‘n Bekende dokter van Durban sê dit is gewoonlik nooit nodig om ‘n pasiënt met hoë bloeddruk in ‘n hospitaal te laat opneem nie.
“As ‘n pasiënt bereid is om met dokters saam te werk en ‘n gesonder leefstyl aan te kweek, kan hoë bloeddruk goed buite ‘n hospitaal beheer word,” het Dr LI Robertson van Parklands Medical Centre in Overport, Durban in ‘n sterk brief aan die Weekend Argus-koerant gesê.
Shaik is 12 dae gelede op mediese parool vrygelaat, nadat hy minder as 3 jaar van sy 15-jaar tronkstraf vir korrupsie en bedrog uitgedien het.
Die vrylating het ‘n storm ontketen waarin mense glo dat die owerhede hom spesiale behandeling gee.
Robertson skryf dat hy in sy 50 jaar as dokter ongeveer 10 000 pasiënte met hoë bloeddruk behandel het, en dit nog nooit nodig was om ‘n pasiënt in ‘n hospitaal te laat opneem nie.
“Indien die pasient saamwerk deur die nodige medikasie te neem en sy leefstyl verander deur gewig te verloor, op te hou rook en drink en gesonder te eet, is dit geensins nodig nie.”
Daar is gerugte dat Shaik gerook het terwyl hy in die hospitaal was en ook gereeld ongesonde gemorskos by die tronk laat aflewer het.