor die hospitaal betoog voordat hulle vir ’n vergadering verdaag het.

Tot dusver was dit nog nie vir die hospitaal nodig om enige operasies uit te stel nie en “kritieke areas” soos noodgevalle funksioneer ook normaal.

Ondersoek ná dokterstaking

Die gesondheids professionele raad van Suid-Afrika gaan Maandag met ‘n ondersoek begin nadat 16 KwaZulu/Natal dokters blykbaar geweier het om siek kinders te behandel omdat hulle staak.

Die raad gaan probeer vasstel wat regtig by die paediatriese afdeling van die Addington Hospitaal gebeur het. Die ouderdomme van die kinders en presies wat tydens die staking gebeur het, is nie bekend nie.

Piet Retief inwoners ontstoke

Inwoners van Ethandakukhanya in Piet Retief het buitebande gebrand en begin protesteer oor gerugte van munisipale finansiële wanbestuurspraktyke.

Hulle het ook gedreig om die dorp in Mpumalanga onregeerbaar te maak. Hulle het op hierdie stap besluit ná hoëvlak samesprekings en sê nou dat hulle slegs met die provinsiese premier, David Mabuza, sal praat.

Shaik hou partytjie in restaurant

‘n Durban berig lui dat Schabir Shaik blykbaar ‘n wonderbaarlike herstelproses agter die rug het, want hy is glo in ‘n deftige Franse restaurant in Umhlanga gesien. Die geleentheid was ‘n spog middagete ter ere van sy vrou Zuleikhase verjaarsdag.

Shaik het ‘n paar maande mediese parool gekry omdat hy glo op die randjie van die dood was.

Man vermoor glo minnaarse kind

‘n Khayelitsha man, 23, is deur Kaapstadse polisie in hegtenis geneem nadat hy glo die driejarige dogtertjie van sy voormalige minnaar ontvoer en vermoor het.

Die polisie sê die man het die kind by ‘n crèche gaan haal nadat die ma vroeër die dag besluit het om hul verhouding te beëindig. Dieselfde dag nog het die ma die polisie in kennis gestel dat haar kind vermis word.

Joost stort inmekaar

Die voormalige Bokkaptein en Wêreldbekerster Joost van der Westhuizen is in ‘n Johannesburgse hospitaal vir waarneming nadat hy Saterdagaand by sy huis ineengestort het.

‘n Woordvoerder, Bridget van Oerle, het bevestig dat Van der Westhuizen in die hospitaal is, maar het gesê hy het beslis nie ‘n hartaanval of beroerte gehad soos vroeëre gerugte gelui het nie.

Saturday, 27 June 2009

“Leeus-ondersteuners” toe SA’ners

Twee mans, wat verlede Saterdag ‘n oordosis kokaiene geneem het en in die hospitaal beland het, was toe al die tyd Suid-Afrikaners, en nie Britse Leeus-ondersteuners nie.

Die twee mans was aangetrek soos Britse ondersteuners, maar hulle is waarskynlik Johannesburg-inwoners.

Die ondersoek is in ‘n sensitiewe stadium, en die polisie kon geen verdere inligting verskaf nie.

Vriende geskok oor kantoor-moord

‘n Man wat ‘n haaiaanval oorleef het, Achmat Hassiem, het gesê hy is uiters geskok oor die moord op sy vriendin, Bianca McGowen, verlede week in Muizenberg.

Die 29-jarige McGowen is dood in haar St James kantoor gevind met haar hande agter haar rug vasgebind.

Volgens haar vriende was sy ‘n vriendelike mens wat voluit geleef het.

‘n Moordondersoek is geloods, maar niemand is nog gearresteer nie.

Opposisie vra vir onafhanklike beskermer

Die Parlement het die proses om ‘n nuwe publieke beskermer aan te stel, begin, en opposisiepartye het President Jacob Zuma gevra om ‘n “ware onafhanklike” publieke beskermer aan te stel.

Die huidige beskermer, Lawrence Mushwana, se termyn verstryk in Oktober. Die DA se parlementêre leier, Athol Trollip, het gesê die kantoor van die publieke beskermer is een van die belangrikste instellings in die land, en dus is dit belangrik dat dit vry is van enige party invloede.

Nog twee varkgriep-gevalle aangemeld

Die Departement van Gesondheid het Saterdag aangekondig dat ‘n derde en vierde geval van Varkgriep in Suid-Afrika bevestig is.

Die een pasiënt het op 24 Junie vanaf Londen gekom, en het griepsimptome gehad.

Die ander voorval is ‘n vrou wat op 20 Junie vanaf Amerika na Suid-Afrika gevlieg het.

Die departement het die publiek gemaan om nie paniekbevange te raak nie, en gesê die nuwe gevalle word nie verbind met die vorige gevalle nie.

"Polisie was bang vir swak publisiteit"

Volgens ‘n ondersteuner van die Britse Leeus, wat 50 meter van sy gastehuis in Bloemfontein bewusteloos gevind is, was die polisie bekommerd oor die swak publisiteit wat sy saak sal kry.

Midge Ferguson van Engeland is op 6 Junie in die oggendure gevind.

Hy het meer as ‘n liter bloed verloor. Sy selfoon was gesteel, maar sy beursie was nog by hom.

Ferguson het saam met ander ondersteuners gekuier na die wedstryd tussen die Leeus en die Cheetahs, en is oppad na sy gastehuis oorval.

Polisie waarsku motoriste oor N3

Die polisie het motoriste in KwaZulu-Natal gemaan om nie op die N3 tussen die Rockdalebrug en Pavilion afritte naby Westville te stop nie weens baie voertuig-kapings en rooftogte. Hulle noem glo nou dié stuk pad die ‘Bermuda Driehoek’.

‘n Woordvoerder sê hulle kry elke maand minstens ses verslae van rooftogte of poging tot kaping op dié stuk pad. Die polisie vind dit vreemd hoeveel motoriste skielik nie meer brandstof het nie, of hulle voertuie raak onklaar of hulle kry ‘n pap wiel of hulle stop om selfone te beantwoord.

Mans met polisie uniforms in hegtenis

Die polisie in Oos-Kaapland sê twee mans is in Port Elizabeth in hegtenis geneem nadat hulle in besit betrap is van ‘n masjiengeweer en polisie uniforms. Die polisie het op ‘n wenk reageer en ‘n huis in Mkewanastraat in KwaZakhele vroeg Saterdagoggend deursoek.

‘n Woordvoerder sê beslag is gelê op blou ligte, radios, 30 selfone en kontantsakke van Fidelity Guards. Hulle gaan Maandag in die hof verskyn op aanklagte van gesteelde eiendom, die onwettige besit van polisie uniforms en onwettige besit van ‘n vuurwapen.

Dlamini-Zuma klap die sweep

Die Binnelandse Sake Minister, Nkosazana Dlamini-Zuma het onderneem om
“sommer baie” amptenare in haar departement die trekpas te gee as hulle nie hul werk na behore doen nie. Sy het in die Parlement maatreëls aangekondig om sekuriteit op te skerp en die uitreiking van dokumente te bespoedig.

“Hoewel daar duisende hardwerkende, eerlike staatsamptenare is, is daar ook korrupte amptenare wat met sindikate, korrupte burgerlikes en ander saamwerk. Ons gaan hulle uitroei”.

Vuurwapeneienaars slaak sug van verligting

Die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging het ‘n interdik van die hooggeregshof verwelkom wat sal verhoed dat vuurwapeneienarrs wat nie hul lisensies hernu het nie, van middernag op 30 Junie vervolg kon word.

Regter Bill Prinsloo het bevind dat die vereniging ’n saak het. Hulle betwis die grondwetlikheid van sekere bepalings van die nuwe Wet op Vuurwapenbeheer.

‘n Polisiewoordvoerder, Phuti Setati, sê die polisie aanvaar Prinsloo se uitspraak.

Bankrowers lank tronk toe

Agt van die nege mans wat daarvan skuldig bevind is dat hulle ‘n ENB depot in Selby van R46 miljoen beroof het, is tot 20 jaars tronkstraf elk gevonnis. Die negende bendelid sal 22 jaar in die tronk sit omdat hy op die polisie gevuur het. Die rooftog het in Februarie 2006 plaasgevind toe die mans die depot met semi-automatiese gewere binnegestorm het.

Regter Zukiswa Tshiqi het in sy uitspraak gesê dit was duidelik dat die rooftog haarfyn beplan is met die hulp van die bankse senior veiligheidswagte.

Friday, 26 June 2009

Plan vir Zim-permitte binnekort gereed

Planne sal binnekort aan die kabinet voorgelê word oor die implementering van die besluit om gratis 90-dae permitte aan Zimbabwiërs uit te reik as hulle tydelik in Suid-Afrika wil werk, sê die minister van binnelandse sake, Nkosazana Dlamini Zuma.

Dié maatreël is in Mei deur haar voorganger aangekondig, maar toe was daar nie 'n plan vir die implemtering daarvan nie.

Dlamini Zuma hoop die spesiale besoekerspermitte sal help om die stortvloed asielaansoeke van Zimbamwiërs te stuit.

Taung-kind ‘veilig’

Die Taung-kind, een van Suid-Afrika se beroemdste fossiele, het Donderdag ’n nuwe tuiste gekry. Hy (of sy) sal voortaan in ’n spesiale kissie uitgestal word wat deur lede van die Museum vir Natuurstudie in Toulouse, Frankryk gebou is.

Dié kissie is uitgevoer met spons wat weggesny is sodat die skedel perfek daarin pas, en met deursigtige plastiek bedek. Voorheen is die skedel in ’n eenvoudige houtkissie gehou wat al eenkeer in ’n Londense taxi agtergebly het.

Die Taung-kind het 2 miljoen jaar terug gelewe.

Waarskuwing oor toksiese houers

’n Navigasiewaarskuwing is aan alle vaartuie langs die Suid-Afrikaanse kus uitgestuur nadat ’n vragskip 21 houers naby Kaapstad verloor het.

Drie van die houers bevat die toksiese middel kresielsuur. Twee van hulle het reeds uitgespoel – een by Kampsbaai en die ander by Seepunt.

Die Safmarine Meru het die houers Dinsdag onderweg van Port Elizabeth na Kaapstad in stormweer verloor. Die suur bedreig nie die seelewe nie, maar is gevaarlik vir mense.

Vrou skenk geboorte in polisiestasie

Khonzephi Ngcobo, 22, of Umlazi, se babaseuntjie is Woensdag in 'n Durbanse polisiestasie gebore.

Toe sy die pyn in haar maag voel, het Ngcobo nie geweet wat aangaan nie, want dit was haar eerste baba. Sy was in elk geval net sewe maande swanger en het die pyn geïgnoreer totdat dit ondraaglik geword het.

’n Vriendelike motoris het haar opgelaai en by die Sydenham Polisiestasie afgelaai. Daar het die vroulike polisiebeamptes haar met die geboorte gehelp.

SAUK-raad ‘moet ontbind word’

Die parlement se portefeuljekomitee vir kommunikasie het Vrydag aanbeveel dat die SAUK-raad ontbind moet word.

In ’n verslag wat by die parlement ingedien is, sê die komitee die SAUK kan nie langer sy statutêre pligte nakom nie.

Die komitee het ook bevind dat die huidige raad nie bevoeg genoegof in staat is om hierdie pligte na te kom nie. Die komitee se eenparige aanbeveling is dus dat die raad ontbind moet word.

7 sterf in busongeluk

Sewe mense is dood toe ‘n bus omgeval het buite Graaff-Reinet in die Oos-Kaap Donderdagaand.

Die dubbelverdiepingbus was onderweg vanaf die Transkei na Kaapstad.

Ses volwassenes en ‘n kind is dood en 17 mense is ernstig beseer, het woordvoerder Sizwe Kupelo gesê.

Koue fronte tref Gauteng

Baie koue winterweer word dwarsoor die land verwag oor die volgende paar dae. Johannesburg verwag nog ‘n koue front en temperature sal Saterdagoggend val tot -2’C.

Hoewel daar geen reën voorspel word nie, gaan die sonskyn maar yl wees en dit sal nie warmer as 15’C raak nie. Die weerkantoor het gesê verskeie koue fronte beweeg tans oor Gauteng.

Kapenaars kan nog reën verwag, hoewel daar geen storms sal wees soos vroeër in die week nie.

Agliotti vir R29m gedagvaar

Die beskuldigde in die Brett Kebble-moordsaak, Glenn Agliotti, word nou gedagvaar vir R29m deur die mynmagnaat se eksmaatskappye.

Maar Agliotti, wat die hoofgetuie is in die saak teen die nasionale polisiekommissaris, Jackie Selebi, sê die mynmaatskappye het vir hom die geld gegee om verskeie onwettige aktiwiteite te bedryf.

Hy beweer JCI Limited and Consolidated Mining Management Services Limited, het die geld via Clint Nassif (‘n voormalige dwelmhandelaar en Kebble se sekuriteitshoof) beskikbaar gestel aan Agliotti. Nassif staaf van Agliotti se bewerings.

12-jarige sterf by hospitaal

‘n Jong meisie in Gauteng is in die Edenvale hospitaal opgeneem vir mangelontsteking. Binne ‘n paar uur is sy dood en hospitaalbeamptes sê die 12-jarige Samukelisiswe Sikhundla het by die venster uitgespring.

Maar haar familie sê sy was te swak om te loop en vrees dat iets met haar gebeur het.

Verskeie ondersoeke word gedoen om te bepaal wat gebeur het. Drie verpleegsters is voorlopig geskors.

Storms spoel 21 skeepshouers weg

Die publiek is gewaarsku om weg te bly van hoogs gevaarlike chemiese middels wat uitspoel op Kaapse strande.

Kontak met die chemikalieë kan ernstige beserings en self dood veroorsaak.

Daar is chemikalieë in twee van die 21 skeepshouers wat Donderdag ter see verlore geraak het toe stormsterkwinde en branders van 12m hoog skepe geteister het tydens winterstorms.

Reddingswerkers spook tans om die strande op te ruim terwyl bote gewaarsku is om uit te kyk vir die houers aangesien ‘n botsing ‘n katastrofe sou kon veroorsaak.

Thursday, 25 June 2009

Dokters daag nie op nie

‘n Woordvoerder van Mpumalangase gesondheids departement het ‘n beroep op inwoners gedoen om eerder na klinieke te gaan omdat 81 dokters wat by die Themba hospitaal in KaBokweni werk, Donderdag nie vir werk opgedaag het nie.

Hy sê voorkeur word gegee aan noodgevalle en pasiënte in die hospitaal.

Motata weer in hof

Een van die dronkbestuurklagtes teen regter Nkola Motata is Donderdag teruggetrek, maar hy gaan steeds op ‘n soortgelyke klag, asook dwarsboming van die gereg, verhoor word.

Motata, 62, het glo in Januarie 2007 met sy Jaguar in die muur van Richard Bairdse eiendom in Hurlingham, ‘n noordelike Johannesburgse voorstad vasgejaag. Die saak word op 16 Julie hervat.

Man loop deur en deur ......

‘n Inwoner van Glenwood, Durban, Chad Delport, 36, kan nie glo wat met hom aan die gang is nie – hy is die afgelope ses maande al nege keer besteel.

Delport sê hy kan nie glo dat niemand nog in hegtenis geneem is nie. Hy het elke keer die diefstal aangemeld, maar voorvalle kom maar net gereeld voor.

Kortjese vriend skuldig

Die voormalige kêrel van ‘n vorige Idolsreeks, Karin Kortje, is skuldig bevind aan die moord op ‘n Durbanvillese gastehuiseienaar in 2006.Cheslin Williams is skuldig bevind aan moord, poging tot verkragting en diefstal.

Williams en Kortje het vir ‘n paar dae in Renate Kellermanse Le Petit Chateau gastehuis in 2006 gebly toe die voorval gebeur het. Kellerman is verskeie kere in die nek en bors gesteek.

Nog koue oppad

Gautengers wat dink dit is nóu koud, kan hulself maar staal vir nog meer koue.

Die Suid-Afrikaanse weerburo het Donderdag gesê ‘n koue front nader Gauteng vanaf die suide, en sal die provinsie teen Donderdagaand bereik.

Vrydag sal ook kouer as Donderdag wees, sê die buro.

Dit wil voorkom asof die ergste koue aan’t opklaar is vir Wes-Kapenaars. Die weer klaar op vanuit die suid-weste, en die ysige winde en reën sal Donderdagoggend opklaar.

Paaie gesluit vir Konfed-wedstryd

Die Metropolisie in Johannesburg het aangekondig dat die paaie rondom Ellispark Stadion vanaf Donderdag 13h00 gesluit sal wees weens die Konfederasiebeker wedstryd wat plaasvind.

Die volgende paaie sal vir verkeer gesluit wees: Beit, Miller en Upper Railway.

Motoriste word aangeraai om die M1- en M2-hoofweë te gebruik.

Die Joe Slovo-glybaan op die M2 sal ook gesluit wees. Joe Slovo-weg sal by Abelstraat en Saratogaweg gesluit wees.

Ministers moet verslag lewer aan Zuma

Die minister in die presidensie, Collins Chabane, het Woensdag aangekondig dat alle ministers voortaan vorderringskontrakte en –verslae sal onderteken.

Dit impliseer dat hulle elke kwartaal verslag sal lewer aan President Jacob Zuma omtrent hul departement se doen ten late.

Hulle bedrywighede en vordering sal dan aan die publiek bekend gemaak word.

Nog 2 bedank uit SABC-raad

Drama het Woensdag hoogty gevier by die SABC-verhoor in die Parlement toe raadslede Khanyi Mkonza en Gloria Serobe aangekondig het dat hulle gaan bedank.

‘n Derde van die raad het ook gevra dat die raad ontbind moet word.

Die enigste oorblywende nie-uitvoerende lid, Alison Gillwald, het gesê sy sal nie bedank nie, aangesien sy steeds haar fidusiêre verpligtinge wil nakom.

Minister van Kommunikasie, Siphiwe Nyanda, het die ontbinding van die raad verwelkom, en gesê hy hoop die uitsaaier kan nou ‘n nuwe, vars era betree.

Beweerde bedrog by MTN-Kompetisie

Deelnemers aan 'n MTN-kompetisie is woedend nadat dit aan die lig gekom het dat die wenners van ‘n MTN-kompetisie inligting gehad het omtrent hul posisie in die kompetisie.

Verskeie klagtes is Woensdag ontvang van lesers van die Onafhanklike Koerant-webtuiste IOL, wat daarop aandring dat hul hul geld wil terug hê.

FNB het ook aangekondig dat die bank onttrek het as borg vir die MTN 15 kompetisie, nadat ongeruimdhede aan die lig gekom het.

Wednesday, 24 June 2009

Lekota reageer op klagtes

Cope-president Mosiuoa Lekota het erken dat die afwesigheid van ’n demokrasies verkose partyleierskap die rede kan wees agter die rebelse standpunte van sommige partylede. “Dis omdat Cope spontaan ontstaan het.”

Hy het gereageer op ’n mediavraag oor ’n groep ontevrede Cope-lede wat formele klagtes by die KwaZulu-Natal provinsiale leierskap gelê het.

Lekota het egter geweier om kommentaar te lewer oor die beweerde spanning binne die party se nasionale leierskap en gesê hulle fokus om partystrukture te bou voor die 2011 plaaslike verkiesings.

Een SABC-raadslid oor

Nóg twee SABC-raadslede het bedank, wat een laaste lid, Alison Gillwald, oorlaat.

Gloria Serobe en Khanyisiwe Mkonza het bedank. Daar word van raadslede verwag om ’n drie maande kennistydperk ná hul bedankings te werk.

Intussen is ’n parlementêre ondersoek na die SABC voltrek. Een van die raad se voormalige lede, Andile Mbeki, het die portoliokomitee vir kommunikasie gevra om die raad met onmiddellike effek te ontbind. Voormalige presidensiële woordvoerder, Bheki Khumalo, wat ook as raadslid bedank het, sê daar was “oorspandering van R80 miljoen in buro’s alleen”.

Vrou in werkplek vermoor

Polisie ondersoek ’n moordsaak ná ’n 28-jarige vrou met ’n meswond aan haar nek by haar werkplek, ’n werwingsagentskap in Muizenberg, Kaapstad, gevind is.

Volgens die polisie is Bianca MacGoun deur haar werkgewer op ’n stoel gevind met haar hande agter haar rug vasgebind.

Daar word beweer dat die verdagtes die kantoor deur die voordeur betree het. Niks is gesteel nie.

Shiceka is “koordirigent”

Samewerkende Regeringsminister Sicelo Shiceka het in sy begrotingstoespraak gesê hy’s die “koordirigent” vir al die provinsies, insluitend die Wes-Kaap, op Helen Zille se uitspraak dat sy pogings om in haar provinsie in te meng, sal teëstaan.

“Ons soek ’n enkele venster vir koördinering en dit sal gebeur op provinsiale vlak by die LUR en op nasionale vlak by die koordirigent,” sê Shiceka. Zille sê sy het ’n dringende vergadering met president Zuma gevra om haar griewe hieroor te lug.

Hofsaak oor riool-lekkasies

’n Sakevrou, Carin Visser, wat in hegtenis geneem is toe sy en ander inwoners die rioolaanleg in Sannieshof probeer regmaak het, het haar munisipaliteit hof toe geneem vir swak dienslewering. Die aansoek by die Mafikeng Hoërhof het onder meer gesê hul water is ondrinkbaar weens riool-lekkasies.

Visser en ander versuim sedert November verlede jaar om gelde aan die munisipaliteit te betaal en eerder die geld in ’n privaatrekening inbetaal om te gebruik vir herstelwerk.

Uitspraak word Vrydag verwag.

Storms veroorsaak kragonderbrekings

Dele van Kaapstad sukkel met kragonderbrekings Woensdag weens die stormagtige weer, het die stadsowerhede gesê.

Munisipale woordvoerder, Charles Cooper, het gesê stormsterkte wind het die elektrisiteitsnetwerke aangetas.

Gebiede soos Pinelands, Rondebosch, Plumstead, Observatory, Constantia, Tamboerskloof, Maitland, Paardeneiland en Parowvallei is sonder krag.

Hy het gesê tegnici werk aan die probleem en elektrisiteit sou so gou moontlik weer herstel word.

Ammunisie in huis gevind

Die Johannesburgse polisie het afgekom op ‘n groot hoeveelheid ammunisie versteek onder ‘n houtvloer van ‘n Westdene huis.

Die ammunisie bestaan onder andere uit 1 800 masjiengeweer koeëls, 100 R5-magasyne en ‘n paar handgranate.

Polisiewoordvoerder superintendent Noxolo Kweza het gesê niemand is by die huis gearresteer nie maar dat die vyf mense wat maar sowat ‘n maand lank in die huis gewoon het, gesê het dat hulle niks van die ammunisie weet nie.

Die eienaar van die huis woon iewers buite Gauteng.

Lotto-wenner in die hof

Die voormalige Lotto-wenner, Jason “Pang” Canterbury, het in ‘n Wes-Kaapse hof ontken dat hy betrokke was by die moord van ‘n man wat voorheen vir hom dwelms verkoop het, maar het erken dat hy gehelp het om van die liggaam ontslae te raak.

Canterbury se advokaat, Pete Mihalik, het gesê Henry “No Rules” Stevens is doodgeskiet by Canterbury se huis in Kuilsrivier. Sy liggaam is nooit gevind nie.

Mihalik het gesê die Staat se getuies is onbetroubaar en weerspreek hulself. Hy het gesê een van die getuies het 89 leuens vertel terwyl hy ook toegegee het dat hy betrokke was by die beplanning van die moord.

Nog slegte weer op pad

Drie skepe het amper gestrand te midde van hoë deinings en sterk winde in slegte weer by Kommetjie en Milnerton in die Wes-Kaap Dinsdagmiddag.

Die skeepsvragvervoerskip, Doce River, het ‘n paar honderd meter van Sunset Beach verbygevaar en ‘n ander skip, Viking Eagle, wat gelukkig leeg was, kon omdraai nadat dit oppad was strand toe.

Reddingswerkers het in Houtbaai gesoek na ‘n man wat deur twee vrouens gesien lê is in die water. Sy bootjie is later gevind maar die man is steeds vermis.

Koue weer word vir die hele land voorspel, en besonder nat en ongure weer word vir die Wes-Kaap voorspel.

Winkeleienaar doodgeskiet

‘n Vanderbijlpark winkeleienaar is Dinsdag doodgeskiet deur vier gewapende mans terwyl sy vrou toegekyk het, het Gauteng polisie gesê.

Die 58-jarige man was besig om sy winkel toe te maak 18:00 toe die mans hom beveel het om dit oop te sluit. Hy het geweier en hulle het hom in die bors geskiet.

Die mans het sy vuurwapen afgeneem en op die vlug geslaan.

Tuesday, 23 June 2009

SABC kaarte teen bors

SABC-raadslede het geweier om vrae oor die uitsaaier te beantwoord in ’n Parlementêre ondersoek. Die voormalige adjunk-voorsitter Christine Qunta het ’n verklaring voorgelees namens ten minste sewe raadslede en gesê hulle meen “die manier hoe hierdie ‘ondersoek’ onderneem voldoen nie aan die beginsels van administratiewe regverdigheid nie”.

Nege lede van die SABC se raad van 12 het bedank te midde van ’n fiansiële krisis.

ANC LP Johnny de Lange sê Qunta se verklaring het hom “asemloos” gelaat.

ANC bevestig massa-skorsing

Die ANC het bevestig dat 55 van sy raadslede in die Oos-Kaap geskors is. Die party se provinsiale sekretaris, Pemmy Majodina, sê hulle was onder 87 raadlede wat in Mei uitgeskop is omdat hulle by Cope aangesluit het.

Die skorsing kom ná ’n nasionale dissiplineringskomitee, onder leiding van Cyril Ramaphosa, se appèlproses. Daar is bevind dat die raadslede vir sewe jaar – tot 2016 – nie weer by die party mag aansluit nie.

“Ons maak huis skoon ons sal die ander binne ’n paar dae skors,” sê Majodina.

Dokters dreig met chaos

As die regering nie ’n “geloofwaardige” salarisaanbod aan gesondheidswerkers gee nie, sal Suid-Afrika ’n “revolusie beleef wat nog nooit in sy geskiedenis gesien is nie”, aldus die SA Mediese Assosiasie (Sama).

Sama het ook gereageer op die dreigement van ’n dissiplinêre verhoor deur die HPCSA en gesê dokters probeer al twee jaar onsuksesvol met die regering praat.

Intussen is gesondheidsdienste in Durban, Pietermaritzburg en die Oos-Kaap lamgelê deur die dokters se staking. Die HPCSA sê hy sal nie enige pasiëntverwaarlosing duld nie en dat stakende dokters effektief die wet oortree.

Naakte liggame gevind

Twee naakte liggame met veelvuldige steekwonde is in Durban gevind. Polisiekaptein Khephu Ndlovu sê die liggame is in ’n supermarktrollie gevind in Escourtstraat buite die Durban-stasie.

“Dis ’n vrou in haar laat-20s en ’n mand in sy vroeg-30s. Volgens gemeenskapslede was die man ’n motorwag in die omgewing.”

In ’n onverwante voorval het die polisie die liggaam van ’n vrou in haar vroeg-50s, wat by die Blue Lagoon strand in Durban verdrink het, gevind.

DA-lid ondersoek

Die Wes-Kaapse Provinsiale Parlement ondersoek tans of een van sy nuwe lede, die DA se Jennifer Hartnick, sy gedragskode gebreek het voor sy as lid ingesweer is, toe sy ’n Eden Distriksmunisipaliteitsvergadering as raadslid bygewoon het, twee dae ná sy as LPP in die staatskoerant aangeteken is.

ANC-woordvoerder vir plaaslike regering Pierre Uys sê Hartnick het 13 afdelings van die gedragskode verbreek. Sy het erken dat sy ’n klagte van die ANC ontvang het. As sy skuldig bevind sou word, staar sy ’n boete, skorsing of weglating uit die Provinsiale Parlement in die gesig.

BMX-kampioen in ongeluk

Suid-Afrika se BMX-kampioen is in die hospitaal nadat hy beseer is tydens ‘n ongeluk gedurende ‘n oefensessie.

Sifiso Nhlapo, wat laas jaar die land by die Olimpiese Spele in Beijing verteenwoordig het, het ‘n noodoperasie ondergaan vir werwelbreuke.

Sy bestuurder, Mark Squire, het gesê dit gaan beter met hom en dat hy heelwat pyn ervaar.

Weerwaarskuwing vir Wes-Kaap

Reddingsdienste het gewaarsku dat Wes-Kaapse inwoners moet regmaak vir baie slegte weer oor die volgende paar dae.

Lae temperature, onstuimige see, stormsterkwinde en swaar reën word voorspel.

Owerhede in Kaaptad het mense gewaarsku om weg te bly van die Seepunt promenade, die kus by Valsbaai, die Strand en Gordonsbaai. Diegene met huise na aan die see is gewaarsku om vir stormskade voorsiening te maak.

Dokters betoog in Durban

Meer as 100 dokters in die openbare sektor het Dinsdag buite die Nelson R Mandela Mediese Skool in Durban betoog vir ‘n tweede dag.

Die dokters vra beter salarisse en dreig dat hul protesaksie sal voortduur indien daar nie gehoor gegee word aan hul eise nie.

Die polisie monitor die situasie.

Familie oorleef nagmerrie

‘n Familie van Pietermaritzburg kan hul sterre dank dat hulle lewe en ongedeerd is nadat ‘n naweekbesoek in ‘n nagmerrie ontaard het waarin hulle gekaap en ontvoer is.

Een van die motorkapers het die motor in ‘n sloot gery en die familie is nie beseer nie. Die kapers het na die ongeluk weggehardloop.

Die Naidu familie is gekaap nes hulle in hul Hyundai Tucson wou klim in die oprit van familielede se huis in Northdale. ‘n Jaagtog met polisie het ontstaan toe die kapers deur ‘n padblokkade gejaag het en het uiteindelik in die ongeluk geëindig.

Britte in hospitaal opgeneem

Twee Britse mans is in ‘n kritieke toestand in die hospitaal nadat hulle ‘n oordosis kokaïen in hul Durbanse hotelkamer geneem het.

‘n Dwelmhandelaar het glo R3 000 se kokaïen afgelewer by hul hotelkamer. Hulle is glo ondersteuners van die Britse en Ierse rugbytoer.

‘n Vriend het op hulle afgekom en die hotel en paramedici laat kom.

Monday, 22 June 2009

Brasiliane ook in hotel besteel

Brasilië is die tweede span wat aan die Konfederasiebekertoernooi deelneem wat sê hulle is in hul hotel besteel.

Spanwoordvoerder Rodrigo Paiva sê "’n baadjie en geld" het uit twee van die hotelkamers by die Centurion Lake hotel buite Pretoria verdwyn. Paiva sê hulle vermoed die diewe het toegeslaan terwyl die span Vrydag ’n safaripark besoek het.

Die saak is by die polisie aangegee en die span gaan ook met Fifa daaroor praat.

Kollega het vermoorde arts gewaarsku

Twee weke voordat dr. Michael Sprenger, 55, grusaam in sy praktyk in Rosettenville in die suide van Johannesburg vermoor is, het ’n kollega hom gemaan om veiligheidsmaatreëls te verskerp en nie saans so laat te werk nie.

Sprenger is Donderdagaand herhaaldelik met ’n mes gesteek en keelaf gesny. Daarna is die vertrek aan die brand gesteek. Verskeie rekenaars en skootrekenaars word vermis.

Die polisie ondersoek ’n saak van moord met verswarende omstandighede. Niemand is tot dusver in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Operasie Nomakanjani gaan voort

Die Johannesburgse Metropolisie se Operasie Nomakanjani was Maandagoggend steeds in volle swang – ’n dag nadat die departement gesê het dit is reeds gestaak.

Teen 10:00 was 39 motoriste, insluitende taxibestuurders, reeds gearresteer. Metropolisiehoof David Tembe het gesê die operasie gaan.

Intussen het taxibestuurders onder leiding van die United Taxi Association Forum by die Mary Fitzgerald Plein byeengekom. Hulle eis dat die operasie gestaak word omdat dit glo net taxibestuurders teiken.

Gratis hulp om Lotto-geld te kry

Liefdadigheidsorganisasies wat wag vir die nasionale lotery (Lotto) om geldelike toekennings te verwerk of uit te betaal, kan gratis regshulp kry, het die Demokratiese Alliansie (DA) Maandag gesê.

Volgens partywoordvoerder Patricia Kopane het ’n prokureursfirma hulle dienste gratis aangebied vir liefdadigheids-, kunste- of sportorganisasies wat die Lotto hof toe wil vat.

Verskeie organisasies het by die DA gekla dat Lotto-personeel dokumente “verloor” en sê dat die regte inligting nie ingedien is nie, al het hulle die regte dokumentasie ontvang.

SA-leierskap in Afrika belangrik

Amerika se adjunkminister van buitelandse sake vir Afrika, Johnnie Carson, het gesê die VSA beskou Suid-Afrika se leierskap in Afrika as van kritieke belang vir die suksesvolle ontwikkeling van die vasteland.

Suid-Afrika moet ook nie wegskram van sy verantwoordelikheid as leier nie, maar moet die uitdaging aanvaar. Carson het Donderdag gesê dit sal stabiliteit en langtermyn-groei op die vasteland verseker.

Carson het ook die VSA se steun vir die bewind van president Zuma benadruk.

Geen nuwe H1N1 gevalle

‘n Woordvoerder van die gesondheidsdepartement in Pretoria sê geen nuwe gevalle van die H1N1 virus is aangemeld nie sedert die aankondiging dat ‘n 12-jarige seun in Suid-Afrika vir die virus behandel word.

Die kind het van Meksiko via San Francisco na Johannesburg gevlieg en is ná behandeling ontslaan.

Geen dokterskrisis in KZN - LUR

Die KwaZulu-Natalse LUR vir gesondheid, Dr Sibongiseni Dhlomo, hou vol dat sy departement nie ‘n gesondheidskrisis in die gesig staar nie, hoewel dokters bekend gemaak het dat hulle Maandag gaan staak.

Dokters by staatshospitale, onder andere die King Edward V111, Addington en Mahatma Gandhi, gaan almal glo staak omdat brandpunte nie opgelos word nie. Dhlomo sê hy gaan geen planne wat gemaak word sou daar ‘n staking wees bekend maak nie, want die KZN publiek “hoef nie daarvan te weet nie, omdat daar nie ‘n krisis is nie”.

‘Inisiasieskole lei tot MIV’

Verdraaide onderrig by sekere inisiasieskole lei tot ‘n verhoging in verkragting en die verspreiding van MIV/Vigs, sê aktiviste. Mbulelo Dyasi van Masimanyane, ‘n vroue ondersteuningsgroep in Oos-Londen sê egter: “Dis nie deel van ons tradisie nie, maar misdaad!”

Daar is ‘n mite dat wanneer jong mans terugkeer van inisiasieskole, moet hulle eers seks hê met ‘n vrou wat nie gewoonlik deel is van hul liefdeslewe nie – dis om te sien of alles werk. Dyasi sê dié mite kom veral voor in die Oos- en Wes-Kaap en Mpumalanga.

Optog teen kindergeweld

Francina Jantjies, die ma van ‘n kind wat onlangs vermoor is, was een van duisende mense wat Sondag saam met gesinslede en die Mfuleni gemeenskap ‘n optog teen kindergeweld gehou het. Jantjies het probeer om ‘n houtkruis ter nagedagtenis van Nadine op te kap, maar haar emosies het haar oorweldig.

Sowat 1 000 gemeenskapsleiers en honderde kinders het deelgeneem aan die optog naby die veld waar die sewejarige Nadine onlangs dood gevind is.

Nzimande, Cronin moet bedank - lid

‘n Senior lid van die SA Kommuniste Party, Vishwas Satgar, het die party se sekretaris-generaal Blade Nzimande en sy adjunk, Jeremy Cronin, gevra om te bedank omdat hulle hul loopbane en koste van die organisasie verbeter.

Satgar sê in ‘n nuwe boek dat as die twee nie wil bedank nie, behoort die party formeel te skeur sodat ‘n nuwe linkse beweging of party tot stand kan kom. Hy beweer Nzimande en Cronin wil almal uitwerk wat nie met President Jacob Zuma oor aangeleenthede saamstem nie.

Saturday, 20 June 2009

Leeus-ondersteuners beroof

Vier Britse rugbyondersteuners is Donderdag deur rowers oorval en beroof kort nadat hulle in Suid-Afrika aangekom het.

Hulle is in SA om die Britse en Ierse Leeus te ondersteun.

Volgens die besoekers het ’n groep mans hulle in ’n motor agtervolg toe hulle oppad was na Sandton om by ’n gastehuis in te boek.

Kulula laat honderde gestrand

Honderde Kulula-kliënte is verlede week deur hierdie lugredery in die steek gelaat nadat weerstoestande vlugte belemmer het.

Volgens passasiers het die lugredery hulle nie in kennis gestel of op hoogte gehou van die vertragings nie.

Sommige se vlugte is met soveel as 24 uur vertraag.

Konfederasie-vervoerdiens nie na wense

Die vervoerdienste vir die Konfederasiebeker het hierdie week onder kritiek deurgeloop nadat ondersteuners nie opgelaai is nie, en ander laat was vir wedstryde.

Sommige toeskouers het selfs die eerste helfte van hul wedstryde misgeloop.

Ondersteuners wat die wedstryd Donderdag by Ellispark bygewoon het, het meer as ’n uur in die koue gewag vir taxi’s om hulle te neem na hul voertuie.

Miljoene SA'ners onder sensus-radar

Ongeveer ses miljoen Suid-Afrikaners sal moontlik nie met die volgende sensus getel word nie.

Redes wat hiervoor aangevoer word is dat sommige landsburgers verkies om nie hul fisiese adresse te gee nie, en ander het nie ’n formele blyplek nie.

Mense op die platteland gebruik byvoorbeeld eerde bankens in die omgewing om rigting aan te dui, eerder as hul fisiese adresse.

Munisipaliteite sal binne die volgende 18 maande hierdie probleem moet aanspreek.

Jeugagentskap eis R5 miljoen van Parlement

Die nuwe Nasionale Jeugonwikkelingsagentskap wil ten minste R5 miljoen van Parlement ontvang ten einde hul mandaat om jeugontwikkeling te doen, te vervul.

Die agentskap se voorsitter, Andile Lungisa het Vrydag die aankondiging gemaak.

Lungisa is Julius Malema se adjunk in die ANC Jeugliga.

Zille krap kop oor kinders

Wes-Kaapse premier Premier Helen Zille is in die proses om ‘n kommissaris gemoeid met kindersake in haar kantoor aan te stel om iets oor die veiligheid en beskerming van kinders te doen. Dit volg na die verkragting en moord op nog ‘n kind, dié van Nadine Jantjies. Sy is een van sowat 100 kinders wat elke jaar in Wes-Kaapland vermoor word.

Zille sê die gebruik van dwelmmiddels sal eers onder beheer gebring moet word. Sy sê veral tik verander mense in psigopate.

E-pos dalk Hewana se ondergang

‘n E-pos wat voor die hof gelê is in die saak van die Goodwoodse stasiekommissaris, Siphiwo Hewana, wat onskuldig gepleit het op klagtes van regsverydeling, kan moontlik sy ondergang beteken.

Hewana het glo twee polisiemans gevra om die tyd wat die voormalige ANC hoofsweep Tony Yengeni gearresteer is vir dronkbestuur te wysig. Hewana het glo dié stap geneem om die beeld van die stasie en die provinsiale kantoor te beskerm.

Gesondheidsorg onder die loep

Die DA het die regering daarvan beskuldig dat daar ingemeng word met private gesondheidsorg, terwyl die ANC vir onmiddellike ingryping gevra het omdat private gesondheidsorg nog moeiliker bekostigbaar is.

Die voorsitter van die ANCse subkomitee oor opvoeding en gesondheid en ‘n lid van die nasionale gesondheidsversekeringsplan, Zweli Mkhize, sê die party sal alle belanghebbendes die kans gee om insette te lewer.

IFP kap Mkhize

Die IFP, die amptelike opposisie in KwaZulu-Natal, sê die eerste toespraak van premier Zweli Mkhize het niks nuut om die lyf gehad nie. Mkhize het die provinsie se doelwitte uitgestippel en onder andere aangedui dat hy beoog om die ekonomie in KZN te laat groei, ten spyte van die resessie.

Die IFP sê hulle wil graag weet wat Mkhize daarmee bedoel het. Hulle vra ook meer inligting oor hoe hy beoog om die R3bn oortrokke rekening aan te spreek.

Amptenare moniteer passasiers

Die lughawe owerheid Acsa sê gesondheidsamptenare is by alle internasionale lughawens in Suid-Afrika ontplooi om die voorkoms van oordraagbare siektes te monitor. Acsa sê dié maatreël word deur die wet verplig en amptenare sal die H1N1 of varkgriep virus monitor.

Die Departement van Gesondheid het Donderdag bekend gemaak dat die eerste bevestigde geval van varkgriep in Suid-Afrika voorgekom het.

Friday, 19 June 2009

Omgewing ly weens oorlaaide regstelsel

In haar parlementêre begrotingsrede het die minister van water en omgewingsake, Buyelwa Sonjica, Donderdag gesê die nuwe Groen en Blou Skerpioene gaan geen genade betoon teen omgewingsoortreders nie.

Dit sluit in munisipaliteite wat rou rioolafvoer in waterbronne stort, die Chinese perlemoenmafia, en ander oortreders wat die land se omgewing en waterbronne besoedel.

Sonjica het ook gesê die land se “oorlaaide” regstelsel is die rede vir die gebrek aan resultate wat vervolgings betref. Volgens haar sal omgewingshowe ’n groot verskil maak.

Beampte omgery, taxibestuurders gearresteer

Vyf taxibestuurders van Mfuleni is gearresteer tydens ’n roetine padblokkade nadat ’n verkeersbeampte op die toneel omgery en lig beseer is.

Die mans sal teregstaan op aanklagte van “poging tot moord en die inmenging met polisiewerksaamhede”.

Die polisie en verkeersbeamptes het die padwaardigheid van voertuie en taxipermitte nagegaan, en na onwettige wapens gesoek. In reaksie het die taxibestuurders die beamptes uit die pad gestamp en klippe na verbygaande trokke en busse gegooi.

Sokkersterre in hotel besteel

Die Egiptiese spelers het Donderdag na hul 1-0 sege oor Italië in die Konfederasiebekerwedstryd in Johannesburg ontdek dat geld uit hul hotelkamers gesteel is.

Mohamed Zidan sê verskeie spelers was die slagoffer van die dief of diewe. Etlike duisende VSA dollar is gesteel.

Die spanbestuur het die diefstal by die polisie aangemeld.

Die vuvuzela-dilemma

Die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Oudiologie, Carina Wolmarans, sê die vuvuzela kan ’n mens se gehoor onherstelbaar beskadig.

Verskeie internasionale uitsaaijoernaliste, waaronder Duitsers, kla dat die aanhoudende geraas van die instrument by die Konfederasiebeker-toernooi dit onmoontlik maak vir luisteraars en kykers om hulle te hoor.

Rich Mkhondo, die plaaslike reëlingskomitee se kommunikasiehoof, het Donderdag gesê hy hoop die vuvuzela bly. “Dis ’n tradisionele, feestelike instrument. Ons respekteer dit. Daar is mense wat nie daarvan hou nie, maar ons het nog altyd gesê die wedstryde gaan lawaaierig wees.’’

Dwelmverspreiders raak slinkser

Dwelmverspreiders in Mitchell’s Plein probeer die polisie uitoorlê en versteek nie meer dwelms in huise nie. Hulle raak nou slinkser en gebruik ongewone plekke soos bome, se die LUR vir gemeenskapsveiligheid, Lennit Max.

Die polisie teiken nou spesifiek die verspreiders, mense wat dwelms versteek en aflewer.

Max sê die polisie het al dwelms gekry wat in bome en krake in mure versteek was, of in die grond begrawe was.

Polisie maak misdaadsdeurbraak

Die polisie het twee mans gearresteer wat van meer as 80 motorkapings, huisrooftogte en grypdief-voorvalle verdink word in die Sandton-omgewing.

Ure na die deurbraak in die saak, het polisie nog misdade gevind om te verbind aan die twee mans, wat 31 en 32 jaar oud is.

Een van die verdagtes was uit op borgtog vir ‘n saak waarvoor hy nie weer verskyn het nie. Die mans word by die Bramley polisieselle gehou en sal in die Wynberg magistraatshof verskyn.

Betogers versper pad

Verkeer in Port Elizabeth is Vrydagoggend ontwrig toe betogers die pad tussen die stad en Uitenhage versper het.

Rommel is aan die brand gesteek maar dit was nie duidelik waaroor die betoging was nie.

Hoewel die betogers teen vroegoggend die toneel verlaat het, is twee lane gesluit vir verkeer terwyl die polisie die toneel opgeruim het.

Polisiemans erken Yengeni-leuens

Vier polisiemans het in ‘n Kaapstadse hof getuig dat hulle aangesê is om ‘n dossier oor Tony Yengeni te verander om hom te beskerm en dat die opdrag direk gekom het van die polisiekommissaris, Mzwandile Petros, aangesien Yengeni “’n voormalige ANC-kader” was.

Hulle opdrag het gekom van die Goodwoodse stasiekommissaris, Siphiwo Hewana, wat onskuldig gepleit het op klagtes van regsverydeling.

Yengeni was gearresteer vir dronkbestuur terwyl hy uit was op parool, waarvan een van die voorvereistes was dat hy nie alkohol mag drink nie.

Kommer oor SA varkgriep

Gesondheidsowerhede probeer passasiers in die hande kry wat Johannesburg toe gevlieg het met ‘n 12-jarige seuntjie wat met varkgriep gediagnoseer is.

Die seun wat familie in Suid-Afrika besoek, het vyf dae in afsondering deurgebring nadat hy met die H1N1 siekte gediagnoseer is - die eerste bevestigde geval in SA.

Die seun het oor Meksiko gevlieg nadat hy vanaf San Francisco vetrek het. Hy is Maandagaand in Pretoria in die hospitaal opgeneem en is vrygelaat nadat sy toestand verbeter het maar word steeds in afsondering gehou.

Kwart van SA mans verkrag

Meer as ‘n kwart van Suid-Afrikaanse mans het erken dat hulle al ‘n vrou of ‘n meisie verkrag het, blyk uit ‘n skokkende studie wat deur die Gesondheidsnavorsingsraad bekend gemaak is.

Amper 10% het erken dat hulle ‘n slagoffer gedwing het om omgang te hê voor hulle 10 jaar oud was.

Amper 30% het erken dat hulle al iemand verkrag het. Een in vyf van die erkende verkragters het HIV. Suid-Afrika het van die hoogste verkagtingssyfers ter wêreld asook die grootste hoeveelheid HIV-besmetting.

Thursday, 18 June 2009

H1N1 in SA

Suid-Afrika het sy eerste geval van die H1N1 griepvirus aangemeld, aldus die Departement van Gesondheid. Die twaalfjarige pasiënt, wat van die VSA ingevlieg het, is in die hospitaal opgeneem en in isolasie gehou.

Hy is ontslaan en sterk by die huis in isolasie aan.

Treine beveilig

’n Radikale nuwe veiligheidsplan vir treine en stasies word binnekort geïmplementeer.

Dit volg ná die stigter van die Spoorpendelaars-aksiegroep (RCAG), Leslie van Minnen, ’n 8 jaar lange stryd gevoer het om treine te beveilig ná sy 19-jarige seun Juan in 2001 op ’n trein doodgesteek is.

Die plan sluit in sekuriteitskameras op treine en by stasies, meer treine, meer spoorwegpolisie en beter treinvensters en –deure. Daar sal ook ’n R25 miljoen skikking uitbetaal word aan 51 klaers, almal slagoffers van treingeweld of pendel-ongelukke.

Bestuurder vasgevang na ongeluk

Brandbestryders het onverpoos gewerk om ’n man te bevry wat in sy motor vasgevang was ná ’n ongeluk op die N14 Krugersdorp snelweg.

Woordvoerder vir die Johannesburgse nooddienste, Percy Morokane, sê die ongeluk het op die kruising met Beyers Naude rylaan plaasgevind en drie motors was betrokke. Een bestuurders is kritiek beseer, maar ’n vrou het skynbaar ongedeerd weggestap.

Album verskyn weer in Barbie-saak

Die geheime album met sowat 300 eksplisiet seksuele foto’s van voormalige advokaat Cezanne Visser en ander naakte vroue wat aan Dirk Prinsloo verbind word, is deur ’n maatskaplike werker ondersoek.

Hendrien Nortje van Weskoppies Hospitaal het ’n verslag oor Visser se ongelukkige kinderjare en die invloed daarvan op haar gedrag aan die hof oorhandig en onder meer gesê Visser se oë in die foto’s het “dood en leeg” gelyk. Daar is ook beweer Visser is deur Prinsloo “gestraf” as sy “stout” was en dat sy klere gedra het om die merke weg te steek.

Die staat beweer sowat 40% van die vroue in die foto’s is minderjarig.

Pasiënt wag op operasie

’n Motorfietsryer met ’n gebreekte sleutelbeen wag sedert Maandag om chirurgie te ondergaan weens ’n gebrek aan hulpbronne by die Steve Biko Akademiese Hospitaal.

Gerrie Stassen het op sy oprit in Danville gegly en geval. Ná X-strale moes hy hoor hy het ’n operasie nodig, maar hy wag steeds. Hy moes die hele dag in die ongevalle-eenheid deurbring aangesien daar nie beddens was nie en boonop het die hospitaal sy X-strale verloor.

Die hospitaal wou nie reageer op navrae van Pretoria News nie.

Oudpolisieman in huis oorval

‘n Voormalige polisiekaptein is sewe keer gesteek deur gewapende rowers wat hom en sy ouers in hul huis in Durban oorval het.

Die 45-jarige man is egter dood toe hy in die hart gesteek is. Die man se pa is in die nek gesteek en herstel tans in die hospitaal.

Die rowers het ‘n selfoon en ‘n versameling silwer munte gesteel.

Onderwyser vas vir verkragting

‘n KwaZulu-Natalse onderwyser is borgtog toegestaan nadat hy aangekla is van verkragting deur ‘n leerling van Makhumbuza Hoërskool.

Die leerling beweer dat die onderwyser haar gevolg het in ‘n kantoor in en haar verkrag het. Die 45-jarige onderwyser staar 17 klagtes van seksuele misstappe in die gesig.

Polisiemotor bots met 5 ander

Die polisie ondersoek ‘n saak van roekelose en nalatige bestuur teen een van hul kollegas nadat ‘n polisieman met vyf motors gebots het in Greyville, Durban, Woensdag.

Die polisieman het gesê hy het reageer op ‘n rooftog ten tye van die voorval.

‘n Ooggetuie het gesien dat die polisievoertuig, wat in die verkeerde laan was, probeer het om ‘n motor verby te steek toe ‘n ander motor voor hulle ingedraai het en die motors gebots het en toe begin tol het. Niemand is ernstig beseer nie.

Liefdesdriehoek eindig tragies

‘n KwaZulu-Natalse vrou, wat in ‘n liefdesdriehoek was, is vermoedelik deur haar vriend se ander meisie vermoor.

Die liggaam van Banothile Dlamini is gevind deur polisieduikers in Henley dam. Dit blyk dat sy verdrink is.

Die polisie het gesê hulle het inligting wat daarop dui dat die ander vriendin en haar ma die mans gehuur het om Dlamini dood te maak. Hulle is reeds gearresteer.

Vermiste meisie is verwurg

‘n Nadoodse ondersoek het laat blyk dat Nadine Jantjies, 7, van Wesbank naby Blue Downs dood is weens verwurging, het die Kaapse polisie Woensdag gesê.

‘n Man, 33, vermoedelik die kind se oom, is Woensdag gearresteer vir haar verkragting en moord.

Sy het Maandag weggeraak en haar liggaam is laat Dinsdag gevind.

Wednesday, 17 June 2009

Brand in inkopiesentrum

Brandbestryders het gespook om ’n brand by ’n Durbanse inkopiesentrum te blus.

Volgens ER24 se Derrick Banks is niemand beseer in dié brand, wat by die Workshop Mall se Oriental Restaurant uitgebreek het, nie. Die oorsaak is nie bekend nie.

“Daar was rook in die gebou. Al die mense is ontruim en die vuur is onder beheer gebring.”

Ma wil hospitaal aanvat ná seun sterf

Die ma van ’n 16-jarige tiener wat aan meningitis gesterf het, wil nou regshulp inwin teen die Chris Hani-Baragwanath hospitaal in Soweto.

Judy Alberts sê haar seun Neo is vier keer verkeerd gediagnoseer, drie dae in die hospitaal gelos sonder medikasie en is in sy sterwensuur ’n bed in die intensiewe eenheid geweier.

Volgens ’n verslag van die hospitaal is toetse egter by Neo se aankoms gedoen om meningitis uit te skakel, waarna hy toe op “binneaarse antibiotika vir meningitis” geplaas is. Die verslag sê die seun het negatief getoets vir meningokokkale meningitis, maar dat hy later ’n CT-breinskandering gekry het.

Moordklag teen metro-polisieman

’n Johannesburgse metro-polisieman sal in die Protea landdroshof verskyn op aanklag van ’n moord wat glo plaasgevind het toe vier mans ’n argument oor sy suster gehad het.

Een van die mans is na bewering doodgeskiet toe die polisieman,23, hom konfronteer toe hy hoor hulle stry oor wie haar huis toe sal vergesel.

Twee ander mense is ook in hegtenis geneem in verband met dié voorval.

Soweto-leerders terug in klaskamer

Soweto-leerders is terug in die klaskamer met Gauteng LUR vir Onderwys Barbara Creecy en LUR vir Veiligheid en Sekuriteit Khabisi Mosunkutu wat die township besoek het ná ’n onwettige Sadtu-staking oor ongelukkigheid oor die aanstelling van skoolhoofde in sekere skole.

Onderwysers in en om Soweto se gesluite skole het na bewering ’n skoolhoof geslaan en kinders uit die skool gejaag. Daar is ook berig dat sommige kinders se eksamenskrifte deur stakende onderwysers opgeskeur is.

Creecy sê ’n span sal aangestel word om die voorval te ondersoek.

Cope-memo bespreek

Cope se uitvoerende komitee het ’n memo, saamgestel deur nasionale komiteelid Simon Grindrod, bespreek.

Dié memo skets ’n prentjie van verdeeldheid oor leierskap en ontnugterde lede op grondvlak. Grindrod waarsku onder meer dat spanning tussen president Mosiuoa Lekota en eerste adjunkpresident Mbhazima Shilowa tot ’n ongesonde situasie lei waar strukture hul by een van die faksies moet skaar.

Kaper sou miljoene erf

‘n Motorkaper wat onlangs deur die polisie doodgeskiet is, was ‘n erfgenaam wat miljoene sou geerf het uit sy pa se boedel.

Mondli Hopewell Zondi, 19, se familie het laat blyk dat hy begin vreemd optree het na die dood van sy ouers in afsonderlike skietvoorvalle.

Zondi sou meer as R2.8m geerf het, maar is dood drie weke nadat hy ‘n motor gekaap het. Sy suster, Mandisa, 21 het gesê sy is geskok deur haar broer se gewelddadige einde en het aangedui dat hy probleme begin ervaar het nadat hul ouers dood is. Hy sou binne maande die geld ontvang het.

Rowers teiken 2010 stadion

Gewapende mans het Dinsdagmiddag ‘n 2010 Wêreldbeker-stadion geteiken na ‘n internasionale rugbywedstryd.

Die rooftog het by ‘n kroeg plaasgevind by die nuwe Nelson Mandela-baai stadion in Port Elizabeth na die wedstryd tussen die Britse en Ierse Leeus en die Southern Kings.

Die rowers het toegeslaan na die wedstryd toe meeste van die polisie reeds die stadion verlaat het. ‘n Klein bedrag geld is gesteel maar niemand is beseer nie. Vyf verdagtes is gearresteer.

Malema: Zuma skuld ons

Die leier van die ANC se Jeugliga, Julius Malema, het tydens ‘n toespraak gesê dat baie jongmense wat vir die ANC gestem het, steeds woon in informele behuisingsareas en nie werk het nie.

“Ons wil vir die president sê: Ons wil nie meer plakkerskampe hê nie. Ons soek huise met water en elektrisiteit. Ons sê vir President Zuma: Ons stemme was nie goedkoop nie, hulle was duur.”

Malema het gesê daar moet verniet onderwys wees en goeie werke, met deeglike salarisse en beter werksomstandighede. Hy meen helfte van die 500 000 werke wat Zuma aan die land belowe het, moet aan jongmense gaan.

Bendes teiken verkeersligte

Pretoria polisie is bekommerd oor bendes wat motors by verkeersligte in van Tshwane se besigste strate teiken. Daar is glo ‘n kommerwekkende toename in hierdie soort misdaad.

Die bendes slaan vensters stukkend en steel uit motors. Die polisie sê so gou as wat hulle een bende arresteer, kom ‘n nuwe een om sy plek te neem.

Die aanvalle vind tans amper op ‘n daaglikse basis plaas en die polisie is veral bekommerd oor besoekers aan die stad wat nie bewus is van die gevare nie.

Vermiste meisie dood aangetref

‘n Vermiste Wes-Kaapse meisie is dood aangetref op die veld langs die Wesbank Hoërskool.

‘n Lid van die gemeenskap wat help soek het na Nadine Jantjies, 7, het op haar bebloede lyk afgekom.

Die polisie het nog niemand gearresteer nie maar het glo ‘n verdagte. Dis nog nie seker of sy ook seksueel aangerand is nie.

Tuesday, 16 June 2009

Borgtog toegestaan aan vermeende moordenaars

Die vier mans wat daarvan beskuldig word dat hulle die voormalige provinsiale rugbyspeler Andries Pieters vermoor het, het borgtog in die Brakpan landdroshof gekry.

Mohammed Jabban, 21, Raadhil Omar, 19, Naheed Khan, 21 en Nihal Khan, 18, is borgtog van R10 000 elk toegestaan en mag Johannesburg nie verlaat sonder die toestemming van die ondersoekbeampte nie. Hul advokaat, Zehir Omar, het aan die hof gesê die mans kan nie van moord aangekla word nie, aangesien dit die afskakel van die asemhalingsmasjiene was, en nie hul aanval op Pieters nie, wat sy dood veroorsaak het.

Sewejarige vermis

Wes-Kaapse polisie vra hulp in die opsporing van ’n vermiste 7-jarige meisie van Wesbank in Mfuleni. Volgens inspekteur November Filander het Nadine Jantjies haar ma se huis in Midnightstraat omstreeks 11:00 verlaat.

Sy is Maandag omstreeks 15:30 laas deur ’n 11-jarige seun gesien waar sy na ’n winkel op pad was om lekkers te koop. Sy was geklee in ’n pers vliestop, swart broek en bruin stewels. Enigeen met inligting kan die Mfuleni Polisie kontak by 021 909 9300 of inspekteur Rhodes, 082 469 3247.

Polisiëringsforum-voorsitter doodgeskiet

’n Polisiëringsforum-voorsitter van Diepsloot Uitbreiding 6, Julius Malepe, 42, is deur vier onbekende gewapendes doodgeskiet.

Malepe was ’n konstruksiewerker in Rosebank tot sy aflegging drie maande gelede. Dit was die tweede keer dat hy geteiken is. Hy en kollega Answindiri Motari was op pad huis toe ná sy skof toe die voorval plaasgevind het. Polisie moes inwoners keer om die wet in eie hande te neem ná die nuus gebreek het.

Zille wantrouig oor NYDA

Die Nasionale Jeugontwikkelings-agentskap (NYDA) wat op Jeugdag geloods is, blyk dieselfde foute van die vorige regering se jeuginisiatiewe te maak, aldus DA-leier Helen Zille.

“Die DA wil die NYDA ’n kans gee en ons sal hulle fyn dophou om te sien of hulle hul R1 miljard begroting uit belastingbetalers se geld gebruik om geleenthede vir die jeug in die algemeen te bevorder, of bloot nog ’n voertrog vir die ANC word.”

Die NYDA is ’n samesmelting van die Nasionale Jeugkommissie en die Umsobomvu Jeugfonds.

Brown dalk agter tralies

Voormalige Fidentia-baas Arthur Brown moet dalk sy verhoor in die tronk afwag, as die Direktoraat van Openbare Vervolging sy sin kry.

Die direktoraat meen ’n beslissing van die Kaapse landdros om Brown op borgtog vry te laat, is wetlik verkeerd en het ’n aansoek tot appèl in die Kaapse Hoërhof gebring..

Dit is onwaarskynlik dat die saak binne die volgende ses maande sal voorkom. Brown het ’n teen-aansoek gerig om die appèl-aansoek tersyde te stel.

Skoolhoof stel sy kant

Die skoolhoof van Parktown Boys High School het die media genader om sy kant van die saak te stel – hy meen Pene Kimber, die ma van ‘n seun wat na bewering aangerand is tydens ontgroening by die skool, skep ‘n beeld van die skool as ongevoelig en wat gewelddadige praktyke toelaat.

Die skoolhoof, Tom Clarke, sê dat die skool opgetree het teen die seuns wat in die voorval betrokke was, dat hulle dissiplinêr verhoor is en gestraf is.

Die hoof sê hy het later uitgevind dat die ontgroening meer ernstig was as hy besef het en het belowe om die ondersoek te heropen. Hy sê stappe is geneem om die leerlinge met berading by te staan en om seker te maak geen soortgelyke voorval vind weer plaas nie.

Man gevonnis vir motorkaping

‘n Durbanse regter het ‘n man lewenslank tronk toe gestuur vir die moord en kaping van die skoonheidsterapeut, Jennifer-Rae Hall.

Hall, 22, het gesterf en haar vriendin, Kate Flemming, is beseer toe hulle geskiet is in ‘n motorkaping in Amanzimtoti laas jaar. ‘n Ander passasier is nie beseer nie. Die vriende het gaan kyk na die sardientjieloop en was besig om bestuurders om te ruil toe hulle aangeval is en die motor gesteel is.

'Prinsloo het Visser manipuleer'

Terwyl Dirk Prinsloo in ‘n Belarussiese tronk sit, het ‘n Pretoriase hof gehoor hoe hy sy eksvriendin, Cezanne Visser, gemanipuleer het tydens hul verhouding.

Professor Jonathan Scholtz van die Weskoppies-hospitaal het gesê hoewel Visser tussen reg en verkeerd kon onderskei, dit erg skade gelei het weens die verhouding omdat sy in meeste gevalle aanvaar het wat Prinsloo gesê het en sy sy wense wou uitvoer.

Hy het gesê Visser was geheel en al onder sy invloed en het alles gedoen wat Prinsloo van haar wou hê. Hy het gesê sy het soms vanself dade gepleeg en die leiding geneem omdat sy Prinsloo wou beïndruk en sy guns wen.

Rowers ry in bank vas

Ses mans het ‘n gewaagde rooftog in Port Elizabeth uitgevoer deur hul bakkie Maandag in ‘n bank vas te ry.

Die bakkie het deur die venster van ‘n Eerste Nasionale Bank gebars en ses gewapende mans het afgespring en geld geëis.

Nadat hulle ‘n onbekende hoeveelheid geld ontvang het, het hulle teruggespring in die bakkie en weggery. Niemand is nog gearresteer nie.

Man tronk toe vir moord

‘n KwaZulu-Natalse man, 59, is skuldig bevind vir die moord op sy vrou en 12 jaar tronk toe gestuur.

Regter Vivienne Niles-Duner het Hilton Shaw skuldig bevind aan die moord op Susan Margaret Shaw, maar het gesê weens die man se misdaadvrye lewe tot en met die tyd van die moord, gee sy hom verminderde tronkstraf.

Sy’t verder gesê dis nie duidelik wat die dag gebeur het toe die vrou dood aangetref is op die stoep van haar huis nie, maar dat ‘n soort argument moes plaasgevind het.

Monday, 15 June 2009

Manyathi tot Vrydag gegee

Die Wes-Kaapse hoof van openbare werke en vervoer is tot Vrydag gegee om te motiveer waarom hy nie geskors moet word hangende ’n ondersoek na tenderonreëlmatighede in sy departement nie.

Premier Helen Zille het nie details verskaf oor die beskuldigings wat na Thami Manyathi geslinger is nie, maar gesê daar is prima facie bewyse van “growwe wanoptrede”.

Manyathi se departement word onder meer ondersoek vir die toekenning van ’n R91 miljoen vervoerkontrak wat na die Amerikaans-besitte Games Transportation Systems Services gegaan het. Daar is na bewering weinig poging aangewend om te bevestig dat geen plaaslike maatskappye die werk kon doen nie.

Ismail soek vroeë vrylating

Die voormalige tandarts Shaheem “Doc” Ismail het aansoek gedoen vir vrylating uit die tronk.

Ismail, 51, het reeds ’n derde van sy vonnis as brein agter ’n sameswering om ’n Kaapstadse landdros, Wilma van der Merwe, te vermoor, uitgedien. Van der Merwe het hom skuldig bevind aan moord op ’n sekuriteitswag.

Hy vra dat dieselfde regter wat hom tot 12 jaar gevangenisskap gevonnis het, Hennie Erasmus, dit moet omkeer na korrektiewe toesig. Hy voer aan hy wil na sy 80-jarige ma omsien en die armes kosgee.

Werknemer in hegtenis ná rooftog

Vier mans, onder wie ’n werknemer van Simon’s restaurant op die Groot Constantia wynlandgoed, is in hegtenis geneem in verband met ’n rooftog van die eetplek en aanranding op sy bestuurder.

Vyf gewapende mans het Simon’s na ure bestorm en die 35-jarige bestuurder in die maag geskiet, sowel as in sy nek en kop gesteek, waarna hulle met die dag se kontant gevlug het.

Die Polisie is steeds op die spoor van ’n vyfde verdagte, aldus polisiewoordvoerder Keith Chandler. Die restaurantbestuurder is intussen uit die hospitaal ontslaan.

Oom in hegtenis vir beweerde verkragting

’n 37-Jarige man is in Katlehong aan die Oos-Rand in hegtenis geneem vir die beweerde verkragting van sy 1-jarige susterskind.

Die baba se ma het haar hoor huil en by nadere ondersoek het sy gevind haar oom het haar glo verkrag, aldus polisiekaptein Mega Ndobe. Die man is onmiddellik in hegtenis geneem.

In ’n ander voorval is ’n 14-jarige seun in hegtenis geneem vir die beweerde verkragting van ’n 7-jarige in ’n toilet. Daar word ook vermoed hy het ’n 14-jarige vantevore verkrag.

Swaardmoord-vonnis uitgestel

Vonnisoplegging vir die Krugersdorp-leerder Morne Harmse, vir die swaardmoord op ’n mede-leerder, is in die Hoërhof in Johannesburg tot Augustus uitgestel.

Dit ná ’n die vertraging van ’n maatskaplike werker-verslag. Harmse het skuld erken in die moord op Jacques Jacobus Pretorius. Die hof het aangehoor hoe hy ook ’n ander leerder en twee tuiniers aangeval het.

Premier waarsku onderwysers

Die Gauteng premier, Nomvula Mokonyane, het stakende Sadtu onderwysers in Soweto gewaarsku dat as enige van hulle Woensdag staak, hulle in hegtenis geneem sal word. Die onderwysers is blykbaar gegrief oor die aanstelling van hoofde by skole en hul optrede word deur hul leierskap veroordeel.

Sy het honderde ouers in Soweto toegespreek en op almal ‘n beroep gedoen om onderrig eerste te plaas.

Visser en ouers verheug

Cezanne Visser en haar ma, Susan Lemmer, is verheug dat Cezanne se voormalige minnaar, Dirk Prinsloo, in hegtenis geneem is nadat hy in 2006 die land as ‘n voortvlugtende verlaat het. Hy het gevlug terwyl hy op borgtog was nadat hy en Cezanne, beter bekend as Advokaat Barbie, tereg gestaan het op verskeie misdade rakende kinders.

Cezanne se stiefpa, Professor Johann Lemmer, sê hulle het die afgelope drie jaar in vrees gelewe. “Dit was soos ‘n berg wat van ons afgerol het toe ons gehoor het Dirk is in hegtenis geneem. Ons is vol vertroue dat reg sal geskied”.

Minister waarsku gouddiewe

Die regering sal nie toelaat dat misdadigers in beheer van die land se mynsektor is nie, sê die Minister van Mynwese, Susan Shabangu. Sy het mense wat betrokke is by gesteelde goud gewaarsku dat die regering op hul spoor is.

Sy het gesê dit het duidelik geword dat ‘n onwettige sektor deur sindikate beheer word, maar dit duidelik gestel dat ‘n stokkie in hul bedrywighede gesteek gaan word. Daar word bereken dat goud ter waarde van R5.6 miljard in 2007 gesteel is.

‘Gee immuniteit teen vervolging’

President Jacob Zuma het ‘n voorstel gemaak dat outokratiese leiers in Afrika immuniteit teen vervolging moet kry in ruil dat hulle aftree. Hy het in ‘n gesprek met Rwandase President Paul Kagame gesê dat die “wêreld verander het en dat ons nou goed anders moet doen en nie straf moet benadruk nie.

“Die leierskap in Afrika moet hierdie begrip bespreek. Dit sal ons as leiers nie juis help nie, maar dis vir ons mense en ons kontinent”, het Zuma gesê.

Prinsloo het bankroof lank terug beplan

Die voortvlugtende Suid-Afrikaanse advokaat Dirk Prinsloo, wat verlede week in Belarus in hegtenis geneem is ná ‘n mislukte bankroof, kon moontlik al twee maande gelede geweet het dat hy in ‘n bankroof betrokke sou wees. Prinsloo het in April ‘n brief geskryf, wat hy glo gedink het kon moontlik sy laaste kon wees.

Hy het in 2006 uit Suid-Afrika gevlug voor hy tereg kon staan op verskeie aanklagte saam met Cezanne Visser, waaronder molestering van kinders. Prinsloo sal saam met twee medepligtiges in Minsk in die hof verskyn.

Saturday, 13 June 2009

Veiligheidswag doodgeskiet

‘n Veiligheidswag is Vrydag om en by middagete doodgeskiet by Du Noon tydens ‘n transito rooftog.

Dit is die negende veiligheidswag wat hierdie maand in ‘n transito rooftog dood is.

Die wag is in die kop geskiet terwyl hy en ‘n kollega gereed gemaak het om geld in ‘n OTM by ‘n inkopiesentrum te laai.

Een taxi, 122 passasiers

Meer as 100 kinders is in ‘n minibus taxi ingedruk wat veronderstel is om slegs 26 mense te neem.

‘n Verdere 28 kinders is ook op ‘n bakkie gevind. Die insident het in Khayelitsha, Kaapstad, plaasgevind.

Verkeersbeamptes het 105 kinders tussen die ouderdom van 3 en 6 jaar, uit die minibus taxi laat klim. Die bestuurder en agt volwassenes was ook in die taxi.

Die creche het die bus gehuur om die kinders na die Monwabisi oord te neem vir ‘n daguitstappie.

Leerlinge moontlik geskors na diefstal

Drie Graad 8 leerlinge van die Durban Westville Seunskool het voor ‘n dissiplinêre tribunaal verskyn nadat hulle na bewering hul medeskoliere se selfone gesteel het.

Hulle kan ook moontlik geskors word. Die insidente het in die eerste kwartaal van die skooljaar plaasgevind.

Die selfone is uit die leerlinge se sluitkassies gesteel wat gesluit was met kombinasieslotte.

5 van SABC raad weier om te loop

Die vyf oorblywende lede van die SABC raad hou steeds verbete vas aan hulle posisies, ten spyte van politieke druk om te bedank.

Die minister van Kommunikasie, Siphiwe Nyanda, het met die mans vergader en hul meegedeel dat die raad ontbind het.

Die mans weier egter. ‘n Tydelike raad sal egter steeds aangestel word, en ‘n parlementêre ondersoek sal moontlik volg.

Boer skiet seun per ongeluk

‘n Boer van Port Elizabeth het na bewering ‘n 15-jarige seun geskiet, nadat hy hom met ‘n hond verwar het.

Leroy Tarentaal van Princevale, naby Klippaat, is Donderdagoggend geskiet terwyl hy saam met sy hond ystervarke gejag het.

Die polisie het alreeds die boer se vuurwapens konfiskeer, en forensiese toetse is geneem.

Advokaat vra minister se hulp

'n Geskorste aanklaer wat saam met die polisie gewerk het in hul oorlog teen die Skerpioene wil hê die Minister van Justisie, Jeff Radebe, moet haar werk red.

Advokaat Nongcobo Jiba was geskors deur die Nasionale Vervolgingsgesag in November 2007 omdat sy die polisie gehelp het om 'n lasbrief teen 'n kollega, Gerrie Nel, te verkry.

Jiba het alreeds die Arbeidshof genader om haar disiplinêre verhoor ter syde te stel, maar die aansoek was onsuksevol.

Blatter prys Suid-Afrika

Fifa president Sepp Blatter sê hy het geen twyfel dat Suid-Afrika 'n suksesvolle Konfederasiebeker-en 2010 Wêreldbeker-toernooi kan hou nie.

Blatter het ook uitgevaar teen die wat hulle bedenkinge uitgespreek het oor Suid-Afrika se vermoeë om 'n suksesvolle Konfederasiebeker-toernooi te hou.

"Ek het die 4 stadionne gesien wat gebruik gaan word vir die Konfederasiebeker en ek het geen probleme nie," het Blatter gesê.

Tronk drama in Oos-Kaap

Die polisie in die Oos-Kaap sê drie gevangenes het Vrydag 'n bewaarder geskiet en drie ander as gyselaars aangehou in 'n mislukte poging om te ontsnap.

Een van die gevangenes het 'n vuurwapen gehad en een was gewapen met 'n okapi mes. Die situasie was onder beheer gebring deur die polisie.

Die drie is in die tronk vir die moord op polisiemanne en sekuriteitswagte, betrokkenheid in rooftogte asook vorige ontsnappings. Hulle staar nou verdere klagtes in die gesig.

IVP-jeugliga sê jammer

Die IVP-jeugliga het om verskoning gevra omdat hulle die IVP president Mangosuthu Buthelezi gevra het om uit te tree.

Die hele IVP jeugliga leierskap is in Mei tydelik geskors nadat hulle gevra het vir verandering in die party se leierskap.

Die jeugliga het senior partylede blameer vir die party se swak vertoning in die algemene verkiesing.

KZN amptenaar in korrupsie saak

Die speaker van KwaZulu-Natal, Peggy Nkonyeni, en twee mede-beskuldigdes sal in Augustus teregstaan op klagtes van korrupsie.

Volgens die aanklag het Nkonyeni na bewering R20 000 en gratis akkommodasie by die luukse Steenberg Boutique in Constantia aanvaar in ruil daarvoor dat sy die provinsiale gesondheidsdepartement beïnvloed om duur toerusting te koop by 'n vennoot van haar.

Sy word daarvan beskuldig dat sy die korrupsie gepleeg het terwyl sy 'n LUR vir gesondheid was.

Friday, 12 June 2009

Vigs-aktivis sterf op 24

Thembi Ngubane, ’n vigs-aktivis van Khayelitsha, is Dinsdag op die ouderdom van 24 dood. Ngubane se radiodagboeke het ’n wêreldwye aanhang gehad.

Ngubane het uiters weerstandige TB gehad en dit is te laat gediagnoseer om haar te red. Sy word oorleef deur haar vierjarige dogtertjie.

Ngubane was 19 toe iemand vir haar ’n bandopnemer gegee het om haar stryd teen MIV te dokumenteer. Sy het dit vir ’n jaar lank gedoen, en die dagboeke is uiteindelik in Amerika op nasionale radio uitgesaai.

Haar dagboeke is beskikbaar by http://www.radiodiaries.org.

ACDP weier om ‘gebruik’ te word

ACDP-leier Kenneth Meshoe het Donderdag aangekondig dat sy party uit Kaapstad se munisipaliteit gaan stap. Die ACDP sal ook uit ander munisipaliteite in die Wes-Kaap onttrek waar hulle saam met die DA regeer het. Dit sluit Theewaterskloof, George en Mosselbaai in.

Dit laat die DA met 110 uit die 210 setels in Kaapstad. Die ACDP het sewe setels in die stadsraad.

Meshoe sê die ACDP het uit die koalisie onttrek vanweë die “slegte gees” van die DA wat die multipartyooreenkoms van 2006 verbreek het.

SABC het 'n berg skuld

Die SABC se berg skuld is groter as wat voorheen vermoed is. Volgens bronne skuld die uitsaaier Supersport reeds byna R100 miljoen.

Dié bedrag is meestal vir PSL-wedstryde en krieketuitsendings.

Blykbaar sal die SABC die skuld vereffen as hulle 'n hulppakket van R2 miljard van die regering ontvang. Maar die hulp gaan nie gou opdaag nie, want regeringsamptenare wil eers met die SABC vergader om maniere te vind om die “uitdagings aan te spreek”.

Emjedi gaan appelleer

Die man wat die huurmoordenaars aan Najwa Petersen voorsien het om haar man, die musiekikoon Taliep Petersen, in Desember 2006 te vermoor, gaan nes Najwa teen sy vonnis appelleer.

Abdoer Raasiet Emjedi, wat tronkstraf van 24 jaar uitdien vir sy rol in die moord, het sy aansoek om appèl by die Appèlhof ingedien.

Hy beweer sy skuldigbevinding was gebaseer op spekulasie en suspisie en dat regter Siraj Desai nie redes vir sy skuldigbevinding verstrek het nie.

Chaaban dalk ’n burgemeester

Badih Chaaban kan dalk die burgemeester van die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit word. Dié munisipaliteit sluit Stellenbosch, Drakenstein, Witzenberg, Breërivier Wynland en Breëriviervallei in.

Die nuus van Chabaan se moontlike aanstelling is met misnoeë deur die DA en die ANC ontvang.

Chabaan sê ten spyte van sy reputasie as 'n bendebaas, het hy geen kriminele rekord nie. Hy het wel mense soos die vermoorde “Yuri die Rus” geken, maar dis bloot dobbelkennisse wat hy by casino’s raakgeloop het.

Vrou vrees vir haar lewe

Die vrou wat gewelddadige ontgroening by Parktown Boys High oopgevlek het, vrees nou vir haar lewe en moes ‘n lyfwag aanstel om haar te vergesel hof toe Donderdagoggend.

Pene Kimber, die ma van ‘n kind wat aangerand is gedurende ontgroening, sê ouers is woedend omdat sy voortgaan met haar aanrandingssaak. Haar motorbande is al stukkend gesny en sy het doodsdreigemente ontvang. Sy het haar seun uit die skool gehaal.

Twaalf seuns van die skool word in die hof verwag Vrydag.

Bejaarde sterf in brand

‘n Bejaarde man is dood nadat ‘n brand uitgebreek het in sy kamer by ‘n ouetehuis in Pretoria.

Die brand het glo uitgebreek ongeveer 23:00 by die Jacaranda Haven en die man is vermoedelik dood weens rookinaseming.

Polisie meen die man, CJ Simpson, het in sy kamer gerook op die grondvloer hoewel dit verbode was. Hy het vermoedelik aan die slaap geraak terwyl die sigaret nog gebrand het en die kamer aan die brand gesteek het.

Zuma loof konstruksiewerkers

President Jacob Zuma was in ‘n opgeruimde luim toe hy ‘n geleentheid geopen het by die Groenpunt-stadion in Kaapstad om die 365-dae aftelling tot die Wêreldbeker te merk.

Talle hoogwaardigheidsbekleërs soos die provinsiale premier, Helen Zille, en die burgemeester, Dan Plato, het die geleentheid bygewoon.

Die stadion is amper klaar en sal na beraming gereed wees op 14 Desember, volgens plan. Zuma het veral die konstruksiewerkers geloof vir hul werk en gesê hulle het gehelp om geskiedenis te maak.

Cope het groot probleme

Die toekoms van Cope blyk onseker te wees, volgens ‘n dokument wat deur die party self opgestel is.

Die dokument, wat gelek is aan die media, beweer dat Cope nes die ANC begin word, dat hulle lede verloor en dat mense onder mekaar baklei en onseker is oor die toekoms van die party.

Die dokument, opgestel deur Simon Grindrod van die party se leierskap, beweer verder dat daar spanning is tussen partyleier, Mosiuoa Lekota en die eerste adjunk-president, Mbhazima Shilowa.

'Misdaad is 'n tsoenamie'

‘n Man wat ‘n KwaZulu-Natalse boer vermoor het en veroorsaak het dat 54 plaaswerkers werkloos gelaat is, is lewenslank tronk toe gestuur.

Regter Vivienne Niles-Duner het gesê misdaad is soos ‘n tsoenamie wat die land tref en dat mense nie besef hoe groot die gevolge is as ‘n boer doodgemaak word nie. Andrew Main se plaas het verval en sy werkers kon nie weer werk vind nie. Main het twee klein dogtertjies agtergelaat.

Thursday, 11 June 2009

Mpofu wen derde ronde teen SABC

Die Johannesburgse Hoërhof het die SABC se appèl teen die heraanstelling van sy geskorste hoof, Dali Mpofu, met koste van die hand gewys.

Regter Mahomed Jajbhay sê die voormalige SABC-raadsvoorsitter Khanyisiwe Mkhonza, wat onlangs uit haar pos bedank het, was duidelik opgevang in ’n emosionele respons tot die skorsing van Dr Snuki Zikala, wat hoof was van die uitsaaier se nuuslessenaar.

Mpofu het Zikalala geskors te midde van aantygings dat Zikalala vertroulike dokumente gelek het.

SAA-dwelmklagte laat vaar

Britse owerhede het die dwelmverwante klagte teen 15 SAA-bemanningslede in Londen laat vaar.

Hulle is aangekeer toe 50kg dagga en kokaïene na bewering in hul bagasie gevind is. Geen klagtes sal teen enigeen gelê word nie, aldus Sarah Uys, ’n SAA-woordvoerder.

Dief met R10 miljoen se juwele vort

’n Dief het sowat R10 miljoen se items uit ’n V&A Waterfront juwelierswinkel buitgemaak.

Die man het Harris Jewellery sowat 15 minute voor toemaaktyd binnegekom en aan winkelassistente gesê hy soek ’n verloofring. Ná hulle hom voorbeelde gewys het, het hy ’n vuurwapen uitgepluk en hulle beveel om sy sak vol juwele te maak.

Die man is beskryf as slank, “buitelands” en met ’n baard. Polisie het foto’s van hom by lughawens en hotelle versprei.

Huiswerker verdrink

Die lyk van ’n huiswerker, 47, is in die swembad van die huis in Centurion, Pretoria, waar sy gewoon en gewerk het, gevind.

Volgens die huiseienaar het sy kind die lyk sien dryf en om hulp geroep. Nooddienste is ontbied, maar sy is dood verklaar.

Tiener doodgesteek

’n Seun van 16 is deur ’n skare in Khayelitsha doodgemaak, wat kommer by die polisie laat posvat oor die gemeenskap wat die reg in eie hande neem.

Die tiener is etlike male gesteek. Die skare het hom en sy vriend daarvan beskuldig dat hulle die vorige dag by ’n rooftog betrokke was.

Enigeen met inligting oor die voorval kan konstabel Sakhiwo Mteyise kontak op 079 880 9858 of 021 360 2387.

Bestuurder deur baksteen getref

‘n Kaapstadse vrou is beseer nadat ‘n baksteen na haar motor gegooi is en haar voorruit stukkend gegooi is.

Sy was onderweg op die N2 buite Kaapstad naby Khayelitsha toe sy ‘n harde geluid gehoor het en haar kop seergeraak het. Sy het egter haar stuurwiel vasgehou en aanhou ry tot sy by ‘n familielid se huis gekom het wat haar hospitaal toe geneem het.

Polisie het gewaarsku dat voorvalle van klipgooiery steeds plaasvind op die N2 en dat mense versigtig moet wees en nooit langs die pad moet stilhou nie.

Seiljag versper snelweg

Durbanse motoriste op pad werk toe Donderdagoggend was verbaas om ‘n seiljag in die middel van die N3 aan te tref.

Die seiljag het veroorsaak dat slegs een-en-‘n-half lane oop was vir verkeer aangesien die boot drie lane blok, wat groot verkeersknope veroorsaak het.

Dit is nie duidelik hoe die boot van die sleepwa geval het of hoe lank dit gaan neem om dit te verwyder nie.

Moordenaar 'het blankes gehaat'

'n Man wat sy slagoffers met ‘n warm strykyster gemartel het, is vir 154 jaar tronk toe gestuur deur die Johannesburgse hooggeregshof.

Mzwandile Twala is ook skuldig bevind aan die moord op ‘n polisieman. Hy is altesaam skuldig bevind op 20 klagtes van moord, poging tot moord, roof, aanranding en poging tot verkragting vir misdade wat oor ‘n tydperk van twee maande in 2007 gepleeg is.

Twala het sy slagoffers gemartel nadat hy deur die dakke van hul huise in die suide van Johannesburg ingebreek het. Regter Nigel Willis het gesê dit was duidelik dat Twala wit mense gehaat het.

Wes-Kaap kan grond terugkry

Die Wes-Kaapse regering gaan waarskynlik die grond terugkry wat oorgedra is na die ANC kort voor die verkiesing.

Premier Helen Zille het Dinsdag in die provinsiale wetgewer gesê hulle het regsadvies ingewin oor die saak en dat prokureurs vir haar gesê het daar is ‘n goeie kans dat die grond teruggegee sal word.

Sy het gesê dit dui op sigself dat die proses nie regmatig was nie.

Man in kattebak doodgeskiet

Die liggaam van ‘n 48-jarige man is gevind in sy motor se kattebak in die Randburg Square parkeerarea Woensdag. Hy is doodgeskiet.

Sekuriteitswagte het die polisie in kennis gestel nadat hulle ‘n skoot gehoor het. Hulle het gaan ondersoek instel en bloed by ‘n motor sien uitdrup.

Die man is na die hospitaal geneem maar hy is later oorlede.

Wednesday, 10 June 2009

Bobbejane maak amok

Twee bobbejane het deur die dak van ’n huis in Constantia gebars en twee kinders en hul oppasser getraumatiseer agtergelaat na hulle vir ’n uur en ’n half onder ’n tafel vir die diere weggekruip het.

Linda Lurie, eienaar van die huis, sê ’n trop bobbejane van 50 of 60 bly ’n paar dae al in ’n veldjie langs haar huis, wat grens aan die Groot Constantia-wingerde. Sy sê die bobbejane het op en af gespring op ’n deel van die Perspex-dak toe dit breek en twee bobbejane deur die dak val tot in ’n bad. Hulle het die kombuis gestroop op soek na kos.

Ander troppe het in die omgewing amok gemaak deur ’n sementdam te breek en ’n huis te beskadig.

Misdaadpaar gevonnis

Die twee mans verantwoordelik vir ’n misdaadvlaag in Ivory Park is tot lewenslange tronkstraf in die Tembisa Landdroshof gevonnis, aldus die polisie.

Sifiso Sikhakhane, 21, en Bongani Mdakane, 25, is op sewe aanklagte van huisbraak, verkragting en aanranding skuldig bevind.

Hulle het onder meer in een nag in 2006 ’n 40-jarige vrou aangerand en verkrag en by ’n ander huis die inwoners van geld beroof en twee vroue verkrag.

Bomdreigement by Luthuli House

Die ANC-hoofkwartiere by Luthuli House in Johannesburg is ontruim ná ’n bomdreigement.

Volgens woordvoerder Ishmael Mnisi is die dreigement omstreeks 10:30 ontvang. Teen die middaguur was die polisie steeds besig om die gebou te deursoek.

Sesjarige glo ontvoer, verkrag

’n Sesjarige meisie van Philippi is na bewering ontvoer en verkrag.

Volgens die kind se tante het 'n man die kind van waar sy met haar tweelingsuster gespeel het, na sy motor gelok deur haar geld aan te bied om vir hom ’n sigaret te koop. Die man, nog op vrye voet, het volgens die tante met die kind weggery, haar verkrag en in ’n nabygeleë oprit agtergelaat. Sy word in die Rooikruis Kinderhospitaal behandel.

Umlazi-onderwysers ondersoek

Die Departement van Onderwys het ’n onafhanklike aanklagspan aangestel vir sy dissiplinêre aksie teen vyf onderwysers van ’n hoërskool in Umlazi, wat beskuldig word van seksuele verhoudings met vroulike leerders.

Die span word gelei deur Mimi Memka van Memka and Associates en daar word verwag dat klagtes teen die onderwysers voor die einde van die week opgetrek sal wees.

LUR vir Onderwys Senzo Mchunu het gesê die departement keur die onderwysers se beweerde aksies sterk af, maar dat hulle sal wag op die uitslag van die ondersoek.

Uitsettingsbevel vir 20 000

Die grondwetlike hof het Woensdag bevind dat 20 000 inwoners van die Joe Slove informele nedersetting op die Kaapse Vlakte die area moet verlaat en dat ander behuising vir hulle gevind moet word.

Hoewel die oorspronklike uitsettingsbevel van die hooggeregshof steeds staan, het die regters van die grondwetlike hof bevind dat ander behuising vir hulle gevind moet word.

Die hof het ook bevind dat 70% van die nuwe formele huise wat op die grond gebou sal word, toegestaan moet word aan voormalige inwoners van Joe Slovo.

Verandering vir Gauteng belowe

Opposisiepartye het gesê die Gautengse Premier, Nomvula Mokonyane, het ‘n sterk toespraak gelewer by die opening van die provinsiale wetgewer.

Mokonyane het gesê daar sou verandering in die provinsie wees en het belowe om sterk op te tree ten opsigte van korrupsie. Sy het gesê sy verwag harde werk van haar ministers en het gewaarsku dat staatsamptenare mense moet help en nie uitbuit nie.

Sy het belowe om aandag aan skole en gesondheidsdienste te gee en het gesê Chris Hani-Baragwanath hospitaal moet nie net die grootste maar die beste hospitaal wees.

Man verskyn vir R52m dwelms

‘n Mosambiekse man het in die hof verskyn nadat hy gevind is met meer as R52m se heroïen.

Emmanuel Memuse, 35, is met ‘n ander man gearresteer by die Lebombo grenspos tussen Suid-Afrika en Mosambiek. Die dwelms was versteek in ‘n vals kompartement binne ‘n vragmotor wat ou meubels en motoronderdele vervoer het.

Die twee mans het beweer dat hulle nie geweet het daar is dwelms in die vragmotor nie.

Afgeknoude seun wou selfmoord pleeg

‘n KwaZulu-Natalse ma het gesê haar seun het probeer selfmoord pleeg nadat hy deur seuns by Pinetown Boys High afgeknou is. Hulle het glo uitgevind dat hy gay is en het sy lewe miserabel gemaak en hom onder andere onderstebo by ‘n balkon laat afhang.

Sy het gesê die skool wou nie haar of haar seun help nie en het gesê sy moet hom kerk toe neem omdat hy anders was.

Dit is die derde voorval wat gerapporteer is oor Pinetown Boys High. Die skoolhoof, Dave Aitken, het gesê die skool se bestuur wil met die onderwysdepartement vergader.

Steun sterf na 'steek-steek'

‘n 12-jarige seun van die Kaapse Vlakte, Michale Albrecht, is dood nadat hy met ‘n mes gesteek is deur ‘n vriend. Hulle het glo ‘n speletjie, “steek-steek” gespeel.

Albrecht is dood by Groote Schuur hospitaal en ‘n 12-jarige seun is vir moord gearresteer.

Albrecht se ma het gesê die familie was geskok en haar drie dogters moes berading ontvang na hul enigste broer se dood.

Tuesday, 09 June 2009

Unie kritiseer vloot en lugmag

Die Departement van Verdediging sê hy sal nie ongegronde aantygings teen die hoof van die SA Vloot duld nie.

Dit volg ná ’n berig in die Cape Times wat sê die SA Unie vir Sekuriteitsmagte (Sasfu) het die Vloot-hoof Refilu Johannes Mudimu daarvan beskuldig dat hy weier om president Jacob Zuma te eer, glo omdat Zuma "nie ’n opgeleide man is nie".

Sasfu het ook gesê die Vloot ondervind probleme omdat Mudimu “se visie opgeraak het” en dat die Lugmag “briljante swart studente-vlieëniers faal” omdat dit nog deur “rassiste van die apartheidsera” regeer word.

Peiling wys MIV-programme werk

Die voorkoms van MIV onder kinders (2-14) het gedaal van 5.6% in 2002 tot 2.5% in 2008, aldus ’n nasionale peiling.

Volgens dr Olive Shisana van die Menslike Wetenskappe Navorsingsraad kan dié daling waarskynlik toegeskryf word aan die suksesvolle implentering van MIV-intervensies.

Meer jong mans tussen 15 en 24 gebruik kondome – ’n 57% verhoging tot 87%. MIV onder die ouderdomsgroep 15-49 het in dieselfde tydperk gedaal in die Wes-Kaap, Gauteng, Noord-Kaap en Vrystaat, maar ’n stygings is aangeteken in KZN (10.1%), Oos-Kaap (5%), Noord-Wes, Mpumalanga en Limpopo.

Zuma se plan duur

Suid-Afrika se plan om miljoene werksgeleenthede te skep sal die land R10 miljard oor die volgende drie jaar kos, aldus Minister van Handel en Nywerheid, Rob Davies. President Jacob Zuma het dié inisiatief in sy staatsrede bekend gemaak.

Bykomende befondsing sal geïdentifiseer word om die impak van dié insiatief te verhoog, soos SA poog om sowat 500 000 werksgeleenthede teen Desember te skep, sê Davies. Die huidige werkloosheidsyfer is 23.5%.

‘Amateurs’ ontvoer hoteleienaar

’n Kaapstadse sakeman, 72, is deur twee gewapende mans in Houtbaai ontvoer en later vrygelaat ná ’n afkoopbedrag betaal is. Die hoteleienaar se familie het gepleit dat sy identiteit beskerm word.

Hy is in die oprit na sy huis oorrompel en toe hy nie met geld vorendag kon kom nie, is hy en sy huiswerker in sy motor gedwing. Hy moes na verskeie plekke ry, aldus sy dogter. ’n Afkoopbedrag van R4 000 kontant is telefonies met sy seun beding, waarna die ontvoerders gevlug het.

“Hulle was amateurs, nie professioneel nie,” meen die dogter.

Wakker polisie fnuik rooftog

Polisie aan die Suidkus het ’n kontantrooftog gefnuik en drie verdagtes doodgeskiet.
’n Polisieman is ook in die skietvoorval beseer, maar is tans in ’n stabiele toestand.

Vyf gewapende mans het twee sekuriteitswagte, wat geld by die Umgababa Shell Ultra City opgelaai het, oorrompel, aldus polisiewoordvoerder Vincent Pandarum. Die offisiere het op die toneel verskyn terwyl die rooftog gebeur het.

Die Eenheid vir Georganiseerde Misdaad in Port Shepstone het besighede in die area die afgelope tyd dopgehou ná polisie ’n wenk oor ’n moontlike rooftog ontvang het.

Koue weer vir Gauteng voorspel

Daar is geen twyfel daaroor nie – die winter het aangekom in Suid-Afrika. Die Drakensberge lê toe onder die sneeu en Gauteng is nat en koud met koue toestande wat tot die naweek sal duur.

Weervoorspellers het gesê ongewone nat toestande sal gepaardgaan met koue en winderige weer in Gauteng. Die temperature sal nie hoër as 15’C styg nie.

Die Automobiel Assosiasie van Suid-Afrika (AA) het gewaarsku dat bestuurders versigtig moet wees aangesien die paaie baie gevaarlik sal wees.

Oudrugbyspeler sterf na aanval

‘n Voormalige provinsiale rugbyspeler, Andries Pieters, is dood nadat hy aangeval is deur vier mans by die Carnival City-kasino in Brakpan.

Pieters, 39, sy vrou en twee vriende het ‘n Steve Hofmeyr-vertoning bygewoon en op pad huistoe het ‘n groep mans sy vrou, Lizette, beledig en hy het met die mans begin stry.

Die mans het hom toe aangeval, geskop en geslaan terwyl sy geskokte vrou toegekyk het. Hy is hospitaal toe geneem met ernstige breinskade.

Vier mans is gearresteer en sal in die hof verskyn.

Regter dalk vermoor

Die polisie ondersoek die moontlikheid dat ‘n Kaapse waarnemende regter, Patrick Maqubela, vermoor is.

Dit was oorspronklik vermoed dat hy aan ‘n hartaanval dood is, maar ‘n nadoodse ondersoek kon nie die oorsaak van sy dood vasstel nie.

Die polisie ondersoek nou die moontlikheid dat ‘n misdaad gepleeg is. Die 60-jarige regter is dood aangetref Maandagoggend in sy Seepunt woonstel.

Boesak herskryf hoofstuk

Allan Boesak herskryf ‘n hoofstuk van sy nuwe boek nadat die voormalige minister van finansies, Trevor Manuel, aangedring het daarop dat enige verwysing na hom of sy familie, verwyder moet word.

Die uitgewers van die boek, Joho, het na samesprekings met Manuel se prokureurs, hierop ooreengekom.

Die boek, getitel Running with Horses: Reflections of an Accidental Politician, sou hierdie week verskyn het en verwys na bewering na geld wat Manuel sou ontvang het van sy Stigting vir Vrede en Geregtigheid. Boesak het gesê hy is “diep teleurgesteld” deur die verwikkeling.

Bergklimmer in Kpst gered

‘n Man wat vermoedelik ‘n hartaanval gehad het Maandagaand, is deur reddingswerkers van Leeukop afgedra op ‘n draagbaar.

Die man het glo halfpad opgeklim teen Leeukop toe hy simptome van ‘n hartaanval gehad het en reddingswerkers ontbied het.

Hy is na ‘n 4x4 gedra en van hier na ‘n ambulans geneem waar hy mediese behandeling ontvang het.

Monday, 08 June 2009

Sneeu in Oos-Vrystaat

Die Automobiel Assosiasie het berigte ontvang van sneeu in die Oos-Vrystaat en die noordelike Drakensberge.

’n Sneeuval van 3 cm op die N3 tussen Harrismith en Van Reenen tesame met ysreën maak padtoestande uiters gevaarlik. Sig is swak en die pad is glad. Die pad tussen Kestel en Harrismith word ook geraak.

Die AA sê motoriste moet baie versigtig bestuur. “Ry stadiger, hou jou kopligte aan en sorg dat jou volgafstand minstens 10 sekondes is,” sê Gary Ronald, die AA se woordvoerder.

Tieners verkoop boeties, sussies vir seks

Wes-Kaapse tieners verkoop hulle jonger boeties en sussies aan vriende vir groepseks, sê Tanyan Gradwell van Metamorphic Adventures, ’n plaaslike nie-regeringsorganisasie.

Metamorphic Adventures het gevind dat kinders tussen 14 en 18 vriende oornooi vir groepseks met hulle boeties en sussies of niggies en nefies, wat soms net 11 jaar oud is.

Die ouer kinders gebruik soms die geld vir die huishouding, maar meestal vir dwelms en drank.

Dit gebeur glo gewoonlik tydens skoolvakansies wanneer die ouers werk en die kinders verveeld by die huis sit.

Gaan vloothoof afgedank word?

Die weermagvakbond Sasfu het geëis dat die hoof van die Suid-Afrikaanse vloot, viseadmiraal Johannes Refiloe Mudimu, afgedank word omdat hy glo weier om president Jacob Zuma te steun.

Volgens gerugte het Mudimu glo vir vlootpersoneel gesê hy voel Zuma "het nie kwalifikasies nie" en dat hy daarom nie die president sal steun nie.

Die departement van verdediging het gesê hulle sal eers die saak met Mudimu bepreek voor hulle ’n verklaring uitreik.

Selfone maak letterlik jou senuwees klaar

Jou selfoon kan nie net jou gehoor beskadig en jou aan gevaarlike bestraling blootstel nie, dit kan jou ook ‘selfoonelmboog’ gee.

Gebuikers wat hul selfone te lank vashou, loop gevaar om hierdie pynlike toestand op te doen.

As jy jou elmboog te skerp en vir te lank gebuig te hou, ooreis jy een van die groot senuwees. Dit kan prikkels of ’n lam gevoel van die elmboog tot in die vingers veroorsaak.

Ortopediese spesialiste sê hulle behandel al hoe meer mense vir dié toestand, en raai selfoongebruikers aan om gereeld hande om te ruil terwyl hulle praat.

Gautengers gaan dié week bibber

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens gaan die koue wat stelselmatig sedert die naweek sy pad noorde toe gevind het, vandag in alle erns in Gauteng toeslaan.

Weervoorspeller Elke Brouwers se raad is: “Trek warm aan. Baie warm.”

Dit gaan nie net koud wees nie, daar is ook ’n 60% kans op reën in Gauteng. Die temperatuur sal na verwagting wissel tussen 10 en 15 grade, maar ’n redelike sterk wind sal dit nóg kouer laat voel.

Die koue weer sal eers Donderdag of Vrydag effens opklaar.

Kaapstad metropolisie "swakste in SA"

Die Stad Kaapstad se metropolisie is tans een van die mees onstabiele munisipale departemente in Suid-Afrika, is bevind.

Navorsing toon dat Kaapstad se metropolisie tussen 2007 en 2008 “gesukkel het om hulle voete te vind”.

Die stad se hoof van veiligheid en sekuriteit, Richard Bosman, het gesê sekere van die feite is waar, maar dat sommige ook uit verband geruk word.

Volgens Bosman het die metropolisie nou hul voete gevind, en funksioneer die eenheid met sukses.

Besoedelde water veroorsaak dood

Die aantal mense wat in Mthatha in die Oos-Kaap dood is nadat hulle besoedelde water gedrink het, staan nou op vyf.

Nog twee mense is dood, nadat drie mans die afgelope twee weke dood is as gevolg van die besoedelde water.

‘n Agtjarige kind is een van die oorledenes.

Hulle het almal simptome soos naarheid en maagkrampe gehad voor hulle oorlede is.

Familie van vlugslagoffer deur nog ‘n ramp getref

Die familie van die Suid-Afrikaner Erich Heine, wat dood is in die Air France lugramp, is deur nog ‘n tragedie getref.

Heine se stiefpa, James Douglas Long, 75, is Vrydag oorlede.

Long is met nierversaking in die hospitaal opgeneem dieselfde dag as wat Heine se vlug uit Rio de Janeiro vertrek het.

R200 miljoen om NVG-gebou reg te maak

Dit gaan die belastingbetaler R15 miljoen kos om die geboue wat vyf jaar gelede deur die regering gekoop is om as kantore te dien vir die Nasionale Vervolgingsgesag, op te knap.

Weens “tegniese probleme” is die gebou onbewaak gelaat en ernstige herstelwerk word nou benodig.

Die NVG het hierdie week aangekondig dat die perseel, die Innes Kamers in Pritchard Straat, ernstige opknapping benodig.

Die Gautengse vervolger werk nou vanuit die ‘n gebou regs lang die Johannesburg Hoërhof.

Gauteng premier stuur duidelike boodskap uit

Die bedanking van Nomantu Nkomo-Ralehoko, die Gauteng LUR vir landbou en plaaslike ontwikkeling, het ‘n waarskuwingsein deur die land se rykste provinsie gestuur.

“Moenie met die reëls mors nie” was die duidelike boodskap van Premier Nomvula Mokonyane.

Indien Nkomo-Ralehoko nie Vrydag vrywillig bedank het nie, sou Mokonyane haar afgedank het.

Dit kom nadat Nkomo-Ralehoko ‘n Mercedes-Benz ML63 AMG in ontvangs geneem het sonder om “die korrekte prosedures te volg”.

Saturday, 06 June 2009

Mans in hegtenis ná rooftog

Vier mense is in hegtenis geneem ná ‘n rooftog in Willowvale waartydens ‘n polisieman en vier vermeende rowers dood is.

‘n Polisiewoordvoerder sê die rooftog het Donderdag by ‘n pensioenbetalingspunt in Mpozolo plaasgevind waar inspekteur Mzawamandla Sibeko, 44, doodgeskiet is. Die mans is in hegtenis geneem ná ‘n uitgebreide soektog en die polisie het beslag gelê op ‘n geweer en ammunisie.

Duisendes vier fees in KZN

Meer as 20 000 mense is in Nkandla in KwaZulu-Natal byeen om die inhuldiging van Jacob Zuma as president te vier.

Ministers, sokkeradministrateurs, sakelui en Zuma se drie vroue is van die eregaste wat die geleentheid bywoon. Die Nxamalalastam het 25 beeste vir die geleentheid geslag.